Gemaak met liefde deur Mosaic

Lydia Mokgothu
Lydia Mokgothu

Of dit ʼn egte leer handsak, ʼn fyn gebreide serp of ʼn heerlike stukkie beskuit is, sal jy liefde in elke produk van Made by Mosaic kan vind. Made by Mosaic se produkte is alles gemaak deur lede van die Potchefstroom gemeenskap, wat ʼn verskil maak in die gemeenskap deur om te sien na kinders sonder families.

Made by Mosaic spruit vanuit die welsynsorganisasie Mosaic, wat sowat agt jaar gelede deur weldoeners Meyer en Louise Conradie gestig is om ʼn verskil te maak in die lewens van talle weeskinders in Suid-Afrika.

Martha Phungwako

Martha Phungwako

“Hulle het ʼn roeping gehad om die weeskinders in ons land te begin help. In daardie stadium was daar sowat 2.7 miljoen kinders. Nou is daar oor die 5 miljoen,” sê Terry Niemack, die bestuurder van Made by Mosaic.

Dit is vanuit hierdie roeping waar die Mosaic gestig is. Mosaic se kerndoel is om ouers wat na weeskinders omsien, te help met ʼn inkomste. “Ons het toe gesinne geïdentifiseer wat werklik baie arm is, wat in sinkhuise bly en niks het nie. Baie van hulle het nie eers lopende water gehad nie. Ons bou dan vir hierdie gesinne huise met slaapkamers vir die ouers en die kinders, ʼn kombuis en badkamer met water en elektrisiteit,” sê Niemack.

Sanna Soul

Sanna Soul

Mosaic het toe besef dat baie van die ouers geen opleiding of vaardighede het nie, en daarom was hulle ook werkloos. So het Made by Mosaic ontstaan. Made by Mosaic is die werkskeppingsbesigheid waar die ouers wat deur die Mosaic program geïdentifiseer is, opgelei en in diens geneem word.

Made by Mosaic bestaan uit twee afdelings, die bakkery, waar heerlike koekies en beskuit gebak word, en die leerwerke, waar verskeie leerprodukte soos handsakke gemaak word. Elke produk wat by die leerwerke vervaardig word, het ʼn kaartjie by met ʼn foto en inligting van die persoon wat die produk gemaak het, sodat die koper kan besef dat dit met liefde deur iemand handgemaak is.

Mpho Aliseng

Mpho Aliseng

Made by Mosaic het begin met ʼn klein groepie vroue wat by die Mosaic sentrum in Ikageng begin brei het. Later het die bakkery ontstaan waar die werknemers beskuit gebak het wat later uitgebrei het na koekies en flessies met ʼn verskeidenheid tuisgemaakte produkte soos gekonsentreerde limonade en konfyte.

Op ʼn stadium het ʼn ander niewinsgewende organisasie, die leerwerke, toegemaak, en Made by Mosaic het die besigheid oorgeneem.

Neo Phiri

Neo Phiri

Hulle het altyd by die gemeenskapsentrum in Ikageng gewerk en ʼn paar jaar gelede het die bakkery getrek na ʼn perseel in Potch Industria. Daar is 10 personeellede wat tans by die bakkery en leerwerke by Made by Mosaic werk. Hulle het heelwat besighede aan wie hulle produkte verskaf en meeste van hul besigheid is groothandel. Niemack gaan ook gereeld na markte waar sy dan van die produkte verkoop.

Emily Moeketsi

Emily Moeketsi

Al die geld wat deur die besigheid gemaak word, word dan weer teruggeploeg in die besigheid in en werknemers se salarisse word daarmee betaal. “Ons hardloop Made by Mosaic as ʼn besigheid, en dit word ook so bestuur,” se Niemack.

Niemack bedank al die besighede en individue wat Made by Mosaic al vir lank ondersteun. Vir meer inligting oor hul produkte, besoek Made by Mosaic op Facebook by @madebymosaic of hul webtuiste by http://www.madebymosaic.com  

Vir nog inligting kontak Terry Niemack by terry@mosaicsa.org

 

  AUTHOR
Marianke Saayman
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top