Verkragting – te bang om te praat

“Ons is baie bang hier. Ons kan nie praat nie, ons kan niks sê nie, want ons is bang hulle kom maak ons kinders dood.”
So sê Rosinah Deisel, ma van drie en inwoner van die Baipei gemeenskap in uitbreiding 7, Ikageng.
Sy is een van die baie inwoners van Ikageng wat daagliks vir hul lewens vrees en met die realiteit saamleef dat verkragting ‘n alledaagse gebeurtenis in Ikageng is.
Die Herald het sover vanjaar oor sowat 35 verkragtings in Ikageng berig. Volgens die polisie se statistieke is daar van April 2015 tot Maart 2016, 135 klagtes van seksuele misdryf in Ikageng aangemeld. Dit sluit in verkragting, molestering, seksuele aanranding, poging tot verkragting en statutêre verkragting. Dit is net die voorvalle wat by die polisie aangemeld is, maar volgens Rosinah is die meeste van die slagoffers te bang om te praat en meld hulle dus nie die voorvalle aan nie.
Uitbreiding 7 is een van die dele van Ikageng waar verkragting baie voorkom. “Hier by ons in Baipei is baie tsotsis. Die kinders en vrouens word verkrag en daar is baie goed wat ons nie kan sê nie. As ons praat gaan hulle by ons huise inkom en ons doodmaak,” sê Rosinah.
Sy woon al vir sowat 20 jaar in Baipei. Hier woon die mense almal in makuku’s (sinkhuise) en daar is geen elektrisiteit of rioolstelsel nie. Hulle gebruik gasbottels om kos te maak en kerse vir lig in die donker aande. Hulle gebruik ook emmers as toilette, wat hulle dan in die kanaal langs Baipei leegmaak – dieselfde kanaal waarin vroue en kinders glo gereeld verkrag word.
“Daar is baie dinge wat hier aangaan in ons lewens, maar as jy praat, dan is jy snaaks. Dit is hoe ons lewe hierso.” Sy sê daar is mans in Baipei wat in makuku’s woon en dan kinders tussen die ouderdom van 14 en 18 jaar inneem en hulle dan gebruik vir seks.
“Nadat hulle gerook het wat hulle rook, dan kom hulle van deur tot deur. As hulle klop moet jy oopmaak, anders vat hulle alles wat jy het,” sê sy.
Sy sê daar is baie min polisie en klinieke in uitbreiding 7. “Dit is die probleem. As jy twaalfuur die nag ’n ambulans bel, dan moet jy in die pad staan en wag tot vieruur in die more. In daardie tyd gaan die mens klaar dood. Daar is niemand wat ons kan help nie.”
Nog ’n inwoner van uitbreiding 7, Deborah Sihlahla, het een aand in Januarie geslaap toe ‘n onbekende man haar huis ingekom het. Sy onthou dat sy die voordeur oopgelos het omdat dit baie warm was, aangesien haar huis ‘n sinkdak het.
“Toe ek my oë oopmaak, sien ek die man met ‘n balaklawa oor sy gesig.” Sy het opgespring en geskree sodat haar kinders in die ander deel van die huis haar kan hoor.
“Ek het geweet hy het gekom om my te verkrag, dis hoekom ek vinnig opgespring het,” sê sy. Toe haar kinders die vertrek binnestorm het die inbreker reeds die nag in verdwyn.
Deborah se seun studeer aan die NWU se Potchefstroomkampus en kom net naweke huis toe. Haar dogter werk ook deur die week weg van die huis af, en daarom is sy meestal alleen. Na die voorval vrees sy vir haar veiligheid en het sy, soos baie ander vrouens in die gemeenskap wat alleen woon, haar voordeur met skroewe vasgedraai sodat dit nie kan oopmaak nie.
’n Voormalige raadslid van die destydse Tlokwe Stadsraad, Stone Mahlabe, sê dat dit heel moontlik iemand was wat in die area woon. Hy sê die kanse is goed dat die man geweet het Deborah het nie ‘n man nie en gewag het tot sy aan die slaap is voor hy ingebreek het. “As haar kinders nie daar was nie, dan sou hy haar verkrag het.
