Schlebusch en Marais kry die wenne

Johan Schlebusch se duiwe is in top vorm vanjaar.

Tydens week twee se wedvlug vanaf Campbell (405 km) het Johan Schlebusch in die jaaroud-afdeling en Arrie Marais in die opeafdeling met die louere weggestap, neé gevlieg.

In die jongduiwe se wedvlug het polisieman Johan Schlebusch sy wenduif, asook die tweede plek duif sleg agt sekondes van mekaar af geklok, met oud-onnie Arrie Marais net 16 sekondes verder terug. In die opewedvlug waarin die ou duiwe vlieg, maak Marais se Arrie en Tienie-span ‘n skrale 2 sekondes voor Fanie Familehokke in die klokke klaar. Fanie Kruger se derde plek duif maak net 16 sekondes na die wenduif klaar.

By Potchefstroom Posduifklub verras pastoor Marnes Nel die manne en vlieg sy duifie en dié van Sarel Naudé se B-span ‘n suiwer breek en eindig hulle ‘n formidabele 8 minute 46 sekondes voor die derde duif. Dit gebeur selde in so ‘n kort wedvlug dat daar so ’n  groot tydsverskil is. Die jaaroud leer egter nog die pad ken. In die opewedvlug wen oud-skoolhoof Faan de Beer se duifie die van verkeersman, Nic Stassen met 11 sekondes. Eddie Bondesio volg verlede week se wen op met ‘n goeie derde plek.

Die punte by MRK lyk soos volg: Jaarouds: Schlebusch 274, Arrie Marais 135, Johan van Wyk 135. Ope-afdeling. Schlebusch 199, Fanie en Fam. 125, J.J. van Wyk 102. Klubkampioen. Schlebusch 473, Arrie Marais 236, J.J. van Wyk 231.

Die punte-oorlog by P.P.K. lyk so: Jaarouds: Sarel Naude “B” 336, Naude “A” 249, Kiewiet en Christo 192. Opes. Naude “A” 475, Naude “B” 264 en Kiewiet en Christo 254. Klubkampioen: Naude “A” 656, Naude “B” 604 en Kiewiet en Christo 450. Met die amok wat Sarel Naude in week 1 gemaak het, sal die manne baie hard moet werk om hom te vang! Volgende week se wedvlug gaan plaasvind vanaf Belmont oor ‘n afstand van 403 km.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top