Herald Kerswense

Die Herald het ‘n totaal van 63 Kerswense ontvang. Ons wil graag soveel wense as moontlik laat waar word en vra mense vanuit die gemeenskap om te help. Indien iemand een van die wense kan laat waar word, of net wil help om ‘n wens te laat waar word, kan ‘n e-pos na marianke.saayman@media24.com gestuur word. Enige donasies of finansiële ondersteuning om van die wense te laat waar word sal ook baie waardeer word.

Wens #1

Ek skryf namens iemand en ek wil graag hê dat hy iets moet kry waarvoor hy al lank wens, vir my liefste man. Drie jaar terug het ek hom ontmoet, een van die wonderlikste mans op Aarde en ek kan net vir Liewe Jesus baie dankie sê dat Hy hom op my pad gestuur het. So het ons verloof geraak en toe ons weer sien is daar ‘n boepie wat begin groei, so ons het die trou uit gestel sodat ons eers al die mediese rekeninge kan dek en vir ons liefste poppie goed kan begin koop. In Augustus die jaar het ons die knoop deur gehaak!!  My man werk regtig hard en ek sien dit raak en ons sê elke dag dankie dat hy so mooi na ons kyk, maar ek kan sien hy’s regtig moeg en my wens aan hom is dat ons op ‘n vakansie see toe kan gaan sodat hy bietjie net kan weg kom, maar ons het nooit die finansies nie. Hy werk van Maandae tot Sondae en ons sien hom net in die aande. So my wens vir hom is dat ons as familie net bietjie kan weg gaan want ons het dit meer as drie jaar laas gehad.

Wens #2

Ek wil graag my liefde help. Ek sit met my hande in my hare. En sy is al by moed verlore verby. Sy is nou 76 jaar oud. So twee jaar gelede was haar karretjie gesteel. ‘n Man hier in Potchefstroom het die kar van die skuldige gekoop, wetende dat dit ‘n gesteele kar is. En hy is nogals ‘n voertuig handelaar. Die het die kar aan ‘n handelaar in Pretoria verkoop. ‘n Afgetrede onderwys hoof, het daar die voertuig gekoop. Toe hy vermoed dis ‘n gesteelde voertuig, het hy dit dadelik teruggeneem na die handelaar waar hy dit gekoop het. Die man is met ‘n ander voertuig beloon, en haar voertuig is deur die SAP gevind en aan haar terug besorg. Die man van die voertuig onderneming in Potch, het die papiere van die voertuig van die een in Pretoria gekry, en die voertuig geproxy en op sy besigheid laat registreer. Dat my vriendin daarna vra, hardloop hy met dit na sy prokureur hier in Potch. Die kar se lisensie het al 4-5 maande gelede verval. Die speurder wat met die saak verbonde is, is NOOIT op kantoor nie en permanent met verlof in die Strand. Dit is my Opregte Gebed dat sy gehelp kan word dat sy haar kar papiere kan kry en die lisensie. Sy kan nêrens ry weens die omstandighede.

Wens #3

Ek het 2 wense maar as een waar kan word sal ek die dierbare mense wat dit laat waar word vir altyd dankbaar wees. Net om vinnig vir julle te vertel van my dierbare ma wat toe sy jonger was die kinder siekte polio gehad het en as gevolg van wat verkeerd gegaan het, is my ma gebreklik in haar linker arm. Vir meer as 28 jaar het ek by my ma gebly sonder dat sy iets terug verwag het, nou nog as ek op haar knoppie druk is sy daar vir my, sy het ‘n hart van goud sy help mense waar sy kan. Maar in vandag se lewe is dit moeilik en op die oomblik finansieel druk die lewe my en my man en sukkel ons. My 1ste wens is om vir haar ‘n nuwe kar te kan kry want haar kar gee haar baie probleme en moet gereeld reggemaak word.  My 2de wens is as my ma hulle in Desember vir ‘n week see toe gaan om haar huis vir haar te “renovate”. Wat ek daarmee bedoel is om net haar huis vir haar oor te verf binne en buite en soos om vir my ma binnehuise versiering te maak en dan laaste my ma hulle wil so graag in hul kamer ‘n badkamer bou maar finansies laat hulle nie toe om enige van die bogenoemde te doen nie. Wel dis my 2 grootste wense en sal vir ewig dankbaar wees as net een kan waar word en ek dit vir my ma kan gee, sodat sy sien dat dit wat sy doen baie waardeer word en raak gesien word.

Wens #4

I am a mom to six beautiful children, five boys and one girl. My three eldest boys are in ML Fick and the three youngest are home with me. We have never really had the funds to buy them Christmas presents. My sons have been begging me to buy them each a bicycle so that they can get to school and back. Most days they have to walk because we don’t have petrol to take them. We stay close to Abraham Kriel kinderhuis. My wish is for them is to each have a bicycle so that they can get to school and back. I am so scared that they are sitting in class hoping I would be able to come and pick them up. The middle one of the three told me the other day when I could pick them up from school that his prayers has been answered. That he was sitting in class and asked God to please let me be able to come and pick them up as he had a rough day that day. We are a struggling family who always stands together.

