So lok ons nie ontwikkeling

potch herald logo

’n Paar jaar gelede het die destydse sakekamer ’n projek van stapel gestuur om die rand in Potchefstroom te hou.
Die bedoeling was dat Potchefstromers sover moontlik by mekaar koop sodat die geld in Potchefstroom bly. Dit sou bydra tot groei in die plaaslike ekonomie, wat op sy beurt sou lei tot werkskepping wat sou lei tot meer besteebare geld in die stad.
Die groei in die ekonomie sou ook ontwikkeling na die stad lok, omdat ander sal wil deel word van ’n stad met ’n vooruitstrewende ekonomie waar werkloosheid min is. ’n Lae werkloosheidskoers lei ook tot minder van sekere soorte misdaad.
Die stadsraad is ook aangemoedig om dit vir voornemende ontwikkelaars maklik te maak, deur grond wat aan die Raad behoort teen baie billike pryse aan ontwikkelaars of nyweraars beskikbaar te stel.
Uiteraard sou die stadsraad ook moes sorg dat puik dienste gelewer word, want ontwikkelaars en ander gaan nie kom indien die stad nie goed bestuur word nie.
Dit klink alles baie mooi op papier. ’n Wenresep. Die stad het reeds groot instansies soos die universiteit wat help om ontwikkeling hierheen te lok. Mense kom hierheen omdat die ligte brand en daar water in die krane is.
Maar dan wil ons nie soos hierdie week opskrifte hê oor die Ouditeur-Generaal se verslag wat wanbestuur binne die munisipaliteit uitbasuin nie. Daar moenie rede wees dat die media die opskrifte gebruik nie, want daar moenie rede wees dat die OG dit van Potchefstroom sê nie.
Die Herald is bewus van ’n groot ontwikkelaar wat onlangs besluit het om eerder elders te gaan. Pasop dat bestaande groot bates van die stad nie ook eerder hul tasse pak of nie verder groei of hul aantrekkingskrag verloor nie.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top