‘My mamma hekel mos alles’

Dagsê al my maters.
Dit is dalk meer my oupa en ouma-maats wat hierdie staaltjie sal geniet, maar ek moes dit net deel.
My mamma was die ander dag heeltemal moedeloos. Sy het mos nou uiteindelik geleer om te hekel. Nou hekel sy mos alles, of altans sy probeer. Van kombersies tot honde- truitjies.
(Dit is omtrent al wat sy kan hekel). Ek dink sy raak nou oud.
So hekel sy mos nou ‘n hondetruitjie. Dan gebruik sy my vir die paswerk om ‘n idee te kry hoe breed die nek moet wees of hoe lank die gedeelte oor die ruggie moet wees, julle verstaan mos ne? So sit sy toe nou ander dag buite in die tuin, in die winterson. Sy werk weer aan ‘n truitjie vir een of ander hond.
Moya en Mouse, die Rottweilers en ek lê naby haar en hou alles dop. Mamma roep my. Ek spring op haar skoot en wag geduldig dat sy die truitjie vir my moet aantrek om nou te pas. Ons moet mos nou kan sien of dit reg sit. Die truitjie is so halfpad klaar.
Die volgende oomblik vlieg Moya en Mouse op om vir iets by die hek te gaan blaf. Waarvoor hulle gaan blaf het, weet ek nou nog nie, maar ek moes gaan saam blaf. Ek is mos ook ‘n kwaai gevaarlike waghond! Ek moet mos kyk dat die Rottweilers hulle werk doen.
So spring ek toe nou soos ‘n blitsstraal van my ma se skoot af om saam te gaan blaf. Nou hardloop ek met my half gehekelde truitjie ook hek toe.
Julle, en soos ek hek toe hardloop hoor ek net woerrrrrrr en voel hoe die truitjie skielik korter word. Die hele tuin is versier met pienk wol. Mamma was sprakeloos, sy het nie geweet wat om te sê nie, pappa het geskaterlag.
Julle, die wol was om die tweebeen kinders se klimraam, onder deur die struike, oor die stoep en weer met ander pad terug tot waar ek weer op mamma se skoot gespring het. Mamma moes toe maar die wol weer oprol in ‘n bol en weer van vooraf begin hekel. Sy is nou baie versigtig om my weer te gebruik om jassies aan te pas. Gelukkig was sy nie kwaad nie.
Maats, julle moet ‘n skottelende week hê. Onthou om julle kaartjies te koop vir Aardklop. Skottelspop het vir julle ‘n lekker verrassing.
Skottelende groete
Tot volgende week

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top