Kom ons dink nou baie groot

potch herald logo

Die afgelope tyd was daar heelwat verwikkelinge vandat die Jomo Cosmos-sokkerspan van Johannesburg hul wedstryde in Potchefstroom speel.
Olënpark, histories die tuiste van die destydse Wes-Transvaal Rugby-unie en tans die Luiperds, word nou gereeld vir sokker ook aangewend.
Tans is daar planne dat bogenoemde klub ’n sokker-akademie in die stad wil vestig. Deel daarvan is dat die Potch Dorp Rugbyklub, soos die Luiperds, hul geriewe met dié akademie sal moet deel.
Dit is blykbaar ook hoogs waarskynlik dat die klub planne het om permanent hier te vestig en dus onder meer kantore gaan benodig.
Die gebruik van geriewe in en om Olënpark, tradisioneel rugbywêreld, ook vir sokker, word dus bekyk.
Terwyl dié planne op die tafel is, is dit ’n goeie geleentheid om sommer na die moontlike ontwikkeling van ’n hele “sportdorp” te kyk.
Die hele stuk grond waarop Olënpark, Potch Dorp Rugbyklub, die rolbalbane daarnaas, die atletiekstadion, tennisbane en die swembad is, leen hom uitstekend tot die ontwikkeling van ’n “alles-onder-een-dak” sportkompleks.
Daar is met gemak plek om die swembad te vergroot tot Olimpiese standaard en daar is plek vir ’n netbalkompleks, om net nog een groot sportsoort te noem.
As mens groter wil dink is daar plek om huisvesting te bou, ’n gym, ’n sportkroeg/kuierplek en ’n fietsrybaan.
Die hele kompleks sal van Potchefstroom die ware sporttuiste van Noordwes, maar selfs baie wyer as die provinsie, maak. Dit is gerieflik naby die N12 en langs die hoofspoorlyn na die res van die land.
Kom ons dink groot!

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top