…"/>

Johanna slaan ouderdom vir ‘n kishou!

Park Tennisklub se Johanna Buys (86) speel nog elke Dinsdagoggend by dié klub se tennisbane saam met 'n groepie vrouens tennis, en al is sy die oudste op die baan, klop niemand haar maklik nie.
Park Tennisklub se Johanna Buys (86) speel nog elke Dinsdagoggend by dié klub se tennisbane saam met 'n groepie vrouens tennis, en al is sy die oudste op die baan, klop niemand haar maklik nie.

By die Park Tennisklub se bane is daar ‘n klein maar herkenbare figuur wie se voetsole die oppervlakte van die tennisbane uitstekend ken.

Gewapen met ‘n tennisraket in die regterhand en ‘n tennisbal in die ander, is sy gereed om weer op Dinsdagoggend die ander tennisvroue ’n ding of twee te wys.

Met die eerste afslaan beweeg sy soos ‘n wafferse 25-jarige om die bal oor die net te stuur, en dan staar jy bietjie in ongeloof na dié merkwaardige mens voor jou. Hierdie tennisliefhebber is die 86-jarige Johanna Buys, wat nou al die afgelope 24 jaar ‘n instelling by dié klub is.

“Sy beweeg nog so vinnig en slaan omtrent elke bal raak. Nes jy dink jy het die punt, dan verras sy jou met ‘n fantastiese hou.”

So beskryf die vroue van die Park Tennisklub vir Johanna,  wat soos min 86-jariges steeds elke Dinsdagoggend ‘n potjie tennis speel en almal ‘n ding of twee wys. Van die baan af is sy op en wakker waar sy met vriendelikheid en nederigheid haar storie met ‘n glimlag vertel – “al sukkel die gehoor soms bietjie.”

Op die baan word daar delikate rughandhoue en voortreflike voorhandhoue gespeel waar sy rek en strek en by elke bal uitkom.

“Ek speel tennis vandat ek 16 jaar oud is. Ek speel Dinsdagoggende saam met die dames en dan Saterdae ook hier, maar saam met ‘n ander klub.

Volgens Johanna geniet sy tennis verskriklik baie, juis omdat sy van die spesifieke oefening hou wat daarmee gepaard gaan.

“Ek is nie ‘n rolbalspeler nie, omdat ek nie heeltyd gaan stilstaan nie. Ek hou daarvan om rond te beweeg,” sê Johanna prontuit.

“Vroeër het ek die hele baan vol gespeel, maar nou kan ek nie meer nie. Tog speel ek lekker en geniet dit verskriklik. Dit is net genade dat ek gesond is en gereeld kan speel,” sê sy.

  AUTHOR
Wouter Pienaar
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top