Wens #5

Ek wil net graag ‘n kerswens vir ‘n seuntjie van 2 jaar en dogtertjie van 10 jaar maak. Hulle pappa is in Februarie oorlede en dit sal die eerste Kersfees wees dat hulle nie geskenke gaan kry nie. Hulle mamma werk nie. Baie dankie vir julle wat aan sulke kinders omsien.

Wens #6

My Kerswens vir Herald is om my man en 3 kinders (6 jaar, 2 jaar en 1 jaar) moet lekker kos en geskenke kry.

Wens #7

My grootste Kersfees wens is om op die spesiale dag ‘n kersete te kan maak vir my kinders en kleinkinders sonder bekommernis oor wat om voor te sit, of waar die geld gaan vandaan kom om te koop.

Wens #8

Ek is amper 70 jaar oud en sukkel finansieel baie. Ek kry n pensioen van R1 000. Gelukkig is my huis klaar betaal en ook my voertuig. Ek het al baie van my meubels verkoop en my dogter help nou en dan met bietjie kruideniersware. My wens vir Kersfees is dat my elektrisiteitsrekening betaal kan word. Ek het al ‘n paar keer in die donker gesit sonder warm water en krag. Ek wil so graag nie weer sulke omstandighede deurmaak vir die Kersseisoen deurmaak nie.
Baie dankie dat iemand omgee

Wens #9

Ek vra dat u asseblief my kinders sal help. Hulle het ‘n tweeling van 4 jaar en ‘n seun van 14. Hulle het niks kos in die huis nie en haar seun gaan Volkskool toe volgende jaar. Sy kan nie skoolklere en registrasie vir die 3 betaal nie. Dan het sy ‘n lang lys van benodighede gekry vir hom vir graad 8 (tablet ook) asseblief mense neem hulle in julle harte en help. Ek bid in die Eer van Onse Vader dat iemand hulle kan help.

Wens #10

Ek is werkloos. Al wat ek vra vir Kersfees is of daar ‘n lewer dokter is wat my kan help. Ek het NASH in my lewer en dit swel erg op. Ek wil graag gesond word.

Wens #11

Hi my Kersfees wens is dat daar iemand is wat my kan help met R 3 000 finasies om my kar reg te maak. Ek is ‘n pa met ‘n gesin en ons sukkel al langer as ‘n jaar om geld bymekaar te maak. Ons kan nêrens gaan nie of as daar nood is moet ons altyd in ander se oë kyk vir hulp. Ons sal ewig dankbaar wees.

Wens #12

Ek is ‘n ouer van ‘n seun van 15 jaar en ‘n dogter van 8 jaar wat graag my kinders se begeertes wil laat waar word. My kinders het baie goed gedoen op skool hierdie jaar en ek is baie trots op hulle. Ek as ‘n enkel ouer probeer my beste om my kinders gelukkig te hou en probeer als in my vermoë om hulle te voed en te kleed. Ek vra graag of daar enige iemand is wat hulle kan seën met geskenke wat hulle kan gebruik in die toekoms. My seun se begeerte is dat ek moet vir hom eendag ‘n laptop koop. My dogtertjie sal enige iets waardeer wat sy ontvang. En dit wat hulle begeer sal ek nie aan hulle kan gee nie. As ‘n enkel ouer wat werk vir n salaris van R2 000 wil ek graag my kinders gelukkig maak met die bietjie wat ek het. Ek sal so dankbaar wees as daar iemand hulle kan seën met enige iets wat hulle gelukkig sal maak.

Wens #13

Een van my heel grootste Kerswense op hierdie stadium is voorsiening vir my 2 seuns se studiekostes.  Albei seuns sal vanaf Januarie 2017 eerstejaar NWU studente wees.  My oudste seun gaan BCom Landbou ekonomie en Risikobestuur swot en die jonste seun sal BSc Wiskunde en Fisika studeer en dan oorskakel na Rekenaar en Elektroniese ingenieurswese. Ongelukkig het ek gedurende Oktober met ‘n skok gehoor dat ek slegs tot einde November hierdie jaar ‘n werk het en dat ek my werk verloor weens afleggings (‘retrenchment’).  Dit het gebeur na die herstrukturering van die maatskappy waarvoor ek die laaste 8 jaar gewerk het en ek kan nie langer vir die maatskappy werk nie. Albei my seuns is akademies sterk en sien baie uit na hul onderskeie studierigtings.  Ongelukkig is studiekostes baie duur en tans weet ons gesin nie hoe ons hulle op Universiteit gaan kry en hou nie. Dit sal wonderlik wees indien daar lede van die publiek is wat ons kan bystaan om ook hul studies te verseker.

