Resensie: Fokofpolisiekar lewer musikale inspuiting met Selfmedikasie

Fokofpolisiekar. Foto: André Badenhorst.
Fokofpolisiekar. Foto: André Badenhorst.

Die ou gesegde lui dat goeie dinge kom vir dié wat wag en vir Fokofpolisiekar se lojale ondersteuners is Selfmedikasie ʼn bewys dat die bende weer terug is met hulle eerste vol-lengte album in 11 jaar.

Fokofpolisiekar se Selfmedikasie (wat deur middel van ondersteuners se befondsing moontlik gemaak is) is soos ʼn uitstekende wyn wat met die jare ʼn formidabele verouderingsproses ondergaan het. Soos enige gehalte wyn is die kenmerkende smaak daar wat jou deur ʼn nostalgiese reis vat, terwyl daar ook met elke sluk ander nuwer smake en sensoriese ervaringe by jou opduik.

Francois van Coke se stem sweef gemaklik tussen sy kenmerkende mengsel van ritmiese en angstige geskreeu en melodiese sang. Hunter Kennedy se lirieke is weer eens puik, Wynand Myburgh se baskitaar dreun waaghalsig op elke snit, Johnny de Ridder se akkoorde en kitaardele los jou in vervoering en Jaco “Snake” Venter slaan sy tromstel met mening wat jou ore laat jubel.

Van die eerste tot die laaste minuut moet jy hierdie 13 liedjies op die album nes ʼn goeie wyn stadig inneem – andersins gaan jy nie die volle glorie in dié musikale reis ervaar nie.

Reis is juis ʼn goeie woord wat die album omskryf met die The Heroes Journey narratief wat in die albumuiteensetting gebruik word. Volgens liriekskrywer, Hunter Kennedy, pas hierdie album se snitte in hierdie narratief met verskillende liedjies wat verskillende dele van die held se persoonlike reis uitbeeld. Dit gaan ook gepaard met die Ouroboros simbool op die albumomslag. Dit is die mite van die slang wat homself verorber in ʼn nimmereindigende siklus van vernietiging en herlewing (maar meer hieroor later, aangesien die resensie nie ʼn literatuurstudie is nie!)

Natuurlik sou dié nie ʼn Fokofpolisiekar album wees sonder persoonlike lirieke wat die luisteraar laat dink en met standpunte saamstem of in hulle eie raamwerk teenstry nie. Die musiek en lirieke beeld die tyd waarin ons leef uit, en raak aan verskillende toepaslike temas met vlymskerp beeldspraak uit Kennedy se pen en Van Coke se tong.

Bowenal is Selfmedikasie ʼn album wat iets vir almal bied. Dit voel asof Fokofpolisiekar iets uit elke era en album van hulle bestaan, sowel as verskeie musikale invloede gevat het en iets nuuts, relevant en eietyds geskep het.

Hier volg ʼn snit vir snit resensie van Selfmedikasie:

  1. Dis in my bloed, baby (9/10)

As daar ooit twyfel was dat Afrikaanse Punk dood is, dan is Dis in my bloed, baby ʼn aardskuddende orkaan wat dié genre met mening laat herleef. Hierdie is klassieke Fokof met harde kitare, vinnige tromme en briljante lirieke wat die politieke sisteem, gepaardgaande angs en temas soos dekolonisering en wit angs aanraak.

Dié nommer herinner aan As Jy Met Vuur Speel Sal Jy Brand met sy vinnige pas, uitdagende lirieke en relevantheid. Dit is ʼn perfekte liedjie om die album te begin en bewys vir almal dat die manne glad nie stoom verloor het nie. Die musiekvideo is ook ʼn juweel en beeld die temas perfek uit. My gunstelinglirieke is “Die dae bloei in jare en ek kners my tande weg, want die sekelmaan hang vanaand soos ʼn vigilante-guillotine. Dekoloniseer my asseblief.”

