Gimmies bult spiere teen Lichtenburg

Potchefstroom Gimmies se eerste rugbyspan het vanjaar hulle onoorwonne veldtog in die Virseker-beker vir Grootskole voortgesit toe hulle die afgelope Saterdag by die Mooivallei-sportgronde vir Lichtenburg met 29-20 geklop het.

In ‘n aanskoulike stryd waar ‘n kombinasie van brute krag voor en vlugtige vaardighede agter, die norm was, het Gimmies na ‘n 22-8 voorsprong Lichtenburg se tweede helfte terugvegpoging gestuit om met die louere weg te stap.

Gimmies se linkervleuel Johan Minnaar het twee drieë aan albei kante gaan druk, terwyl Willie Steenkamp, Waldouw Smit en Edrich Cronjé Gimmies se ander drieë gaan druk het. Vir Lichtenburg het Bertru Jones, Max Williamson en Luhan Jahns die drieë ingepalm.

Gimmies het die wedstryd die beste begin toe Smit met ‘n kraglopie sy span se eerste punte aangeteken het. Cronjé het die doelskop gemis en Gimmies was met 5-0 voor. Cronjé se skopskoen het die hele wedstryd gepla en indien hy sy skoppe oorgeklits het, kon Gimmies nog met ‘n groter puntegaping gespog het.

Minnaar se eerste drie het Gimmies met 12-3 laat voorloop voor Bertru Jones vir Lichtenburg in die hoek gaan druk het na goeie gebruik van die wydte wat op die veld beskikbaar was.

Foto’s: Wouter Pienaar

Henco Nel was een van die staatmakers vir Lichtenburg op die oop kant flank en sy kraglopies het gesorg dat sy span steeds ‘n sê in die wedstryd gehad het.

Gimmies het wel die tweede helfte die pap dik aangemaak met twee drieë, net 5 minute uit mekaar om die telling na 29-8 te skuif. Sodoende was die gort behoorlik gaar vir Liggies en hulle sou ‘n haas uit die hoed moet trek in die laaste 30 minute van speeltyd wat oor was.

Williamson en Jahns se drieë het Lichtenburg weer terug in die wedstryd gebring en ‘n mens kon sien hoekom dié Puk-reeks finaliste nie ligtelik opgeneem kan word nie.

Tog het Gimmies rotsvaste verdediging en dissipline in die laaste 20 minute gehandhaaf om weer die oorhand oor Liggies te kry.

Komende Saterdag vat Gimmies vir Hoërskool Klerksdorp in ‘n wegwedstryd aan.

Ander uitslae:

o.14A – Lichtenburg wen 15-10

o.15A – Lichtenburg wen 17-14

o.16A – Lichtenburg wen 26-17

Foto’s: Mario van de Wall

  AUTHOR
Wouter Pienaar
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top