…"/>

Jong Potch skut skiet bo sy gewig in Proteakleure

Jurgens Jansen van Rensburg is in die wolke na sy goeie vertoning tydens die SA Ope Bisleyskiet-kampioenskappe waar hy ses medaljes verower het.

Hy was dalk een van die kortste en jongste Bisleyskuts tydens die SA Ope Bisleyskietkampioenskappe maar die plaaslike Protea, Jurgens Jansen van Rensburg (18), het met  ses medaljes bewys dat jy nie ‘n man op sy baadjie moet takseer nie.

Al is Jurgens nog ‘n matriekleerder aan Potchefstroom Gimnasium, skiet hy reeds vir die o.25 Proteaspan en het homself by die SA Ope Bisleyskietkampioenskappe teen Engeland, Kanada en Australië wat vanaf 24 Maart tot 2 April by die De Brug Skietbaan in Bloemfontein gehou is, bewys. Sy kalmte en klas in druksituasies het aan hom een goud, twee silwer en drie bronsmedaljes besorg.

In al drie toetse was Jurgens die beste o.25 skut in die Proteaspan , wat op sigself ‘n briljante prestasie is, veral omdat Jurgens nog nuut in dié groep is. In hierdie drie toetse teen Australië, Engeland en Kanada het die o.25 Proteas derde gesamentlik geëindig.

‘n Toets word ‘n hele middag geskiet waar verskillende afstande vanaf 300, 600, 800 en 900 meter geskiet word.

Jurgens Jansen van Rensburg is in die wolke na sy goeie vertoning tydens die SA Ope Bisleyskiet-kampioenskappe waar hy ses medaljes verower het.

Vir Jurgens was die hoogtepunt om reeds net vir die o.25 span te kon skiet en nog die beste skut in die span ook te kon wees.

“Ek is opgetrek vanuit die o.19 na die o.25 span toe, so ek het drie toetse vir die o.25 span geskiet wat ‘n goeie uitdaging was.”

Verder het Jurgens ook individueel tydens die kampioenskappe geskiet en ook uitmuntende prestasies in sy ouderdomsgroep behaal, waar hy ook as die beste SA o.19 Proteaskut op individuele vlak aangewys is.

“Die weersomstandighede was wisselvallig en die druk was erger hierdie jaar, omdat daar baie meer deelnemers was wat geskiet het. Die Australianers is baie goed in die sport en om myself teen hulle te kon meet en te presteer was ‘n ongelooflike ervaring,” noem Jurgens.

“Die spankompetisie het van my geverg om aan myself te bewys dat ek in daardie ouderdomsgroep goed kan skiet. Dit is ‘n totale ander liga.”

Om die druk te hanteer luister Jurgens na Rocky Balboa van die film Rocky se motiveringspraatjies om hom gereed te kry vir die strawwe kompetisie atmosfeer.

“Rocky is een van my mentors en om daarna te luister motiveer my altyd. Ek geniet ook om Al Pacino se motiveringstoespraak uit die film Any Given Sunday te luister.”

Nog ‘n uitdaging wat Jurgens vir die eerste keer in die gesig moes staar, is ‘n uitskiet-kompetisie waar die beste vyf skote die wenner bepaal.

“Ek en my teenstander het gelyk geëindig en moes toe die uitskiet-deel doen. Ek skiet gewoonlik baie vinniger en ek het sodoende my teenstander onder meer druk geplaas om te skiet, omdat jy net ‘n sekere tyd het om te skiet.

Hy het toe sy laaste twee skote afgejaag en ek het toe met een punt gewen,” verduidelik Jurgens.

In die toekoms stel Jurgens sy visier op die volgende groot Protea o.25 Bisleyskiettoer na Nieu-Seeland  in 2019.

“Natuurlik wil ek steeds in die o.25 Proteaspan bly en net aanhou om my vaardighede te verbeter.”

  AUTHOR
Wouter Pienaar
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top