Geharde Griffons sluit Luiperds se deur in Supersport Uitdaagtoernooi

Die Luiperds het met 33-17 teen die Griffons vasgeval.
Die Luiperds het met 33-17 teen die Griffons vasgeval.

Die Griffons het weer die Luiperds op Olënpark gekelder en nes in verlede jaar se Curriebeker Eersteliga eindstryd die tuisspan ‘n les in aanvallende stoomtrein-rugby geleer met ‘n 33-17 oorwinning.

Die Luiperds moes vanaand (16 Junie) die Griffons met ten minste 40 punte klop maar hierdie droom het spoedig in ‘n nagmerrie ontaard met die Luiperds wat net nie hul beste rugby gespeel het, wanneer dit die nodigste was nie.

Die Griffons se klipharde verdediging en vaardige agterlyn was een te veel vir die Luiperds gewees wat op die ou einde die wit vlag moes waai. ‘n Paar van die klipharde lakke kon tot in Piet Bosmanstraat gehoor word.

Die Luiperds het wel uitstekend begin toe Jimmy Mpailane oorduik na ‘n slim binnetoe aangee van losskakel Gerhard Nortier.

Nortier is toe afgestuur met ‘n geel kaart kort daarna en toe maak die Griffons die meeste daarvan met ‘n puik kraglopie van loskopstut Barend Potgieter om die telling gelyk te maak. Thato Mavundla het toe oorgeduik om die telling na 12-7 te vergroot en nou moes die Luiperds werklik hulle beste rugby uithaal.

HP Swart wat sy 50ste wedstryd vir die Luiperds speel, het vir daardie ekstra veggees gesorg toe hy vir ‘n drie oor is om die Luiperds gelyk teen die Griffons met 12-12 te maak.

Net voor halftyd het Jasper Wiese sy gewig ingesit en met aggressie oorgeduik om die Griffons met 19-12 teen lemoentyd met die hand in die hef te sit.

Die Luiperds moes nou in die laaste 40 minute alles uithaal en Tapiwe Mafura is oor in die hoekie om die telling na 17-19 te vernou.

Dit was wel tevergeefs toe die Griffons die volgende skote vuur met senter Carl-Jan Coetzee wat onder die pale kuier en die telling na 26-17 vergroot.

Die Luiperds se kanse om in dié toernooi te bly is verder gekelder toe Duan Pretorius met 18 minute speeltyd, oor is en sy eie drie verdoel om dit 33-17 in die manne van Welkom se guns te maak.

Dit is nou oor en verby vir die Luiperds wat sal nadink oor die laaste 5 wedstryde waar hulle bekerkanse stelselmatig in puin gelaat is.

Punte:

Griffons: 33 (19)

Driee: Barend Potgieter, Thato Mavundla, Jasper Wiese, Carl-Jan Coetzee, Duan Pretorius

Doelskoppe: Duan Pretorius (4)

Luiperds: 17 (12)

Driee: Jimmy Mpailane, HP Swart, Tapiwe Mafura

Doelskoppe: Nortier

  AUTHOR
Wouter Pienaar
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top