Amptenaar eis R100 000 se reiskoste in een maand

“In ‘n tydperk van drie maande het beamptes by die Noordwes Departement van Openbare Werke en Paaie R8.7 miljoen in reiskoste geëis,” sê die DA.

Een amptenaar het R99 000 in een maand se reiskoste geëis om te reis.  In ‘n gemiddelde sedan met ‘n brandstofverbruik van 12 liter per kilometer, sal ʼn persoon met R99 000 van Mafikeng na New York byna sewe keer in een maand kan reis!

“Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat mense in Noordwes vervalle paaie en verswakkende infrastruktuur moet gebruik, terwyl miljoene rande vermors word op sulke uitgawes,” het DA in sy verklaring gesê.

Volgens die Ouditeur-Generaal is een van die grootste uitdagings in die provinsie ‘n gebrek aan konsekwentebestuur is, aangesien departemente versuim om vorige gevalle van onreëlmatige uitgawes aan te spreek.

In 2016 het die DA berig dat R400 miljoen verlore gegaan het weens bedrog, korrupsie en finansiële wanbestuur in dié departement.

Die DA doen ‘n beroep op die nuut aangestelde LUR vir Openbare Werke, Mmule Johanna Maluleke, om dadelik ‘n onafhanklike ondersoek na die uitgawes van stapel te stuur sodat almal wat betrokke is by hierdie verkwistende uitgawes aanspreeklik gehou kan word.

Die LUR moet ook voorsorgmaatreëls in die departement instel om te voorkom dat hierdie blatante verkwistende uitgawes weer herhaal word.

“Die DA is siek en sat oor geld, wat bedoel is om basiese dienste aan ons gemeenskappe te verskaf wat gebruik word vir selfverryking. Dit moet stop gesit word en die DA sal alles in ons vermoë doen om dit bloot te stel en te verseker dat belastingbetalers se geld gebruik word vir waarvoor dit bedoel is,” lui die verklaring.

Teen tyde van publikasie het die departement nie op die Herald se navrae reageer nie.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top