Trippe trappe tone, Shaun en sy NVG is in die……… *

Marlizé Kruger

“What we saw today by Shaun Abrahams demonstrates that his hubris is only surpassed by his stupidity and his lack of political acumen and fundamental lack of understanding what a constitutional democracy is actually about.” Politieke Analis, Karima Brown oor #Shaun Abrahams, eNCAnuus, 31 Oktober 2016.

As regslerende is ek ‘n vurige voorstander van die instelling van ‘n grondwetlike demokrasie teenoor ‘n parlementêre soewereiniteit, omdat dit (vir my) verseker dat wetgewing en regspleging verhewe is bo die politiek, dit die regering bind aan die landswette, maar veral die Grondwet, en dit alle landsburgers beskerm teen staats-, politieke en regsvergrype.  Enige persoon het toegang tot die reg en anders as met ‘n parlementêre bestel, beslis dieselfde instansie wat moontlik aangekla mag word, nie oor sy eie lot nie.  Dit is die uitsluitlike funksie van ons onafhanklike regsbank.  Ons Grondwet en die onafhanklikheid en onpartydigheid van die instellings waarvoor dit voorsiening maak, maak my opgewonde en glo ek dalk ietwat naïef dat die reg (geregtigheid), as een van die pilare van demokrasie, help om chaos en wanorde in die samelewing, maar ook in die politieke landskap, te temper.  Voorts kan die regstelsel ook nie gebruik word om politieke belange te dien of te bevorder nie.

Hoofstuk 8 van die Grondwet spreek die howe en regspleging aan en een so ‘n instelling wat spesifiek vermeld word in Art 179, is die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).  Artikel 179(2) van die Grondwet (Wet 108/1996) en Artikel 20(1) van die Wet op Nasionale Vervolgingsgesag (Wet 32/1998), stipuleer baie duidelik wat die magte, funksies en bevoegdhede van hierdie grondwetlike staatsorgaan behels.  In kort sluit dit in, die bevoegdheid om strafregtelike verrigtinge namens die staat in te stel, om enige funksies te verrig wat in verband met die instel van strafregtelike verrigtinge nodig is en ten laaste, om strafregtelike verrigtinge te staak.  Dit is belangrik om daarvan kennis te neem dat hierdie instelling onafhanklik funksioneer, en slegs aan die Grondwet en die reg onderworpe is met ‘n verantwoordingsplig teenoor die Parlement.  Die finale verantwoordelikheid vir die instelling berus egter wel by die Minister van Justisie.  Die kort en die lank hiervan is dat die NVG in strafregtelike verrigtinge besluite neem ten opsgte van vervolging of nie oor ons gewone mense, sowel as ons verkose leiers.  Die heimlike hoop is dus dat hulle ons almal oor dieselfde kam sal skeer en hierdie funksies sal verrig sonder vrees, begunstiging of vooroordeel – dit is immers ook wat die Grondwet (Art 179(4)) vereis en word voorts bevestig as deel van die NVG se missie.

Die laaste week of wat se gebeure laat my egter ernstig wonder oor hierdie instelling se vooropgestelde onafhanklikheid, want die Hoofman oor Honderd blyk ‘n man te wees met ‘n paar vernuftige danspassies so tussen al die politiekery en burgerlike bemoeienis (in die postiewe sin) heen.

Eers kondig adv Shaun Abrahams op 11 Oktober 2016 breëbors aan dat die NVG besluit het om  die Minister van Finansies en sy twee voormalige SARS-kollegas formeel en in die openbaar aan te kla van nuttelose en verkwistende besteding, want daar is voldoende getuienis om te vervolg én die saak is so te sê “in die sakkie”.  Hy ondersteun die aanbeveling en besluit ten volle.

