…"/>

Vure, vlamme, brand

Ai maatjies, hierdie week was my hartjie so seer toe ek ek hoor van die groot vuur in Knysna en die plekkies rondom waar alles morsdood gebrand het. Ek het nie geweet dat vlammetjies so baie skade kan aanrig nie. Daar is huise wat afgebrand het, motors wat uitgebrand het en bome en bosse wat heeltemal vernietig is. Baie mense en diere moes vir die vlamme vlug. Die hele natuurskoon is nou pikswart. Ongelukkig kry ons stout mense wat aspris brande stig om skade aan te rig. Ek gaan nog eendag hulle boud byt. Ons het ‘n lekker kaggel by die huis en as dit so bitter koud raak, maak my pappa ‘n vuur in die kaggel en dan raak die hele huis sommer so lekker warm. Ek sit dan voor die kaggel en kyk na die vlamme terwyl hulle oor die hout dans. Dit is vir my baie lekker. Pappa sê  altyd ons moenie te na aan die vuur sit nie, en ons mag ook nie met stokkies in die vuur speel nie, want ‘n ongeluk gebeur so maklik. As mense kerse aansteek, moet hulle altyd ‘n ogie oor die kers hou en dit doodblaas as almal uit die vertrek gaan. Die kers kan omval of smelt en so kan n groot vuur ontstaan wat groot skade kan aanrig.  As julle êrens piekniek gehou het en vuurtjie gemaak het, onthou om die kole en as met water na die tyd nat te gooi. Julle kan ook sand gebruik om seker te maak die vuur is heeltemal dood. Dit kan gebeur dat daar ‘n gloeiende kool in die bosse gewaai word en dan ‘n takkie aan die die brand steek wat daartoe lei dat nog takkies begin brand en so ontstaan bosbrande. Pappas en mammas moet tog ook altyd seker maak hulle sigaret stompies is doodgedruk voor hulle dit by die motorvenster uitskiet. Dis eintlik beter om sigaret stompies in die asbakkie te bêre en by die huis weg te gooi. Ons moet saamwerk om ons aarde op te pas. Julle moet tog ook altyd baie versigtig wees as julle naby ‘n kaggelvuur of ‘n braaivleis vuurtjie beweeg. Julle kan baie seerkry as julle brand. Vra vir mamma en pappa om vir julle te vertel wat om te doen as ‘n maatjie gebrand het. Vra ook vir hulle om vir julle ‘n vuurhoutjie aan te steek, dan kyk julle na die kleure van die vlammetjie. Daar waar die vlammetjie blou is, is die warmste deel van die vlam. Julle moet net kyk, nie voel nie.

Ek hoop julle het ‘n skottelende week

Liefde skottels 

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top