…"/>

Ek hoop ek sien jou weer op ‘n blink nuwe pad

Hierdie Kersseisoen is daar steeds mense wat alleen op straat sit, sonder werk, kos of liefde in Potchefstroom. Hoe kom mense op hierdie punt?
Hierdie Kersseisoen is daar steeds mense wat alleen op straat sit, sonder werk, kos of liefde in Potchefstroom. Hoe kom mense op hierdie punt?

Op hierdie aarde ontmoet ‘n mens as joernalis ‘n lys van verskillende mense wat op jou pad kom – elkeen met hulle eie drome, visie, passie en lewenslus. Hierdie mense inspireer jou, hulle intereseer jou, jy probeer hulle lewe en hulle bestaan so goed as moontlik dokumenteer – jy wil hulle stories met die wêreld deel.

Soms kom jy ook in aanraking met die mense wat hulle lus vir die lewe verloor het – iewers langs die pad het hulle ‘n T-aansluiting getref en die verkeerde rigting gevat, ‘n pad vol donker slaggate wat hulle drome en visies geknak het. Hulle bande met geluk en doelgerigtheid het in hierdie slaggate gebars en is nie weer herstel nie.

Ek het verlede Sondag met een van hierdie mense in aanraking gekom op pad terug van ‘n jolige sokkerwedstryd wat Jomo Cosmos op Olënpark gewen het. Die kontras tussen hierdie twee atmosfere was iets wat my behoorlik getref het. Ek het hierdie man uit die hoek van my oog op die straathoek gesien – moeg, rooi gebrand, honger en dors vir iets nuuts. Hy het al baie lank harde grondpad gery.

Op sy wit bordjie staan “Help asb met los werk of donasie. Dankie,” en hy kyk rond op soek na iets, terwyl ek my lens op hom plaas om hom af te neem. Ek neem hom af met die bedoeling om hierdie verhaal te skryf en die hartseer van die wêreld uit te beeld. Tog terwyl ek die man afneem voel ek dat ek nie ‘n “Kevin Carter” oomblik wil beleef nie. Vir die wat nie weet nie, Carter was ‘n bekende Suid-Afrikaanse fotojoernalis wat ‘n brandmaer seuntjie in ‘n woestyn afgeneem het, sonder om verder iets aan die saak te gedoen het. Sy foto was briljant, maar ‘n vraag het later oor die seuntjie bestaan. Kon hy nie gehelp het nie? Die dokumentêre film The Bang Bang Club handel oor Kevin Carter.

Hierdie Kersseisoen is daar steeds mense wat alleen op straat sit, sonder werk, kos of liefde in Potchefstroom. Hoe kom mense op hierdie punt?

Hierdie Kersseisoen is daar steeds mense wat alleen op straat sit, sonder werk, kos of liefde in Potchefstroom. Hoe kom mense op hierdie punt?

Sodoende besluit ek toe om kos vir die man te gaan koop en dit vir hom te gaan vat. Ons maak oogkontak en hy staan op vanuit sy voorheen sittende en moeë posisie. Ek groet hom met die hand en hy fluister amper ietwat skamerig wat sy naam is. Ek vra so bietjie uit oor sy toestand en hoe hy gekom het tot waar hy nou op straat moet sit en bedel vir geld.  Hy vertel dat hy weens die ekonomie nie sy werk kon hou nie (tog glo ek dat ‘n mens daar op straat kom weens ‘n klomp faktore wat soos domino-stukke op die ou einde in mekaar tuimel).

Of dit wat hy my vertel het, die hele waarheid is of nie, is nie ter sprake nie. Inteendeel maak dit nie saak nie. Die verlede gaan hom nie kan help nie en hy sal oor moet begin en hoop hê vir iets – maar hy sal sy hoop moet vind en sy lewenspad weer moet begin teer. Hy verduidelik vir my dat die son hom brand, dat Potchefstromers se barmhartigheid minder raak, dat hy werk soek maar sukkel en op sy ouderdom enigeiets sal doen – “tot in die tuin werk.”

Ek sien die desperaatheid in sy een oog, die ander een is blind, maar aanhou sal hy probeer. Ek groet hom, spreek seën oor hom uit dat hy sy pad sal vind en dieselfde barmhartigheid sal openbaar. Wat anders kan ‘n mens doen as om te gee wat jy kan? Soms is geselsskap, liefde en medemenslikheid goud werd. Hanteer almal soos jy hanteer wil word.

Hy vat ‘n hap van sy toebroodjie, verorber dit verder en vat ‘n paar slukke koeldrank in die warm temperature wat stadig maar seker op ‘n rustige Sondagaand sak.

Ek hoop ek sien hom weer – maar nie op dieselfde plek nie. Vry van sy wit bordjie, waar hy weer kan asemhaal en ‘n doel in die lewe het. Waar hy sterk staan en nie in ‘n gat sit nie.

Die lewe gaan nie oor hoeveel keer jy val nie, maar eerder oor hoeveel keer jy opstaan.

 

  AUTHOR
Wouter Pienaar
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top