Wens #14

Ek wens dat ek my seun in Port Shepstone Kzn kan sien vir Kersfees, sowel as dat my laatlammetjie na sy pappa toe kan gaan vir Kersfees, ook in Port Shepstone, Kzn.

Wens #15

Ek is ‘n enkel moeder van drie kinders, my man is oorlede, dit is geweldig moeilik om hulle groot te maak, en by al die behoeftes van hulle uit te kan kom. Maar ek kan ook dankie sê vir die liewe Heer omdat hulle soms verstaan as daar nie is nie kan ek dit nie gee nie. My hart is altyd seer want ek het ook groot geword met die behoeftes wat ek nooit kon kry nie, en dit is maar vandag nog so. Ons wil amal altyd net ‘n ietsie klein vir hulle kan doen of gee, maar ek kan nie, ek kan nie eers ‘n bord kos soms op die tafel sit nie. Ek is baie dankbaar vir wat ons het of vir wat ons eet elke aand en dat ons ‘n dak oor ons kop het en kan sê dankie liewe Heer vir alles wat hy vir ons doen en gee wand dit wat ons nodig het, het ons. Maar kinders verstaan dit nie, Hulle sien ryk maatjies of al die kinders het sulke mooi goed en hulle het niks of word af gekraak deur die wat baie het. Ek as ‘n ma het self maar niks, nie mooi klere of skoene of ‘n kar nie, ek werk ja vir baie min geld maar ek werk darem ek probeer om van alles die beste te maak al vir 7 jaar wat my man nie meer met ons is nie met sy afsterwe.  Ek sal dit uit my hart waardeer as my kinders iets kan kry vir Kersfees en ‘n lekker groot bord kos en roomys.  Ek sal nie eers om gee vir wat hulle kry nie want ek weet hulle sal tevrede wees met wat hulle kry en so bly wees. Daar is baie wat hulle soek, maar die lys is baie lank.

Wens #16

Goeie Dag Ek vra asseblief ‘n Kersgeskenk vir my antie. Sy woon in ‘n twee vertrek RDP, haar  man is siek en hulle werk nie. Hulle het drie kinders. Kan Kersvader Asseblief help met ‘n kamer vir die kinders en  ‘n badkamer.

Wens #17

Ek is ‘n pensioenaris wat 24/7 op suurstof is, en sal graag ‘n draagbare suurstof masjientjie vir Kersfees wil hê. Op die oomblik bly ek net by die huis. As ek ‘n draagbare masjien het wat soos ‘n handsak oor die skouer gedra kan word, kan ek ook bietjie uit gaan. Ek kan nie een bekostig nie.

Wens #18

Ek het ‘n baie groot wens vir my moeder, sy is ‘n diabeet en bly al die afgelope jare in ‘n stukkende sink huis, ons was besig om vir haar ‘n huis te bou maar weens omstandighede kan ons nie meer aangaan met die huis nie. Dis al wel dakhoogte gebou, maar kort nog ‘n dak, vensters en baie ander werk. My droom en begeerte is om my moeder in ‘n huis te sien uit die koue weer en warm hitte van ‘n stukkende sink huis. As iemand daardie droom kan vervul vir haar sal ons ewig dankbaar wees.

Wens #19

Ek wil as Kerswens en as lewenslange droom graag ‘n cd opneem en ‘n sanger word . Kan julle my Kerswens waar maak?

Wens #20

Ek kan nou elle lange treurmaras hier uitblaker want ons het dit ook nie te breed nie, maar ek dank Vader vir al ons seëninge. My Kerswens is dat almal in Potchefstroom sal saamstaan en die dag sal spesiaal maak vir die vergetenes van die samelewing. Die diere en oumensies. Ek gaan, al het ons nie veel nie, my deel doen en kyk hoeveel kossies ek kan kry vir hulle vir daardie dag. Ek wens ek kon elke dag voorsien en ek glo ek gaan nog want Vader ken my hart en siel.

Wens #21

‘n Kersfees  vir  ons  gesin is en voel nie meer vir ons soos Kersfees nie. Ek was vir lank sonder werk gewees, deur alles wat ons deur is die afgelope 5 jaar kon ek nie eers my familie net vir ‘n naweek weg vat nie. Dit is maar net dat die geld te min was wat ek gekry het. Ek sit met die grootste seer in my hart want my vrou is op n baie vroeer ouderdom met ‘n brein-tumor gediagnoseer waar ek nie eers vir haar medies kan gee nie. Met alles wat daarmee gepaard gaan het sy ook skoliose en osteoperose en die moegheid oorweldig haar baie. Sy is maar net 38 jaar oud met ‘n skelet van ‘n 80 jarige vrou. Ek probeer hard om alles te doen vir haar maar met werk as dieselmechanic kry mens in Potch nie baie goeie salaris nie. My dogter in die ander kant is alles mee ok, sy is veertien jaar oud baie inteligent en ook  ‘n model. Al wat ek wil hê is net vir die Kersfees dat ek net een wens kan kry: dat daar iemand kan wees wat vir haar sal help met draadtjies want haar tande is baie skeef.

