Die perfekte dag van ‘n sportverslaggewer

Bestaan daar iets soos ‘n perfekte dag of naweek vir ‘n sportverslaggewer? Ek twyfel, maar ek het al soms baie naby daaraan gekom. Om daardie perfekte aksiefoto te neem of daardie wedstryd met woorde perfek op te som.
Soms is dit ook net so lekker om deel van die emosie op die sportveld te wees en as buitestaander als in te neem.
Sportverslaggewing is adrenalien op die beste van tye, maar werklik harde werk wanneer dit moeilik raak.
Dit is lang ure in die son, naweke is baie keer uit, wanneer jou vriende nie werk nie en na wedstryde moet daar onmiddellik verslag gelewer word, en dit vat iets spesiaal om so vinnig as moontlik ‘n hele 80 minute se spel in twee minute se sportpoësie te verander.
Tog is dit lekker druk en om daardie verslag gepubliseer te sien, is steeds iets wonderlik.
Hier is miskien hoe my werk as sportverslaggewer in ‘n perfekte wêreld sal lyk:
1) Na elke wedstryd word spanlyste volledig opgedateer, aan my verskaf, sonder dat ek daarvoor moet vra.
2) Spanlyste word twee dae voor die tyd vir my gegee om te publiseer, met ekstra interessante notas oor die sleutelspelers.
3) Al my onderhoude realiseer en my bronne is bereid om altyd publiseerbare inligting vir my te gee.
4) Ek neem pryswaardige foto’s by elke wedstryd wat ek bywoon.
5) Ek het genoeg sportbladsye om my foto’s mooi groot te gebruik.
6) Sportlui gee insiggewende en lekkerlees aanhalings vir ‘n storie (sonder enige clichés)
7) Die publiek verstaan dat ek nie by elke sportwedstryd kan uitkom nie
8) Geen tikfoute of drukkersduiwels in my stories nie!
As 2017 meer van hierdie punte insluit kan dit net ‘n goeie jaar wees!
Opwinding heers vir goeie sport in die nuwe jaar en ek is seker dat daar weer ‘n klomp helde op die sportveld sal wees om oor te skryf en soms herskryf die geskiedenis homself weer oor.
Ek het twee woorde vir die sportlui in Potch op en van die veld en bane af.
– Carpe Diem

  AUTHOR
Wouter Pienaar
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top