Goeie buurmanskap maak area veiliger

Stephan Nel (AfriForum Noordwes), Murray Deacon, Herman Swiegers (AfriForum Potchefstroom) en Botes Botha (CB Sekuriteit). Agter: Kapt. Smuts, sers. Lepota, kapt. Wolmarans, sers. Makgeta (SAPD), Henk Colyn, Rudi du Toit (Potchefstroom GPF sektor 3), Cliffe Deacon, Okkie Fourie en dr. Kobus Roux (Potchefstroom brandbeskermingsvereniging) by die bord. Foto: Cindy Colyn

Die idee van goeie buurmanskap is sterk onder grondeienaars in Wyk-ABM.
Volgens Murray Deacon, koördineerder van Wyk-ABM, som die naam van die destydse burgerlike beskermingstruktuur, waar alle paaie vanuit Potchefstroom genommer was. Die Vereeniging-pad se nommer was ABM.
So het Wyk-ABM in 2015 ontstaan sodat daar op ‘n onafhanklike, georganiseerde wyse beter ondersteuning aan grondeienaars, inwoners, plaaswerkers en enige ander lid van die gebied gegee kon word.
“Ons as grondeienaars se eerste prioriteit was om te verseker dat ons ‘n goeie, werkbare, landelike veiligheidstelsel in plek kry, om lede in ons wyk se landelike veiligheid (soos misdaad, brande en siekte onder vee) te kan verbeter,” sê Deacon.
Om dit te bereik het hulle die hulp van verskeie privaat- en staatsinstansies benodig.
“CB Sekuriteit, die Potchefstroom Gemeenskap Polisiëringsforum (GPF), sektor 3 en die Potchefstroom-polisie speel ‘n sleutelrol in die stryd teen misdaad in ons wyk.
“AfriForum Potchefstroom help veral met opleiding en Agri-NW (Potchefstroom-tak) gee leiding en ondersteuning wat landbou betref,” sê hy.
Behalwe vir opleiding in misdaadvoorkoming en brandbestryding wat onderskeidelik deur die polisie en die brandweer en die brandbeskermingsvereniging aangebied word, het Wyk-ABM onlangs borde by die ingange na die wyk opgerig. Dit versoek almal om verdagte optredes en brande aan die beheerkamer, wat deur CB Sekuriteit behartig word, te rapporteer.
“Ons het een groot doel vir Wyk-ABM, om op ’n positiewe, gedissiplineerde en goed georganiseerde wyse as Suid-Afrikaners saam te werk aan ‘n opwindende dag van more.
“Ons daag die res van Potchefstroom uit – wees positief, raak betrokke en help waar jy kan!”

  AUTHOR
Dustin Wetdewich
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top