Kersvader se reuse eikeboom

Riaan van der Walt langs die reuse eikeboom. FOTO: Johané van den Berg.
Riaan van der Walt langs die reuse eikeboom. FOTO: Johané van den Berg.

Johané van den Berg

Ek parkeer my kar onder die grootste akkerboom wat ek in my lewe aanskou het, met sy takke wat baie meters boontoe, na potblou plattelandlug, uitreik. ’n Lang, vreemde litteken sny ’n kronkelpaadjie dwars oor die boombas, van die boonste takke tot by die stam.

Sodra ek die voordeurklokkie gelui het, kom maak ’n vriendelike oom met sneeuwit hare in ’n netjiese strepieshemp die deur oop. Hy lyk presies soos Kersvader, net sonder die baard en rooi pak. “So ja, nou is my tuinwerk ook klaar, en ons kan kuier,” sê Oom Riaan van der Walt terwyl hy vir my van onder sy ligtegrys wenkbroue loer. “Drink jy tee of koffie?”

Volkome tuis in sy geel kombuisie skakel hy die ketel aan, pak ’n paar bekers op ’n skinkbord en gooi ’n paar groot stukke beskuit en soetkoekies in ’n bak.

“Ek is grootgemaak in ’n huis waar rooibostee deeglik getrek moet word voordat mens dit kan bedien,” verduidelik hy terwyl hy die koppie vir ’n minuut in die mikrogolf sit. “My ma het altyd ’n groot pot tee op die koolstoof gehad, en dit het heeldag gestaan en trek.”

Ons beweeg na die sitkamer en hy beduie met ’n wye gebaar dat ek ’n stoel moet kies. “Daar is geen ‘pecking order’ in hierdie huis nie, kind, jy kan sit net waar jy wil,” sê hy en gaan maak homself tuis op ’n stoel waar die kussing al begin om ’n duik te maak. Ons kuier gemaklik met die geluid van die grassnyer in die agtergrond, en een ding wat ek nou al van Calderbanklaan se Kersvader kan sê, hy maak wraggies lekker tee.
Dalk bietjie oud maar nog lank nie koud

Op die ouderdom van 66 is Oom Riaan veronderstel om afgetree te wees, maar dit is duidelik dat hy nie baie van stilsit hou nie.  “Dis nie dat ek wou aftree nie, ek moés,” sê hy. Hy gee egter steeds klas by Open Distance Learning, en bly besig deur uitsendings op te neem, opdragte te merk en eksamens op te stel.

Soos hy sy storie vertel, kan ek sien dat hy gewoond daaraan was om deeglike beplanning vir sy dae te doen, omdat hy vir ’n groot deel van sy lewe baie besig was. Hy was immers op ’n stadium koshuispa by Oosterhof én Klawerhof. Tegelyk.

“Later was ek en Tannie Martie (sy vrou) net by Oosterhof, maar ons was in totaal 17  jaar lank koshuisouers,” vertel hy. “En in daai hele tydperk het ek nooit nodig gehad om ’n kind se ouers te bel en te sê jou kind is dood nie. Dit is nie omdat ons so oulik was nie, dis net die Here se genade.”

Oom Riaan is ook deeglik vertroud met verskeie Puk-strukture. Hier het hy destyds onderwys geswot, twee jaar lank op die SR gedien, en is later opsigter by die Sanlam-ouditorium. “Vandag nog, as jy my ’n sitpleknommer vra, kan ek jou maklik wys waar dit is,” sê hy met trots in sy diep, growwe oupa-stem. “My drie kinders het op ’n stadium in die ouditorium grootgeword, hulle ken die plek baie goed.”

Daar is ’n eikeboom op my stoep

Wanneer ek hom uitvra oor die reusagtige boom wat op sy grasperk staan, en wat deur kykNET as die grootste eikeboom in die Suidelike Halfrond bestempel is, vertel hy twee verskillende stories. Die eerste een gaan oor ’n verlowing.

“Die jong man het die oggend hier aangekom en gevra of hy ’n platform in die boom mag sit,” vertel hy, “en daarna het hy ’n leer daarin laat staan en die platform vasgemaak in die boom. Toe dek hy mooi vir ’n piekniek. Daar bo in die boom vra hy sy meisie toe om met hom te trou. Hoog in die takke en lekker deur die blare, hoe die gesegde nou ook al gaan,” lag hy lekker.

Dis die een kant van hierdie boom se geskiedenis. Die ander storie is minder rooskleurig.

“Dit was ’n klomp matrieks van Volkskool, en hulle het een of ander partytjie by die dam gehad,” sê Oom Riaan.

“Die ouens het redelik wild gekuier, en paar van die pelle wou toe nie hê twee van die ouens moet met die motorfiets ry nie. Die pelle steek toe die helmets weg, in plaas van die motorfiets se sleutels. Toe ry hulle in elk geval, en toe hulle hier  verbykom, breek hulle deur die houtpaaltjies, en ’n stuk hout steek deur die motorfiets se speke. Die motorfiets het toe gejacknife, en die agterste outjie is teen die boom geslinger. Die jong man wat voor gesit het, het nie veel skade opgedoen nie, maar die agterste een is agt dae later in die hospitaal oorlede. Net omdat hy nie ’n helmet gedra het nie.”

Hy gaan wys my die houtkruis wat teen die boom vasgespyker is ter ere van die jong man wat daar verongeluk het. Toe ek vra oor die litteken op die boomstam, verduidelik hy dat ’n weerligstraal die boom ’n paar jaar gelede getref het. “Ek is glad nie ’n plantkundige nie, maar ek dink persoonlik daardie weerligstraal het die boom ’n wilde hupstoot gegee, want nou groei dit vinniger as ooit tevore. Dis soos steroids!”

Die lewe is net ’n lied

Waar hulle vir sewentien jaar op kampus gebly het, stel hul huidige tuiste duidelik Oom Riaan en sy vrou baie tevrede. “Veral hierdie tyd van die jaar kom neem mense gereeld onder die bome foto’s vir hul dinee’s of matriekafskeid-funksies, en mense stap en draf van vroeg tot laat in die straat. Ons geniet die jongmense se teenwoordigheid.”

Voordat ek moet groet, wys Oom Riaan my eers sy vrou se miniatuur bonsai-boompies wat buite in die tuin staan, en sy groot broodbome. “My vrou is ordentlik boom-mal,” lag hy. “Sy het juis haar meestersgraad oor dié goed gedoen,” en trots haal hy die donkergroen boek uit om vir my te wys. Verskeie foto’s van die einste enorme eikebome voor teen die straat pryk op die blaaie van die boek, in verskillende seisoene.

Toe ek in die kar klim om te ry, kyk ek heel anders na die groen reus op die grasperk. Oom Riaan groet my by die kar, en voordat hy totsiens sê, kyk hy na River Café aan die ander kant van die straat. Hy spreek ’n wens uit van iemand wat gelukkig is met sy vreedsame lewe.

“Ek hoop dat, as Tannie Martie terugkom, ons bietjie ’n ou skemerkelkie kan gaan drink daar. Dit kan mos nou lekker wees!”

Vir meer inligting oor die historiese eikelaan, klik hier

 

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top