Na heelwat geluide vanuit ‘n verskeidenheid van oorde, voer die einste advokaat ‘n netjiese 180° pirouette uit en gebruik op 29 Oktober 2016 weer ‘n openbare platform om aan te kondig dat die klagtes teruggetrek word omdat een van die (nogal belangrike) vereistes van ‘n misdryf, naamlik opset, afwesig is.  Die aankondiging word voorafgegaan deur ‘n langasem retoriek oor die NVG se pligte, sy (as hoof) se pligte en hoekom dit en dat gedoen is, of nie.  Tydens hierdie sessie ontken hy dat dit sy besluit was om te vervolg, hy het bloot die aanbevelings van sy tweedes-in-bevel gevolg, hy benadeel dat hy nie ‘n inherente hersieningsreg het nie en stel blatant dat dit die aangeklaagdes se eie skuld is dat die aangeleentheid tot hier gevorder het.  Indien hulle mooi(er) saamgewerk het, was al hierdie moeite totaal onnodig.  Dalk moes die liewe mens hier opgehou het, maar nee, ‘n prôpperse perskonferensie sál ‘n behoorlike vraag-en antwoordsessie hê.  Hy strompel van die een interessante antwoord na die volgende.

“Het hy self die saak onder oë gehad voordat die finale besluit geneem is en was dit sy besluit om te vervolg?  Nee, hy het staatgemaak op die aanbevelings wat hy ontvang het.

“Het hy verstaan dat die besluit verreikende gevolge vir die individue, land en ekonomie kan hê?  ‘Is the economy dependent on one man?’ (verbatim). Indien hulle die gevolge van elke vervolging moet deurdink, sal niemand vervolg word nie (of iets dergeliks…).  Daar was geen bedoeling om tot die nadeel van enige individu op te tree of enige regte van die persone ter sprake te ontken nie”.  Ensovoorts, ensovoorts.

Arriveer 4 November 2016 en ‘n skuifelgang ontaard in ‘n seties voor die parlementêre komitee.    “Waar is die twee skarminkels wat jou die besluit laat neem het?  Nie hier nie, want ek het gedink dit is ‘n inligtingsessie, nie ‘n inkwisissie nie”. 

“Het jy enigsins die persoonlike of algemene gevolge van hierdie optrede bedink?    Nee, ons wou nie persoonlike bekommernis of verleentheid veroorsaak nie, maar (ad lib) het nie oorweging geskenk aan enige verdere gevolge (persoonlik of wyer) nie”. En so hinkepink die sessie voort……

 

Al hierdie manewales laat onwillekeurig ‘n horde ernstige vrae ontstaan onder regsgeleerdes, sowel as bekommerde wetsgetroue burgers oor die oppergesag van die Grondwet, beskerming deur en binne die reg en sommer oor die toestand van die reg oor die algemeen.  Om maar na ‘n paar te verwys:

  1. Hoe gebeur dit dat daar besluit word om te vervolg sonder voldoende getuienis wat al die elemente van ‘n misdryf daarstel?
  2. Sedert wanneer word individue (ministers of te nôt) in die openbaar by wyse van ‘n perskonferensie aangekla?
  3. Wat het geword van die regsbeginsel naamlik dat, ‘n persoon onskuldig geag word totdat sy/haar skuld bewys is? Hier het die geagte advokaat dit gestel asof dit reeds ‘n voldonge en gedane saak is en dat die aangeklaagdes hulle onskuld moet bewys.
  4. Die regsbeginsel van kousaliteit geld ook die algemene samelewing. Jy kondig nie aan dat die Minister van Finansies strafregtelik aangekla word en pleit dan afwesig wanneer dit ‘n vyftigbiljoen-rand-impak op die ekonomie het nie.
  5. Om nasionale direkteur van die Openbare Vervolgingsgesag te wees beteken hy is die “baas van die maatskappy” en as sulks is hy verantwoordelik en aanspreeklik vir alle optredes en besluite van sy “werknemers”. Hy kan nie skouers optrek en gerieflikheidshalwe na die tyd die blaam verskuif en homself verontskuldig nie.
  6. Al die gerugte en bespiegelinge oor politieke voorspraak en motivering laat ernstige vrae ontstaan oor die uitvoering van die instelling se pligte sonder begunstiging, vooroordeel of vrees. Hoe onafhanklik ís die Direkteur en sy instelling daadwerklik?
  7. Ten spyte van herhalende retoriek tot die teendeel, blyk dit dat hy wel ingevolge Art 179(5)(d) van die Grondwet die aangeleentheid kon hersien alvorens die aanklagte formeel aan die individue gerig en ‘n hofdatum bepaal is. Is hierdie mens inderdaad bevoeg om aan die hoof van so ‘n belangrike staatsinstelling te staan, want hy wankel-wankel maar wat sy interpretasie en toepassing van die reg betref.