  1. Parkiebank, herfs 2017 (8/10)

Hierdie is definitief een van die band se uniekste en interessante liedjies wat sterk op ʼn “Talking Heads” inspirasie ontgin is. Hier in die verse praat Francois van Coke waar hy retoriese vrae vra en die luisteraar uitdaag om aksie te neem en meer in die wêreld te sien. Johnny de Ridder se stukkie op die kitaar in die inleiding en tussen verse is ook een van die hoogtepunte en bou dit mooi op. Daar is vele waarhede vervat in die liedjie en spreek verskillende sosiale en politieke kwessies uit: “Miskien dink jy by jouself: ‘Ek is ‘n produk. Ek is ‘n bemarkingsveldtog. Ek is ‘n kommoditeit’. Dis nie hoe ek my kinders wil grootmaak nie. Die middelklas is ‘n buffer en ons moet hier uit. Want die honger mense bly nie lank honger nie.”

Die koor is een van die hoogtepunte en die melodie kan maklik in jou kop vassit: “Ons doen nooit wat ons sê ons gaan nie, wat maak ons nog hier? Hierdie plek is nie ons s’n nie. Huis is waar jou mense is. My mense het nie tuisland nie. Ons doen nooit wat ons sê ons gaan nie. Wat maak ons nog hier? Hierdie plek is nie ons s’n nie.”

  1. Afgesonder (8/10)

“Skerp Afrika-son wat klop op my rug. Panga-woorde wat op my oerwoud-ore val” is hoe hierdie nommer op ʼn hoogtepunt reg van die staanspoor af begin. Die kitaarmelodie pas perfek by die inleiding wat dan teenstrydig met die vinnige rock & roll ritmes in die verse en die hoofmelodie is. Francois van Coke is op sy sterkste in dié een waar ʼn mens die emosie in sy harder en sagter stemtoon hoor. Hierdie is een van die beste liedjies op die album en is ʼn goeie mengsel van harde klanke waarna op kopgeskud kan word sowel as introspektiewelik op klankpatrone kan nadink. Die hooftema raak aan hoe Suid-Afrika afgesonder is en veral die Wes-Kaap teenoor die hele land. Soms is dit beter om die waarheid in die gesig te staar as om in ʼn spreekwoordelike borrel te leef: “My onkunde is dalk my kruis. Ruggraat in die sitkamer verloor. Baklei en skree oor en oor. Dit is makliker om kinders te maak. As om grootmens te speel.”

  1. Ek glo in die son (8/10)

Hierdie is ʼn aanspraakmaker vir een van die mooiste ballads wat FPK al geskryf het, en fokus op alles wat vir die groep belangrik is en waarin hulle glo en vertrou. Die sagte melodiese kitaardele pas perfek in hierdie liedjie en dit meng perfek met die lirieke wat ʼn gevoel van heimwee aanraak. Van Coke is iemand wat weet hoe om hartsnare met sy stem te roer en hy lewer hier van sy beste werk op die album. Hierdie gaan definitief ʼn treffer wees wat luidkeels by shows gesing gaan word: “Daar is eerlikheid en opregtheid hier en ʼn mens voel dat die band meer verantwoordelikhede het en met nugterheid kan fokus op dit wat werklik belangrik is en hulle dryf: “Ek glo in die wind. Ek glo in die reën. Ek glo jy moet alle mense hanteer. Soos wat jy hanteer wil word.”

  1. Selfoontoring van Babel (9/10)

Daar is min dinge so relevant soos die impak wat tegnologie, internet en sosiale media op ons daaglikse lewens het en in “Selfoontoring van Babel” vat Fokofpolisiekar hierdie tema na nuwe musikale hoogtes. Die lirieke fokus op hoe mense ironies in ʼn tydperk waar almal nader aan mekaar deur middel van tegnologie is, maar tog verder verwyderd is en hul kommunikasievermoëns verloor. Musiek is daar om ʼn tydperk en sosiale omstandighede vas te lê en hiervan maak FPK goeie werk met ʼn sistemiese afbreek van hierdie kettings. Snake se tromme bons ritmies hier in jou oordromme en hy bou die fondasie van die lied – terwyl die ander instrumente in en uit vloei in ʼn vinnige nommer wat jou laat dink: “Biologiese rekenaar. Kopieë van mekaar. Gebreekte antenna. Ons sukkel om te kommunikeer met mekaar.” Sonder twyfel een van die diamante op die album.

