So by the way… jy’s op Kersvader se stout-lysie

Marianke Saayman
Marianke Saayman

As jy nou al ooit gewonder het hoe erg jy kan droogmaak voor jy op Kersvader se stout-lysie kom, dan vertel ek jou sommer nou, want ‘n hele klompie mense in Potchefstroom behoort daar te beland na wat ek verlede naweek uitgevind het.

Santa Shoebox is ‘n niewinsgewende organisasie wat jaarliks kersgeskenke insamel vir minder-bevoorregte kinders reg oor die land. Mense wat bereid is om te help kan dan op hul webtuiste gaan, waar daar ‘n lys is van die kinders in jou omgewing waarvoor daar dan nou ‘n geskenk benodig word.

Dis maklik: jy kies ‘n kind, klik op “pledge”, en so belowe jy dan dat jy vir die kind ‘n geskenk gaan gee. Die geskenk hoef nie groot of duur te wees nie, solank daar net 8 items in ‘n kleurvolle skoendoos is.

Mense het ge”pledge” en voor die organiseerders hul oë kon uitvee, was al die kinders op die Potchefstroom-lysie gekies. Almal was opgewonde, want dit beteken dat elkeen van hierdie arme kinders, waarvan baie ook weeskinders en gestremde kinders is, dié Kersfees ‘n geskenk gaan kry… maar tog gaan elkeen NIE ‘n geskenk kry nie!

Op die naweek toe die geskenke nou na die aflaaipunt toe moes kom, het 49 van hierdie beloftes nie waar geword nie. Mense het of vergeet om hul skoendose te maak en te bring, of hulle het net eenvoudig nie omgegee nie.

49 minder-bevoorregte kinders gaan nou nie Kersgeskenke kry nie, danksy mense wat dit net nie belangrik genoeg geag het om daarvan te onthou nie. Ek hoop werklik die mense wat hiervoor verantwoordelik is, besef watter nagevolge hul nalatigheid het.

As jy ‘n belofte maak, is jy veronderstel om daarby te hou, maar nou is jy op Kersvader se stout-lysie!

  AUTHOR
Marianke Saayman
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top