Lees tussen die lyne: Waar kom die meeste Bokke vandaan?

Uit watter provinsie kom die meeste Springbokke vandaan?
Dit is ’n vraag wat seker al sedert 1906 onder die manne om die braaivleisvuur bespreek is. Deesdae met die internet het dit eintlik maklik geword om die vraag te beantwoord. Die webtuiste www.rugby15.com het ’n lys opgestel van hoeveel Springbokke, deur watter skole opgelewer is. Dit is immers waar mens leer rugby speel. Vroeër jare was dit maklik om te sê watter afrigtingspanne die beste vaar omdat kinders forseer was om in die area waar hulle bly skool te gaan. Met die koms van die professionele era het meer en meer skole begin betrokke raak by unies wat spelers op jonger en jonger ouderdomme gekontrakteer het waarna hulle in daai provinsie begin skool gaan het.
Volgens www.rugby15.com wat in 2012 die lys bymekaar gesit het Paul Roos Gymnasium die meeste bokke sedert 1906 opgelewer. Hulle loop voor met 51, terwyl Grey College in tweede plek is met 42 en Bishops derde met 35. Ses uit die top 10 skole is in die Westelike Provinsie. Dit is uit die aard van die saak nie te sê dat die WP die beste rugby span is nie. Alhoewel as jy my skoonpa vra sal hy aanvoer dat dit ’n tipe van wetenskaplike bewys is dat die WP die beste in die land is.
Ons hier in die Noordwes het ook al ons eie Springbokke opgelewer. Lichtenburg is die skool met die meeste bokke, hulle het tot in 2012 al vier opgelewer. Die ander groot skole in die luiperds liga, Volkies, Gimmies en KHS het elk al twee opgelewer. Selfs HTS Potchefstroom en Christiana het al twee bokke opgelewer. Daar is een bok by ander skole in die provinsie insluitend, Brits, Brothers College, Milner High School, Potch Boys High, Schoonspruit, Schweizer en Ventersdorp.
As ’n oud-KHS’er moet ek van die geleentheid gebruik maak om bietjie met my alma mater se aartsvyande die gek te skeur. Al die groot skole in die provinsie het al Springbokke opgelewer daar is selfs al skole in Zimbabwe, Skotland en Engeland wat al Springbokke opgelewer het, maar Wesvalia nog niks.

  AUTHOR
Dustin Wetdewich
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top