  1. Ek is cool (Ons is fukt up) (7/10)

Die invloede van Weezer sowel as Green Day is nogal sterk in hierdie nommer wat handel oor ʼn bittersoet nostalgie wat die band ervaar om terug in Bellville te wees waar hulle grootgeword het. Hulle het as mense verander, maar bevind hulself weer in die voorstede. Hierdie is ʼn persoonlike liedjie wat verskeie gebeurtenisse en herinneringe letterlik terugroep van hulle tienerjare sowel as hoe die hede hier tans inpas: “Ons was kickflip by die trappe af na koffiekroeg. Ons was punk-rock by Danie Uys Park. Nou net ‘n knik in die supermark groet. En ek wil dit nie erken nie. Het niks om vir jou te sê nie, maar ek hoop jy dink nog ek is cool.” Dit is hier asof die tema hier nes die albumomslag van die slang wat homself verorber sterk na vore tree – die siklus herhaal homself weer en nou maak hulle kinders groot waar hulle as kinders die wêreld leer ken het.

Die musiek het ʼn lekker tempo met veelsydige kitaarwerk en ʼn goeie balans tussen verskillende klanke. Definitief een van die liedjies wat beter met elke luistersessie raak.

  1. Wat is hierdie liedjie se naam? (8/10)

Hierdie kort en kragtige akoestiese nommer tref jou soos ʼn bom met belaaide lirieke oor gesinne, generasies en hoe sekere eienskappe oorgedra en kringlope voltooi word. Die musiek is salig, maar die boodskap reguit en duidelik. Hier word daar veral op ʼn siniese perspektief uit gebroke huise gefokus waar ʼn man as iets negatiefs gesien word: “Grootseun huil net in die reën. Pa se meisiekind moet onderdanig wees. Aan ‘n man wat sy gevoelens opkrop. Tot sy vuiste deur die kamerdeur ontplof. Die siklus van haat. Bou al van kindsbeen af op. Sterk wees. Noodsituasies soos ‘n recce navigeer. My trane onderdruk en my emosies beheer.”

Werklik is hierdie bogenoemde liriek van die sterkste lirieke wat Kennedy al neergepen het en fokus op temas van angs, identiteit en manlikheid onder andere.

  1. Belowe Jou, Belowe My (7/10)

Een van die grootste uitdagings in die lewe is hoe om verhoudings te maak werk en rusies in verhoudings te hanteer en in hierdie snit word dit deur middel van verskillende musikale elemente vasgelê. “Belowe jou, belowe my” begin met ʼn rustige akoestiese melodie voor dit in die hoofmelodie invaar. Die vers jukstaponeer nou weer hier met ʼn donkerder kitaarmelodie en ritmiese tromwerk wat die platform lê. Die lied vloei ook uitstekend met harder en sagter dele wat miskien op die siklus van ʼn verhouding dui. Daar is moeilike tye, maar op die ou einde staan beloftes sterk. Die lirieke: “Belowe jou en belowe jy my. Dat jy sal probeer om beter te verstaan? As jy iets het om te sê jy jou mond oop sal maak? Dan sal ek probeer om myself minder te haat Want ek het myself en ons al genoeg skade gemaak.”

  1. Selfmedikasie (9/10)

Die titelsnit van die album trek weer terug na die band se punk wortels met een van die beste koordele en kitaarspel waar De Ridder en Kennedy uitstaan. Die musiek herinner aan daardie tipiese Southern California Punk wat ouens soos Blink-182 bekend gemaak het – nie noodwendig ʼn slegte ding nie. Die melodieë (beide vinnig en stadig) werk hier en is een van die sterkste instrument-gedrewe liedjies op die album. Die lirieke handel oor om tevrede te wees met waar jy vandaan kom en aan te hou leef. “Waar bly jy? Jy bly stil. Wat sê jy? Sukkel om jou te hoor. Bo die kakofonie. Deur die lugbesoedeling. Sukkel ek om jou te sien. Selfs met die selfmedikasie.” Een van my gunsteling snitte op die album.

  1. B2CY (7/10)

Nostalgie speel weer ʼn groot rol in hierdie een waar terugflitse en persoonlike verwysings die luisteraars ʼn indruk van die groep se tienerjare kry. “B2CY” het daardie 90’s grunge gevoel veral na die inleiding met harde kitare wat in jou oordromme ontplof. Nadat jy wakkergemaak is dan word gebeure a-la Pixies verbatim deurgegee met ʼn blik op ons land se demokratiese vernuwing: “Dit was Woensdagaand 27 April 1994. Hy was 13 jaar oud. Naïef en onbewus, maar ja.”

