Uit my dagboek: Nuwe pa: Dit is nie die ‘movies’ nie

Wanneer mens ‘n fliek sit en kyk, en die babas loop of praat vir die eerste keer, word dit uitgebeeld as die keerpunt in daardie mense se lewens.
Asof daar engele uit die hemel sing terwyl hulle ’n lig op die kind skyn. My vrou het die gevoel beaam, dit is presies hoe sy dit onthou. Dalk was ek te bot om dit agter te kom, maar ek onthou dit anders.
Ek onthou die eerste keer wat hy ’n paar tree gegee het, ek onthou ook die eerste keer wat hy ‘dada’ gesê het. Ek onthou dit net nie soos wat dit in die ‘movies’ gebeur nie. Vir my voel dit asof hy nog gekruip het, ’n paar tree gegee het en toe skielik is daar nie keer aan hom nie. Hy loop oral heen. Baie keer wil hy nie eers opgetel word nie. Dit maak die lewe vir ons bietjie moeilik omdat hy gewoonlik wil gaan speel waar hy nie mag nie. Soos by die stoof of in die wasmasjien. Hy het ook nou die sitplekke by die braai area ontdek. Hy klim op teen die sement sitplekke, dan hardloop hy al om die stoep. As hy daar val, val hy omtrent ’n meter tot op die teëls. So pappa of mamma,moet hom fyn dophou. Ek sê steeds sy eerste woord was ‘dada’ maar daar word nog bietjie gestry of dit nie dalk mamma was nie. Dit het ook nie gebeur soos in die ‘movies’ nie, hy het dit gesê, ek het hom dit hoor sê, my vrou stry nog daaroor, maar hy het so vinnig so baie ander woorde geleer dat ons nie lank kon stilsit om sy eerste woord te waardeer nie. Nou is hy ’n klein babbelbekkie wat heeldag loop en praat, hoewel ons nie regtig kan verstaan wat hy sê nie.
Ek is seker elke ouer ervaar dit anders, maar as jy gedink het dit is soos wat ’n film dit uitbeeld, dan gaan jy teleurgesteld wees. Dit is nie dat dit nie spesiaal is nie, dit gaan net so vinnig verby voordat jy soos ’n mal mens agter ’n kind moet hardloop wat dink dat hy die beste tyd van sy lewe in die middel van die pad gaan hê.

  AUTHOR
Dustin Wetdewich
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top