Ek kan nie help om die SARS-saak te vergelyk met die einste advokaat se hantering van die 783 aanklagte teen die President nie.   Sonder enige aansporing vanuit burgerlike- en/of sakesektorgeledere trek die NVG die hele kaboedel klagtes in 2009 terug (weliswaar nie op daardie stadium onder adv Abrahams se wakende oog nie).  Vroeër vanjaar beslis ‘n volbank van die Hooggeregshof dat al die aanklagte herstel moet word.  Dit val nie in onse advokaat se kraal nie en baie ywerig gee hy kennis van sy voorneme om appèl aan te teken teen die ongerieflike beslissing.  In Junie beslis die Hooggeregshof kort en kragtig – Nee, jy kan nie appèl aanteken nie en basta hiermee!  Interessant genoeg, is die onderliggende grondslag ten aansien van die klagtes in altwee gevalle dieselfde, naamlik nuttelose en verkwistende besteding, in kort – korrupsie.  Die advokaat pak beide aan met dieselfde ywer, entoesiasme en energie, maar die beoogde uitkomste verskil lynreg.  Interessant ook wel dat daar geen perskonferensies oor die presidensiële kapperjolle was nie.   Ek moet bieg, dit laat by my min ernstige twyfel oor die kleur van adv Shaun se politieke onderrok, al pleit hy hoe ookal tot die teendeel.

Daar is ‘n goeie ou regsgesegde wat lui dat geregtigheid nie alleen moet geskied nie, maar dat dit ook sigbaar en kennelik waargeneem moet word.  Dit is die onderbou van ‘n onafhanklike regstelsel en regspleging en sodra hierdie persepsie, veral ten opsigte van ‘n persoon, bevlek is kan min tot geen rondtrippel mense werklik tot die teendeel oortuig nie.  Ek vermoed dat adv Shaun Abrahams in hierdie tyd agtergekom het dat wanneer jou onderrok op die grond sleep, jou poging tot ‘n waardige wals vinnig in ‘n vastrap en vasval kan verander.  En dít is deel van my kommer, ‘n lamgelêde hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag kan nie die onafhanklikheid van die regstelsel binne ‘n grondwetlike demokrasie beskerm of bevorder nie.  Waar laat dit ons gewone ouens en is dit die deursnit van ons regsgeleerdes in openbare ampte?

Ek vermoed dat die President ook ‘n suspisie het dat ‘n vasgevalde amptenaar in hierdie posisie nie veel verder gaan of kan uitrig nie.  Uit die verlede het ons ook geleer dat onse Nommer Een blykbaar nie uitermatig lojaal is nie, veral nie wanneer die lemoen se sap skynbaar uitgedruk is nie.  Vandaar die skrywe aan sy hoof van die NVG vroeër in die week.

In my kop-borreltjie verloop die korrespondensie tussen die twee kêrels as volg:

JZ:  “Adv Abrahams, kan jy enige redes aanvoer waarom ek nie jou dienste moet opskort nie?”

SA:  “Mnr. die President, om die waarheid te sê, ek kan aan 783 redes dink.”

 

 

 

 

* Met apologie aan die kinderrympie “Trippe Trappe Trone”

  AUTHOR
Marlizé Kruger
Blogger

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top