Wens #22

Ek is ‘n enkelma en ek kry nie ‘n vaste werk nie. Ek en my kinders beleef al ‘n hele klomp jare ‘n baie slegte tyd finansieel en boonop is my oudste seun ‘n jaar gelede oorlede na ‘n baie lang siekbed aan Sistiese fibrose. Ek het al my kar en meeste van my meubels verkoop vir kos en verblyf. Ek het geen ondersteuningstelsel nie. Ek het nou begin om goeie kwaliteit 2de handse klere te verkoop vir ‘n inkomste. My verskaffer is in Alberton en ek koop die klere aan teen R15 ‘n stuk. So my wens is net om my koskas en vrieskas vol kos en basiese benodigdhede te maak en om voorraad vir my klere besigheid aan te koop.
Ek weet ek verdien ‘n breuk, ek is ‘n goeie, eerlike en hardwerkende mens wat net te veel struikelblokke uitgedeel is. Ek het al die rede in die wêreld om te gaan lê maar ek wil eerder graag ‘n sukses van my lewe maak. Ek kort net bietjie hulp.

Wens #23

My verloofde was Januarie maand in ‘n ongeluk. Sy enkel het baie seergekry, en hy sukkel vreeslik met swelling en pyn as gevolg van die staatshospitaal wat nie kon moeite doen om dit ordentelik reg te maak nie. My wens, my enigste wens, is dat hy ‘n ordentlike dokter kan kry wat bereid sal wees om dit vir hom reg te maak. Ek het nie daardie tipe geld nie. Ek voel hy verdien dit, want hy help almal altyd waar hy kan. Hy staan 9ure ‘n dag op sy voete by sy werk sodat ons kan lewe. Hy verdien dit, want hy sukkel elke aand om te slaap oor die pyn net te erg is.
Wens #24

Ek is ʼn mamma van twee seuns van Amelia. Ek kry ongeskikdheidsgeld. Het ʼn boetie ook soos my seuns. Hulle almal kry R3 000 saam. Ons huur is R2 500 of R2 600 wat bly oor? Ek het die pa gedagvaar vir onderhoud maar die geld moet Amelia toe. My wens is kan iemand my en my familie help en bystaan. Ek skuld op die woonstel geld omdat ek moet vat vir kos en klere ook. Ek het by Helpende Hand om hulp gevra, maar hoor niks van hulle nie. Ek wil die lewe net beter maak vir die drie mans in my lewe. Boetie werk op die Bult by OK en kry elke dag R20 of R45 ʼn dag.

Wens #25

Ek is swanger en weet nog nie watse geslag nie. My wens is baba goed en om in Mediclinic te kraam.

Wens #26

Ek wil graag die wens vir my laat bewaarheid, ek sukkel sedert 2009 met my gesondheid en na-mate ek ouer word raak dit net erger, die staat wil of kan nie juis veel vir my doen nie, behalwe pille voorskryf. Die grootste probleem is my heup of been waarna die hospitaal verwys as ‘n ou besering, ek sukkel met aanhoudende lae rugpyn, sukkel om my regter been te buig en reguit te maak, my vel op my hande bene en voete is bros (verouderde blink vel) ek sukkel ook met my oë, en hoofpyne, duiseligheid, bewerige hande ens. Ek moes my 3 voortande 2 jaar gelede laat trek het en sederdien is ek net by die huis, ek kan geen ordentlike werk kry nie as gevolg van dit, ek is nou meestal by die huis.

Ek is al die afgelope 2 jaar weer in en uit by die staatshospitaal en ek was eers gediagnoseer met arthiritis in my nek, toe stuur hulle my vir ‘n MRI scan waar hulle opgetel het die c4 en c5 disk in my nek het effens geskuif en druk op een van my senuwees. Die dokter het egter gesê my imuunstelsel sal dit opvreet, hulle het ook na my spine gekyk en die mediese terme dermatone of myotone fallout of C1-T1, en vir my antiflamitoriese en pynpille voorgeskryf, maar my toestand vererger net. Ek was ook in Feb die jaar verwys na die oogards toe by die hospitaal, maar wag steeds vir  brille, ons was al 3 keer intussen daar om te hoor of dit al gekom het, maar hul se elke keer ek sal ‘n sms kry as dit gekom het, intussen verswak my oe. Op die oomblik kan ek nie privaat mediese onkostes bekostig nie.

Ek was by ‘n chiropraktisyn in die dorp wat my op ‘n probono basis een keer gesien het, hy het vir my gese my heup-bene het vermoedelik gesluit en my pelvis vermoedelik gedraai, ek is met ‘n verwysingsbrief na die staatshospitaal toe maar hulle wou nie doen wat op die brief gestaan het nie. Ek was ook vir ‘n paar sessies vir my nek by Dr. Chambers, dit het gehelp wanneer ek gegaan het, maar nou word als net erger. Ek is 30 jaar oud en wens dat ek net weer ‘n normale lewe kan lei. Ek het ook ‘n “tattoo” op my arm vanuit my kinder dae wat ek bitter graag wil verwyder.