“Dis nie net sy nie, daar is baie vrouens met wie dit gebeur,” sê Mahlabe. Aangesien taxi’s nie in die nag ry nie, en meeste mense in Ikageng nie hul eie voertuie het nie, is loop dikwels die enigste opsie. Dit gebeur baie dat vroue in die nag iewers heen moet loop en dan verkrag word.
Mahlabe vertel van twee jong vroue wat een aand van uitbreiding 6 na uitbreiding 7 gestap het om ‘n familielid te besoek. Hulle is toe deur nege mans oorval en in ‘n kanaal ingetrek, waar hulle om die beurt deur die mans verkrag is. “Al is hulle drie of vier wat saam loop, moet hulle sterk genoeg wees, want partykeer kom die mans met wapens en dan het die vrouens geen ander keuse as om te doen wat hulle wil hê nie,” sê hy.
Potchefstroomse eiendomsagent en verkragtingslagoffer, Santi Britz, werk gereeld met vroue en meisies wat in en om Potchefstroom verkrag is. Nadat sy self in haar huis in Potchefstroom verkrag is, het sy besluit om, pleks van stil te bly, eerder ander te help en bewusmaking vir verkragting te skep.
“Ek is absoluut siek en geskok oor die omvang van verkragting in die hele Potchefstroom,” sê Britz. Volgens haar het sy weekliks met slagoffers van verkragting te doen. “As ‘n slagoffer voor jou sit en sy is potblou van die krapmerke, dan weet jy sy het baklei vir haar lewe.” Sy sê een van die grootste probleme in die groter Potchefstroom is dat meisies in die nag alleen huis toe loop. Volgens haar kry baie van hierdie meisies nooit hulp nie, omdat hulle te bang is om dit aan te meld.
“Hulle is bang oor wat hulle familie van hulle sal dink, of die gesin sê hulle moet dit stil hou. Baie keer is dit die pa of die oom wat die meisie verkrag het, dan sê die familie vir haar sy mag niks sê nie, anders gaan die familie daaronder ly,” sê Britz.
Daar is wel ‘n veilige plek vir slagoffers van verkragting om heen te gaan. Thuthuzela Care Centre is ‘n projek wat gestig is deur die NPA (National Prosecuting Authority) om slagoffers te help en veilig te hou vandat die verkragting aangemeld is tot die verkragter skuldig bevind en gevonnis is.
Volgens ’n forensiese verpleegster by Thuthuzela Potchefstroom, Jennifer Villaflores, is van die grootste probleme in Ikageng die gebrek aan polisiepatrollering, die feit dat baie vroue se drankies gedokter word in kuierplekke, vroue wat alleen in die nag huis toe loop en veral dié wat saamrygeleenthede by vreemde mense kry.
“Op plase buite Ikageng is statutêre verkragting veral ‘n groot probleem, aangesien die mense daar dit as normaal beskou. Prostitusie is ook ‘n baie groot probleem en groepsverkragtings is veral besig om toe te neem in Ikageng,” sê sy.
Die terreinbestuurder by Thuthuzela Potchefstroom, Dintle Mojaki, sê dat kinders soms verkrag word omdat hulle kortpaaie skool toe neem.
“Al is hulle laat vir skool, moet hulle nooit kortpaaie deur die bosse neem nie. Dit is gewoonlik die gevaarlikste plekke. Daar is baie pedofiele in Potchefstroom, so kinders moet baie versigtig wees.”
Tog vind baie van die verkragtings plaas binne in slagoffers se eie huise. “Hoe moet ons slaap in die nag as ons weet die tsotsi’s loop hier rond, reg om ons te verkrag?” vra Rosinah. “Die president moet ophou om miljoene uit ons land uit te vat en hy moet kom kyk wat hier in Baipei aangaan,” sê sy.

  AUTHOR
Marianke Saayman
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top