Die persoonlike en sosiopolitieke kommentaar spreek in baie mense se lewens en ʼn mens moet die liedjies juis ʼn paar keer luister om dieper betekenis te kry. Die musiek beeld ook die amper deurmekaar en onseker verlede met die hede uit met interessante ritmes en effekte wat daardie tydperk weerspieël: “Harde negatiewe musiek. Het my lewe gered (het my lewe gered). Dit hou my kalm, soos ‘n landmyn. Ek bly. Nou’s ek stil soos ‘n bom (ek bly stil soos ‘n bom)”

  1. Komma (8/10)

As daar een liedjie op die album is wat ʼn mens hoendervleis kan gee dan sal dit “Komma” wees wat met De Ridder se klaviermelodie iets heeltemal nuut op die album bied. Hierdie is ʼn diep en persoonlike lied van beloftes en opstanding waar liefde seëvier. Volgens Kennedy is hierdie ʼn lied oor sy dogter Maria, sowel as ander persoonlike gebeurtenisse. Tog voel ek dat luisteraars hulle eie betekenis ook hier kan voeg met relevante lirieke soos “In jou gesig is ‘n sterrestelsel. Ek is ‘n kind wat na die sterre kyk. As jy jou hande deur my hare vryf. In die donker voel ek weerloos. Voel ek weer klein.” Daar word ook op die kreatiewe skryfproses gefokus waar daar ʼn gedurige proses van begin, einde en die herhaling daarvan plaasvind – weereens ʼn klem op siklus wat sterk op die album kom.

  1. FLVJ (8/10)

Hierdie liefdesliedjie is pure Fokofpolisiekar met persoonlike verwysing en puik metafore en vergelykings wat die essensie van liefde vasvat. Daar is trekke van Jimmy Eat World invloede hier veral in die tema waar rou emosie en eerlikheid intree: “Jy’s die volume op my radio. Sout in my wonde. So hoog as moontlik. So seer. Jy maak my gesonder. Dinamiet kom in klein boksies. Dis antisepties, maar liefde is toksies.” Is net een voorbeeld hiervan.

Van Coke is ook hier op sy beste in die koor waar hy die tema perfek met sy stem en uitbeelding van die lirieke neerlê. Op die ou einde sê ons te min vir mekaar hoe lief ons mekaar het en juis daaruit ontstaan die noodsaaklikheid daarin om mekaar te koester ten spyte van moeilike tye.

  1. Lied van die Slang (7/10)

Die album sluit af met ʼn akoestiese nommer wat oor die dood en al die permutasies daaraan handel. “Hel is om alleen te wees. Hel is om mekaar te vrees. Hel is om oud te raak en om genadedood te smeek,” is een voorbeeld van die band se siening oor die dood sowel as wat in die hiernamaals gebeur. Dit is ‘n lied wat vanweë sy vrolike majeur-struktuur direk in teenstelling met die denkende lirieke is. Dit daag die luisteraar uit, en op die einde soos goeie musiek (of kuns) gee dit die luisteraar kans om selfondersoek te doen en met stellings en vraagstukke te worstel en daarmee saam te stem of hul eie siening te ontwikkel.

Om op te som is hierdie album ʼn verrykende luisterervaring wat op persoonlike groei in die groep dui. Daar is nuwe vrugte wat uit hulle Punk en Rock & Roll wortels groei, maar tog staan hulle sterk in die essensie van wat Fokofpolisiekar is. Tog wens ek vir nog so een harde nommer in dieselfde lyn as “Dis in my bloed, baby.” Hierdie is ʼn tydkapsule van Fokofpolisiekar in 2017, waar musikale invloede en die verskeidenheid daarvan met passie, bevryding en onafhanklikheid jou op ʼn diepsinnige rockreis neem.

Ek gee die album 8/10.     

(Wouter Pienaar – Potchefstroom Herald)

Facebook: https://www.facebook.com/Fokofpolisiekarband/

Twitter: https://twitter.com/Fokofband

iTunes: https://itunes.apple.com/za/artist/fokofpolisiekar/id292107415

*Die album is tans in enige goeie musiekwinkel en op iTunes beskikbaar.

 

 

  AUTHOR
Wouter Pienaar
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top