Wens #27

A single mother wants help for her to surprise her daughter to have a birthday party/present.

Wens #28

My kersfees wens is net om vir my kinders en kleinkinders ‘n heerlike Kersmaal te kan voorberei as iemand kan help om my wens waar te maak sal dit baie waardeer word.

Wens #29

Liewe Kersvader. Graag wil ek jou vra of jy nie vir my skoondogter ʼn pragtige glimlag wil gee nie. Ek het haar nog nooit sien glimlag sonder haar hand voor haar mond nie. Haar tande is swart. Sy is die mooiste 26-jarige jong meisie, mooiste oë, mooiste hare, maar sy is verskriklik selfbewus oor haar tande. Kersvader, gee my skoondogter weer ʼn glimlag asseblief? En as daar kleingeld oorbly, vir my asseblief ʼn bril. Ek wag al ʼn jaar by Potch hospitaal vir ʼn bril. Ek mag nie bestuur sonder ʼn bril, dus is my lisensie al ʼn jaar agter, maar ek sal alles opoffer as ek net een wens mag hê? Help my skoondogter asseblief!

Wens #30

Ek is ʼn werklose enkelouer wat woon met my 61-jarige moeder. Ek het 2 kinders, ʼn 2-jarige dogter en 10-jarige seun. My kerswens is dat ek graag ʼn tent, tafel en stoele wil hê om net my eie kleinbesigheid te begin. Dis my hart se begeerte.

Wens #31

My Kerswens is net kruideniersware en vleis om ook saam met my gesin te geniet, en speelgoed vir ʼn 2-jarige dogtertjie en 10-jarige seun om hulle ook gelukkig te sien.

Wens #32

Ek vra namens ʼn gesin. Die pa het verlede jaar sy werk verloor. Hulle is ʼn gesin van 7 (pa, ma en 5 kinders van pasgebore baba tot 12 jaar oud) wat almal in ʼn vertrek woon so groot soos ʼn enkel garage. Hulle het nie vervoer nie en geen inkomste nie. Ek vra dat iemand asseblief kan help om vir die pa werk te kry. Hy het baie ondervinding in rekenaars en het vir lank op die myn gewerk. Ons het vir hom ʼn ou scooter geleen so hy kan daarmee enige plek in Potchefstroom ry vir werk. Ek vra ook asseblief as iemand dalk doeke en melk vir die baba dogtertjie kan skenk sowel as kos vir die gesin. Indien iemand dalk ʼn geskenk vir die kinders kan skenk sal dit ook baie waardeer word. Die twee seuns is onderskeidelik 11 en 12 jaar oud en die dogters is 4, 2 en 3 maande.

Wens #33

Ek het nie werk nie en is ʼn alleen ouer. Ek kry ʼn staatstoelaag vir die kinders. Ek wil graag net hulle so bietjie bederf en vra asb vir bietjie lekker goedjies en ʼn geskenkie vir elk (hulle het elkeen ʼn brief geskryf met wat hulle wil hê). Enige iets sal hulle hartjies, en myne baie bly maak. Ek bid dat iemand ons kerswens sal waar maak.

Wens #34

Ek is 7 jaar oud en ek hou daarvan om te teken. My mamma werk nie, sy kan dit nie koop nie. Ons sal baie bly wees. (Sy het aan die Herald ʼn prentjie gestuur van ʼn kunsstel wat verskillende potlode, papier, kwaste en verf insluit – sy wil so iets graag vir Kersfees kry)

Wens #35

Ek is 13 jaar oud. Ek hou van radar karre of iets wat met ʼn remote werk. Ons kerk betaal ons huis se huur en my ma het nie ʼn werk of kar nie. Ek soek graag ʼn boot wat op water ry en met ʼn remote werk. (Hy het aan die Herald ʼn foto gestuur van ʼn 36cm R/C Hydro Blaster van R399.90)

Wens #36

My grootste Kerswens nog is dat ek net weer met selfvertroue kan lag. Ek vra hulp met kunsgebid bo in my mond. Ek is ʼn motorwag en verdien nie genoeg nie.

Wens #37

My Kerswens is dat my wens sal waar word met hart en siel. Ek is sonder vervoer vir bykans 5 jaar. Ek mis troues, begrafnisse en wat my die ongelukkigste maak, Kerstye sonder my familie wat in ander dorpe woon. Ek loop of ry duim daagliks werk toe vir 7 dae ʼn week. Finansieel kan ek nie ʼn voertuig bekostig nie.

Wens #38

My wish would be a house for me and my family. I really want a house of my own where we can have more family times and parties so when one day when I leave this world knowing my kids have a roof over their heads and I can be at peace.

