Binnenshuise netbalbaan ’n moet

potch herald logo

Potchefstroom het baie goeie sportfasiliteite.
Ons dink net aan die Noordwes Krieketstadion wat as een van die bestes in die land beskou word, die astro hokkievelde, die Puk/McArthur atletiekstadion, die tradisieryke Olënpark rugbystadion, wat ook as sokkerstadion gebruik word, ’n puik gholfbaan en talle rugby- en netbalvelde by die Puk en skole.
Dit is een van die redes waarom hier soveel sportbyeenkomste is. Dink net aan al die Puk-skolebyeenkomste, die Varsitybeker rugby- en krieketwedstryde en onder meer die baie bekende Coke-netbaltoernooi wat jaarliks deur Volkskool aangebied word.
Dié byeenkomste bied onberekenbare waarde in goeie publisiteit vir die stad. Veral waar televisie-uitsendings plaasvind soos soms by rugby en krieket, maar meer met Varsitysport.
Daar is egter ’n leemte in die stad se sportmondering en dit is ’n binnenshuise netbalbaan. Die stad lewer lank reeds puik netbalspelers.
Die NWU is verlede jaar se Varsity netbalkampioene, Noordwes (en dit is Potchefstroomse spelers) was verlede jaar die SA wenners, Volkies en Gimmies en ons laerskole lewer gereeld SA wenners. Gimmies was vanjaar die tweede beste netbalskool in die land.
Vanjaar kon die stad geen tuiswedstryd in die Varsity netbalreeks sien nie omdat hier nie voldoende binnenshuise geriewe is nie.
Ons vra dat die stadsraad en NWU hande neem om so ’n gerief hier te bou.
Die stad skuld dit aan sy netbalspelers (dit is die grootste vrouesport in die land met ongelooflike potensiaal vir sportontwikkeling). Dit gaan nog byeenkomste, ook internasionaal, hierheen bring.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top