Fliek Vlooi: The Girl on the Train

’n Werklose alkoholis, Rachel Watson (Emily Blunt) ry daagliks doelloos met die trein van haar huis af stad toe en in die aand weer terug.

Elke dag sit sy in dieselfde stoel en staar sy by dieselfde venster uit. Elke dag ry die trein verby ’n huis waar die perfekte paartjie, Megan (Haley Bennett) en Scott (Luke Evans) woon en elke dag sit Rachel in die trein en skep ’n verhaal rondom hierdie paartjie – die verhaal van hoe haar perfekte lewe sou wees as haar eie eksman, Tom Watson (Justin Theroux) haar nie verneuk het nie; as sy maar net kinders kon kry, en as sy nie toegelaat het dat alkohol haar lewe oorneem nie.

Op ’n dag is daar iets anders. Rachel sien Megan, soos elke dag, op haar balkon, maar die keer is sy nie saam met Scott nie, maar besig om ’n ander man te soen. Woedend en onder die invloed klim sy van die trein af, want hoe kon Megan haar man dan verneuk?

Rachel word wakker in haar kamer vol bloed. Sy kan niks van die vorige aand onthou nie en het geen idee wat gebeur het nadat sy van die trein afgeklim het nie.

Skielik is Megan vermis en Rachel besef dadelik dat die vreemde man wat die vorige dag saam met Megan op die balkon was, dalk iets te doen het met Megan wat nou nêrens te vinde is nie.

Aangesien niemand sal glo wat ’n vrou wat ‘n alkoholis is en boonop geestesprobleme het, te sê het nie, begin Rachel om self Megan se verdwyning te ondersoek. Sy maak staat op stukkies van haar geheue om die prentjie aanmekaar te sit, sodat sy kan onthou wat presies daardie aand gebeur het.

Ek gee The Girl on the Train 7/10. Die fliek laat jou op jou tande kners en speel rond met jou idee van wie jy dink die skuldige is. Emily Blunt se vertolking van die onstabiele, alkoholverslaafde vrou is briljant. Dit neem egter te lank vir die fliek om werklik boeiend te word, maar sodra die drama begin optel, duur dit tot die einde.

Die DVD is beskikbaar om uit te neem by DVD4home op die hoek van Retiefstraat en Govan Mbekirylaan, of skakel hulle by (018) 293 3895.

  AUTHOR
Marianke Saayman
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top