Wens #39

Ek wil vra dat iemand asseblief kan help, my man is al ‘n ruk sonder werk. Ons het drie kinders, ‘n dogter van 2 en twee seuns van  7 en 12. Kan u my seën met kos en geskenke. Sal so dankbaar wees, ek voel so moedeloos wil net 1 Kersfees spesiaal maak vir hulle. God sal u seën.

Wens #40

Ek hoop met die wens sal julle my hart se grootste wens waar maak. My seun is 4 jaar oud en soek ʼn fiets vir Kersfees. My dogter is 12 jaar oud en wil so graag ʼn selfoon hê. Met my salaris kan ek nie bekostig om vir hulle te gee wat hulle harte begeer nie. So ek vra mooi maak my ʼn pa wat een keer in sy lewe vir sy kinders iets goeds kan gee. Dit hoef nie nuwe goed te wees nie.

Wens #41

Met die brief hoop ek julle kan my Kersfees wens waar maak. Ek en my man is al twee opsoek na werk. Enige werk, ons is hardwerkend, betroubaar en altyd bereid om te leer.

Wens #42

‘n Pensioenaris van Skemering sal oneindig bly wees vir ‘n bril. Haar handsak is met alles in geroof.

Wens #43

Hallo my wense vir Kersfees is ek wil graag 0 tot 3 maande seuntjie baba klere hê en as daar ‘n moontlikheid is vir ‘n driewiel stootwaentjie, sal dit baie waardeer word.

Wens #44

Ek het ‘n gestremde seun van 16 wat nie kan loop nie, maar wel kan kruip. Dit raak moeiliker om hom in en uit die bad te tel en hy raak nou baie swaar.  Finansieel gaan dit nie goed met ons nie.

Wens #45

Ek is n 38-jarige man met ‘n vrou en ‘n 6-jarige seun. My Kerswens is vir vervoer waarmee ek hom kan skool toe vat. Ek werk, maar vir ‘n klein salaris. Ek het ook nie eers geld vir ‘n opregte Kersete nie. Wat nog te sê vir ‘n gekenk vir hulle. Ek gee nie eers om oor hoe die vervoer ding lyk nie. So lank hy net kan ry, om my kind skool toe te vat,  en weer terug huistoe. Ek is nie kieskeurig nie as daar iemand is wat ons net kan help met ‘n ry-ding, sal ons wens waar word. Ons bly ver van die enigste skool af waar ons kon plek kry vir hom. Dalk ook ‘n gekenk vir hulle. Ek gee nie om oor my nie. Ek vra GROOT ASB.

Wens #46

I’m 34 years old. I am a single parent of three kids (1 boy and 2 girls). I have just been accepted at the NWU to study for a diploma in grade R, my Christmas wish is to have the registration fee of R 7 950.00. going to school will change my life and will ensure that my kids get the better future. Donations will also be appreciated.

Wens #47

My wens vir kersfees is om ʼn kos koopbewys of  ʼn kos mandjie te kan kry vir Kersfees om lekker kos te kan maak vir my en my gesin.

Wens #48

Ek wil graag hê my wens moet waar gemaak word groot asseblief? Ek is ʼn man opsoek na valstande asseblief. Ek kan dit nie self bekostig nie. Dit sal opreg waardeer word as my wens kan waar word.

Wens #49

Liewe Kersvader. Ek is ʼn 9 jarige seuntjie. As dit moontlik is, is my Kerswens om ʼn fiets te kry, groot asseblief en dankie. Dan hoef my ouma nie elke oggend en middag saam met my te loop nie. Sy is bejaard en ek het die wêreld se respek vir haar, sy is my tweede ma wat my omvou met omgee en liefde!

Wens #50

Ek is 6 jaar oud. My wens is ʼn kinder Bybel. Mamma leer my graag van Jesus en ek hunker na my eie Bybel. Mamma sê altyd dat dit mens se enigste ware antwoord op die lewe is. Ek wil graag ook weet of ek dan mag wens dat my boetie, (9 jaar oud) ook ʼn kinder Bybel mag kry. Hy is mamma se rots en weet dat ons soos Goliat deur David verdryf kan word sonder Jesus. “Jesus mag U asseblief my wens seën en bewaar”.

Wens #51

Geagte Kersvader. Ek is ʼn 65 jarige pensionaris man. Is daar nie iemand wat vir my verf kan gee vir Kersfees nie? My huis is 21 jaar laas geverf, binne en buite, asook die dak.

Wens #52

My Kersfeeswens is ‘n ekstra slaapkamer aan my seun se piepklein twee slaapkamer pophuisie sodat boetie en sussie nie meer ‘n kamer hoef te deel nie en sodat ma en pa darem ‘n kamer het waarvan die deur kan toemaak.  Tans kan hulle die bed op enige manier draai, maar die deur kan nie toe nie omdat dit teen die bed vasdruk.  Enige boumateriaal wat nie meer gebruik word nie sal verwelkom word.  Dit maak nie saak as stene verskil nie want die vertrek sal gepleister moet word om by die res aan te pas.

