Fliek Vlooi: Underworld Blood Wars

wallpaperdx.com

Underworld Blood Wars is die vyfde toevoeging tot my gunsteling vampierreeks, en liefhebbers van hierdie fliek kon nie wag dat dit vrygestel word nie. Die “death dealer” Selene (Kate Beckinsale) moet haarself heeltyd verdedig teen gewelddadige aanvalle van die Lycan- (weerwolf) groep, wat agter haar dogter Eve aan is, omdat haar bloed die sleutel is tot ’n weermag van vampier-weerwolfkruisings, sowel as die vampier-groep wat haar aanspreeklik hou vir die dood van hul ouderling, Victor.

Sonder enige ander opsies nooi die vampier-groep haar terug in hul binnekring met die hoop dat sy hulle sal kan oplei om teen die Lycans te wen, maar nie almal daar kan vertrou word nie. Kort voor lank sien sy haar saam met David (Theo James), ‘n vampier-kruising wie se lewe Selene gered het, die koue invlug om ‘n einde te bring aan die ewige stryd tussen die Vampiere en die Lycans. Hoewel dié fliek verwagtinge oortref wanneer dit kom by aksie en vegtonele, kon dit nie opmaak vir dit wat in die fliek kort nie.

Ek sou nie sê die fliek is swak nie, maar dit is ook nie baie goed nie, veral nie in vergelyking met die vorige vier flieks in die aksie-fantasie reeks nie. Ek is ’n baie groot aanhanger en het die voriges almal baie geniet, maar Underworld Blood Wars het my teleurgestel. Die hele fliek bestaan uit een groot jaagtog en daar is geen duidelike storielyn nie. Die hoofvampier, Selene groei ook glad nie deur die fliek nie.

Ek geen dit 5/10. As dit nie vir die goeie vegtonele was nie, sou dit dalk nog minder gekry het. Dit is sekerlik die een in die reeks waarvan ek die minste gaan onthou.

Die DVD is beskikbaar om uit te neem by DVD4home op die hoek van Retiefstraat en Govan Mbekirylaan, of skakel hulle by (018) 293 3895.

  AUTHOR
Marianke Saayman
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top