Netbalkroon meer as net sportsukses

potch herald logo

Ai, hoe lekker is dit nie om te midde van oorgenoeg neerdrukkende nuus, so ’n lekker voorbladfoto te hê waar dit jubel en juig oor die Pukke se Varsity-netbalkroon?
Dit was loutere plesier om in die huidige tyd van onluste en ontevredenheid op kampusse landwyd te sien hoe sport steeds ’n brugbouer is en die Pukke almal stil gespeel het nie.
Net oos verlede jaar toe die Pukke ook nie die gunsteling was om te wen teen Maties nie, was hulle vanjaar nog minder die gunsteling om Tukkies te wen.
Tukkies het in hul opbou na die finaal hul teenstanders van die baan af gespeel en die dagblaaie het net oë vir Tukkies gehad. Dit was net Tukkies voor en Tukkies agter.
En kom ons wees nou maar eerlik, op die uitslae van die uitspeelwedstryde kon dit nie anders as dat Tukkies die span was om te wen nie. En toe doen die komkommerkoel Pukke-span dit! Die druk was op Tukkies en dis al wat die Pukke en hul briljante afrigter, Dorette Badenhorst, wou gehad het. Baie geluk Pukke, nou staan nie net die Varsity rugbytrofee in die kas nie, maar ook die netbal!
Die wen was ook meer as net vir Puk- sport ’n prestasie. Die bemarkingswaarde wat dit vir Puk inhou is eintlik onmeetbaar.
Sukses bou sukses en lok suksesvolle, ernstige en gemotiveerde studente wat graag wil assosieer met ’n suksesvolle universiteit.
Dit sal jammer wees as daar enigsins gekarring word aan die resep wat die Puk-kampus tans so suksesvol maak op en van die sportveld af.
Die Noordwes-Universiteit, maar spesifiek die Puk-kampus, se sukses dra ook by tot die vooruitstrewendheid van Potchefstroom en dit maak dit sommer nog lekkerder om ’n Potchefstromer te wees.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top