Wens #53

My enigste inkomste is ‘n SASSA-toelaag. Daarom sal ek bly wees as iemand met een van die volgende kan help asb: ‘n paar nommer 3-stapskoene sodat ek weer aan stapgeleenthede kan deelneem; OF ‘n wasmasjien in goeie werkende toestand en groot genoeg om komberse en gordyne ook te kan was. Die een wat ek op die oomblik gebruik dateer uit die vorige eeu, was nie meer skoon nie, en verniel boonop my wasgoed; OF ‘n heel grassnyer sodat my gras weer vir ‘n slag gesny kan word. Selfs al kom iemand net vir my die onderdeel vervang van die een wat hier is.

Wens #54

Ek bid al 30 jaar dat ek ‘n groot trollie vol kruideniersware kan koop. Maar ek moet altyd kos terug sit want die geld is te min. As ek net een in my lewe kan koop wat ek nodig het vir my huisgesin.

Wens #55

Ek is ‘n enkel-ouer met drie kinders. Ons bly tans in ‘n 2-vertrek sink huisie en sal dit baie waardeer as iemand my kan help.

 

Wens #56

My kerswens is om weer my selfvertroue terug te kan hê.  Om weer lekker te kan lag as iemand ‘n grappie vertel, sonder om bekommerd te wees oor wie kyk vir my.  My tande het begin breek net na my dogtertjie gebore is.  ‘n Mens voel selfbewus en dit voel of almal vir jou kyk, omrede ek daagliks met die publiek werk.  Ek wil graag weer goed voel oor myself en nie so selfbewus wees nie.  Ons het dit nie breed nie en kan nie bekostig om tandarts toe te gaan om my tande te laat reg maak nie.  So my grootste wens sal wees om weer my mooi glimlag van jare gelede terug te hê.

Wens #57

Ek vra asseblief net vir ‘n 5 liter blik rooi verf om my ouma se vaal en stowwerige stoep vir haar te kan verf.

Wens #58

Ek het twee studente wat finansieel baie swaar kry. Die een seun is ingeskryf by Cape Peninsula University of Technology vir Elektriese Ingenieurswese.  Hy is nou in sy tweede jaar.  Sy ma is ‘n huishulp wat R2 800 per maand verdien.  Sy woon in by haar werkgewer en versorg haar 98 jarige moeder asook haar een seun se dogtertjie.  Sy het tot nou toe nog probeer om van die onkoste van die studies te betaal. Maandeliks betaal sy onder andere  R350 vir vervoer vir haar kleinkind se skool en vir haar seun R500 om  by die Universiteit te kom . As haar basiese onkoste van vervoerkoste, begrafnis polis en ‘n klein rekening vir klere betaal is het sy R92 oor vir kos. Die seun het verlede jaar sy studies onderbreuk en gaan werk om ‘n paar rand te spaar vir sy studies. Sy skuld egter not R15 000 op sy uitstaande rekening en het dringend hulp nodig met die studie geld.  Indien daar miskien ‘n barmhartige samaritaan is wat die student wil help kan hulle gerus ons kantoor skakel.

Wens #59

Nog ‘n student het by ons kantoor kom aanklop vir hulp.   Hy was ‘n pleegkind. Hy is een van drie kinders en sy ma het hulle as enkel ouer grootgemaak.  Sy ma is in 2010 oorlede waarna hy in sy oudste broer se sorg geplaas is. Die is self nog ‘n jong man wat net ‘n tydelike werk  het met ‘n baie klein salaris.  Hy het egter sy jonger broer aangemoedig om in te skryf vir ‘n LLB kursus by Unisa.  Met die hulp van die plaaslike munisipaliteit is die registrasie koste betaal.  Die student se punte vir sy take is baie goed en dit sal jammer wees as hy nie kan voortgaan met sy studies nie. Tans is die uitstaande bedrag wat hy moet betaal vir studies vir die jaar slegs  R2 060.  Indien iemand hom wil help kan hulle ook met NG Welsyns skakel

Wens #60

My ma is 70 jaar oud en sy verdien net pensioen. Sy versorg haar jongste dogter se twee kinders, van 8 en 15 jaar en kry geen finansiële bydrae vir dit nie. Sy wil baie graag haar huisie opknap en daar is dringend onderhoudswerk wat benodig word. As ons die verf kan kry om die huisie se dak te verf, sal dit baie help en ook verseker dat die huis nie verder verniel en verwaarloos nie. Ons vra dus 20 liter chocolate bruin dak verf asseblief.

