Huisrooftogte: Vasgemaak en aangeval

Die toneel in Strausslaan. Foto: Verskaf

Twee huisrooftogte wat Sondag plaasgevind het, het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.
Dit was die ernstigste van die voorvalle wat oor die Paasnaweek plaasgevind het waarin verskeie misdade gepleeg is (lees berig op bl 2). In die eerste voorval, omstreeks 02:00 Sondagoggend, is ’n jong ma in haar huis in Rooibokstraat deur ’n man wakker gemaak wat haar met ’n mes gedreig het.
Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, het die man haar gesig met ’n kombers toegedraai, waarna hy haar langs die bed laat lê het. “Hy het vir haar gesê om stil te bly en niks dom te doen nie.”
Hy het die kamer deursoek en met juweliersware, kontant en die vrou se selfoon gevlug. Volgens Chaka het die vrou ander verdagtes ook in die huis gehoor. Nadat die verdagtes weg is, het die vrou ’n panieksein aan Mooirivier Beskerming gestuur, waarna hulle gereageer het. “Die sekuriteitsmaatskappy het die man in die omliggende area gesoek, maar kon hom nie opspoor nie,” het Chaka gesê. Omstreeks 12:00 op dieselfde dag is ’n vrou in haar huis in Strausslaan deur ’n man wat met ’n piksteel gewapen was, oorval. Volgens Chaka het die vrou geslaap. Toe sy wakker word het die man in haar kamer gestaan. Hy was glo heel beleefd toe hy vra vir die sleutels van die kluis en die vrou se juweliersware. Haar man het tydens die rooftog saam met sy kleinseun by die huis aangekom waar hy een van die verdagtes in die oprit aangetref het. Die verdagte, wat in ’n voertuig gesit het, het die man gedreig. Die man het na sy vrou in die huis gehardloop, waar hy ander verdagtes teëgekom het. ’n Struweling het ontstaan waarna die man glo met ’n voorwerp geslaan is.
Die verdagtes het daarin geslaag om in twee voertuie te vlug. Die man het glo agterna skote na die verdagtes toe gevuur. Volgens Chaka is niemand nog in hegtenis geneem in enige van die sake nie. Twee sake van huisroof word ondersoek.

  AUTHOR
Dustin Wetdewich
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top