Hoe sê ore – 10 Julie 2015

Hoe sê ore

Jaag soos jy wil

Ore hoor daar is alweer verander aan die spoedbeperkings op die N12 naby Potch op pad na Klerksdorp. Soos Ore hoor kan mens nou in een rigting vinniger ry as in die ander rigting en waar dit altyd op een plek 80km/u was, is dit nou skielik 60km/u. En Ore kan hom net voorstel hoe die spoedvangers nou weer daar baljaar. Ore dink die stad en die provinsie se spietkops moet ’n slag saam voorraadopname hou, want dis duidelik dat die provinsie se spietkops oorgenoeg spoedmeters het. Iets waaraan Potch se spietkops duidelik ’n tekort het. Of anders is die spoedmeters stukkend, want in Potch kan jy jaag soos jy wil!

Neusie verby?

Ore se rugbyvrinne lyk maar taamlik bekaf nadat die Griekwas die Luiperds verlede Saterdag so goed afgestof het. Ore dink die Griekwas het die Luiperds met ’n slap riem gevang. Die Griekwas het aspris teen Grens verloor om die jong Luiperdspan gerus te maak. En dit het gewerk! Die jong manne het nou ’n voorsmakie gehad van wat op hulle wag as hulle Curriebeker wil speel. Groot blou-baard harde manne.
Hopelik nie neusie verby.

Gym-reëls

Ore se gym-vrinne vra of daar nie reëls by Virgin Active is nie. Hulle bedoel nie reëls soos in dat mens nie van die boonste vlak af in die swembad mag spring en so aan nie, hulle bedoel iets soos goeie maniere. Iets soos dat mens nie op ’n oefenapparaat kan sit en musiek luister of sit en gesels terwyl iemand anders brand om daar te oefen nie. Of op twee apparate gelyk oefen nie.

Wil hulle nie wen?

Ore wou dit lankal vra. Hoe was daar net drie Gimmies in die Cravenweekspan, maar hulle speel eersdaags in die eindstryd in Noordwes. Dieselfde het so 4 jaar gelede met Volkies gebeur. Hulle was toe Beeld-trofee wenners! Dit lyk my nie hulle wen nie, eerder die skole gelukkig hou.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top