Potchefstroom amptenaar onskuldig aan korrupsie

Een van die twee munisipale amptenare in die kantoor van finansies van die JB Marks Munisipaliteit, is onlangs onskuldig bevind aan korrupsie.
Die bevinding is deur die South African Local Government Bargaining Council (SALGBC) gemaak. Dit volg nadat die twee amptenare tydens ’n interne dissiplinêre proses skuldig bevind is. Die amptenare het teen die munisipaliteit se bevinding appelleer.
Twee ander amptenare is glo gedwing om te bedank. Hans-Jurie Moolman, DA koukus voorsitter, het destyds gesê dat die amptenare onregverdig geteiken word. Hy voer aan dat die munisipale bestuurder sondebokke van die amptenare probeer maak in plaas daarvan om self verantwoordelikheid te neem. Kort nadat hulle skuldig bevind is, is hulle afgedank. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle nie die normale verkrygingsprosedures gevolg het nie.
Die amptenare het aankope opgedeel in kleiner bedrae sodat die normale tenderproses omseil kon word.
Die kwessie waarvoor die amptenare aangekla was, is oor die aankoop van houtpale. Volgens die munisipaliteit is daar slegs vir drie maatskappye gevra om kwotasies te stuur vir die aankoop vir die pale. Twee van die maatskappye dieselfde eienaar en die derde maatskappy word deur dié eienaar se dogter besit. Tenders vir die aankope is opgedeel sodat dit onder die R30 000 merk val, wat volgens die munisipaliteit nie toegelaat word nie.
Die munisipaliteit voer ook aan dat die amptenaar wat die betalings goedgekeur het, nie by magte was om dit te doen nie. Die twee amptenare het dokumente van die munisipaliteit aangevra, wat glo sou bewys dat die opdeling van tenderdokumente algemene praktyk is, wat deur die munisipale bestuurder goedgekeur is.
Die munisipale bestuurder het nie die dokumente bekend gestel nie. Die amptenare het geargumenteer en bewyse gelewer dat daar in die verlede besluit is om goedere wat elke dag gebruik word, se aankope onder R30 000 te hou sodat ’n verlengde verkrygingsprosedure nie dienslewering beïnvloed nie.
Die bedingingsraad het bevind dat die amptenaar wat die betaling geteken het, onskuldig is en so gou moontlik weer aangestel moet word.
’n Bedrag van R147 456.96 is ook aan hom toegeken omdat hy onregverdig afgedank is. Die tweede amptenaar het erken dat hy daarvan bewus was dat die drie maatskappye van wie kwotasies verkry is onderling verbind is.
Daar is bevind dat hy verkrygingsprosedure gemanipuleer het en dat sy afdanking regverdig was. Willie Maphosa, munisipale woordvoerder, het die uitspraak van die bedingingsraad bevestig. Volgens hom aanvaar hulle die uitspraak.

  AUTHOR
Dustin Wetdewich
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top