Wens #61

In 2013 het my ma haar werk verloor a.g.v. siekte. Gelukkig het sy gekwlafiseer vir SASSA en het ons darem daardie inkomste. In 2014 het my stiefpa sy werk verloor. Van toe af sukkel hul albei om werk te kry. Ons moes al verskeie kere trek omdat ons nie altyd die huur kon bekostig nie en het met die gevolg teen die begin van die jaar basies al ons meubels ook verloor (verkoop om aan die lewe te bly).

In Mei die jaar het my stiefpa ‘n tydelike werk gekry en kon ons weer ‘n woonstelletjie van ons eie kry.  As gevolg van ‘n ongeluk in 2012 het hy ‘n gedeelte van sy regterduim verloor wat ook bygedra het tot die feit dat hy sukkel om werk te kry. Alles het gelyk of dit beter begin gaan, ons kon tot ons eie groentetuintjie begin. Maar omtrent so 3 maande terug het die duim begin probleme gee en moes hy teruggaan vir nog operasies, wat beteken dat hy nou sy hele duim verloor het. As gevolg hiervan het hy dus in die laaste paar maande geen of baie min inkomste gehad.

Op die oomblik is ons alreeds ‘n maand en ‘n half agter met ons huurgeld. Ons het darem ook in die tyd ‘n paar baie goeie mense gehad wat ons baie gehelp het om darem elke dag kos in ons huis te hê en ons is regtig opreg dankbaar vir almal van hulle. Ons groentetuin kom ook goed aan (ten spyte van die hael wat so bietjie skade aangerig het). Ons het in die laaste paar jaar al baie deurgemaak, maar ons het nog nie opgegee nie en probeer nogsteeds om bo uit te kom.

Ek weet dat my ouers se grootste wens is om weer werk te kry sodat ons weer kan aangaan. Ek weet ook dat my ma graag ‘n yskas wil hê vir die somer (kan niks bêre in die hitte nie) en net die geleentheid om weer ordentlik te kan gaan inkopies doen, sodat ons net weer vir n slag genoeg kos en al die nodige basiese goed kan kry wat ‘n mens nodig het vir die alledaagse. En natuurlik dat ons net ons huur op datum kan kry, sodat ons nie weer ons blyplek verloor nie. Ek weet ook dat my pa bitter graag net weer ons kar sal wil laat regmaak, sodat ons nie altyd moet sukkel om êrens te kom nie.

Ek weet dat daar baie mense daar buite is wat nog swaarder kry as ons en wat moontlik baie meer hulp nodig het as ons en ek glo en vertrou dat hul ook hul wense sal kry. Maar ek stuur my wens in omdat ek weet dat my ouers regtig ‘n breuk nodig het en dat hul enige hulp wat ons ontvang opreg waardeer. Ook omdat hulle ten spyte van alles nogsteeds aanhou glo en probeer om vir my die beste te gee wat hul kan.

Ek sal dit baie waardeer as daar dalk ‘n moontlikheid kan wees dat van hul wense waar kan word. Die wens is ook dan my manier om vir hulle baie dankie te sê vir alles wat hul doen en omdat hul my leer dat ‘n mens nooit opgee nie, maak nie saak hoe swaar dit gaan nie en ook dat daar niks belangriker is as liefde nie.

 

Wens #62

Ek wil bitter graag hê dat my Kerswens moet waar word vir ‘n vrou wat ek ken. Sy is nou 58 jaar oud en sukkel regtig baie. Haar man is 4 jaar terug oorlede en daar is nie een Kersfees wat sy kos het om haar Kersdag lekker te kan maak nie. Sy bly in ‘n klein kamertjie naby die Wandellaan en dit gaan regtig baie swaar met haar. My wens vir haar is ‘n stofie met ‘n oondjie en kos en vleis. Sy het so ‘n behoefte om kos te maak en hoender in die oond te bak en as iemand haar kan help met daardie wens, sal dit my hart baie bly  maak. Sy is boonop ook baie siek en ondervoed ook. As iemand haar kan help met ‘n karretjie wat met ‘n battery werk, sal dit haar ook help om nie so vêr hospitaal toe te hoef stap nie.

Wens #63

Ek en my vrou het ‘n besigheid wat in Julie maand deur twee van ons werkers gekaap is. Ons sukkel nog steeds om onsself weer in die dorp bekend te stel. Op die oomblik gaan daar nie geld wees vir ‘n geskenk vir ons dogtertjie nie. Sy het ons gevra of ons vir Kersfees vir haar ‘n fiets sal koop of een van daardie groot, blou swembaddens, maar daar is regtig nie geld nie. Ek en my vrou werk regtig hard om ons besigheid te red en weer op die been te bring. My behoefte as ‘n pa is net om vir my dogter een van daardie geskenke te gee en vir my vrou net ‘n mooi stel potte om dankie te sê dat sy nog net altyd die pot aan die kook gesit het, maar haar potte het nou al hulle dae gehad, van hulle het nie eers meer ore aan die kante nie of deksel knoppe nie. Sy sal dat regtig waardeer as sy weer ‘n stel potte kan kry. My dogter is 15.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top