Dis Pukke en Kovsies in eindstryd na oortuigende wen teen Tukkies

Hierdie jaar gaan ‘n nuwe USSA-kampioen gekroon word met Pukke wat Tuks  se vier jaar vashou op die titel gebreek het vanmiddag.

Maak gerus ‘n nota vir 15:00 moremiddag (7 Julie) wanneer Pukke se netbalspan in die eindstryd teen Kovsies te staan gaan kom om die 2017 USSA-wenners te bepaal.

Albei hierdie tradisionele Intervarsity teenstanders, Pukke en Kovsies, het vanmiddag hulle halfeindstryde oortuigend gewen en is gereed om mekaar in die eindstryd aan te vat.

As die ligastryd teen hierdie twee spanne wat 51-51 geëindig het, kan enige iets in die eindstryd gebeur. Verwag maar klomp aksie en vele hoogtepunte môremiddag.

Kovsies het UJ 51-28 geklop, terwyl Pukke te sterk vir Tuks op tuisgrond was en gemaklik met 46-28 gewen het.

Wat in die begin na ‘n taai tweestryd tussen Pukke en Tuks gelyk  het, het in ‘n oogwink na ‘n oortuigende oorwinning verander vir Pukke nadat hulle 9-9 gelykop na die eerste kwart was. Dit was asof Pukke met ekstra energie die tweede kwart begin het, en sodoende kon hulle met ‘n 25-16 voorsprong teen halftyd spog.

Jessica du Plessis se toetrede aan die begin van die tweede kwart sowel as Fikile Mkhuzangwe op hulpverdediger het die wedstryd in Pukke se guns begin swaai.

Van daar af was dit volstoom vorentoe vir Pukke met Anja Esterhuizen op doel wat gereeld die doele begin inpalm het.

Romé Dreyer was weer eens uitstekend op senter en het met goeie aangee en posisionering goeie aanvalsgeleenthede geskep. Jomari Myburgh was ook rats op aanvallende vleuel en het die spanwerk van Pukke beklemtoon.

Pukke het vandag weer bewys dat hulle koel en kalm onder druk is met afrigter Julene Meyer wat se harde werk nou begin vrugte pluk.

  AUTHOR
Wouter Pienaar
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top