update


Polisie naby aan deurbraak in verkragtingsake

Dankbaar, verlig, ’n onbeskryflike gevoel.
Dit is hoe twee slagoffers van ’n verkragter, wat homself as ’n polisieman voorgedoen het, gesê het hulle sal voel as die man vasgetrek word.
Volgens ’n bron na aan die ondersoek is die polisie besig om baie goeie inligting op te volg en is hulle naby aan ’n deurbraak in die saak.
Die Herald het sedert 2014 al oor drie voorvalle berig waar dieselfde modus operandi gevolg is.
Die man doen hom as ’n polisiebeampte voor, waarna hy jong vroue wat laat in die aand alleen uit kuierplekke kom, agtervolg en voorkeer.
Hy sê aan sy slagoffers dat hy hulle gaan toesluit omdat hulle onder die invloed bestuur, maar dan wen hy hulle vertroue deur aan te bied dat hy hulle by die huis sal aflaai.
Hy klim dan in die vroue se voertuig of laai hulle in sy voertuig. Daarna neem hy sy slagoffers na afgeleë plekke waar hy hulle verkrag.
Wanneer die vroue probeer vlug of terugbaklei, dreig hy hulle met ’n mes.
Volgens al drie slagoffers het hy verskeie kere aggressief teenoor hulle begin optree.
Tydens die eerste voorval wat in Oktober 2014 op die Carletonville-pad gebeur het, het die vrou uit die voertuig gespring toe sy besef dat alles nie pluis is nie. Die man het haar agternagesit en aan haar hare gegryp.
“Ek het oor bourommel geval, maar het aanhou hardloop. Ek het geskree terwyl ek gehardloop het omdat ek geweet het daar is woonkomplekse naby,” vertel sy. Sy het daarin geslaag om weg te kom.
Met die tweede voorval in Oktober 2015 het die man sy slagoffer se sitplekgordel vasgemaak voordat hulle begin ry het. Sy het probeer vlug, maar hy het haar met ’n mes gedreig. Die laaste voorval waarvan die Herald bewus is, het in Februarie 2016 gebeur. Die vrou is na die agterkant van die Trimpark geneem. Sy het ook probeer vlug, maar hy het haar aan die hare gegryp en ’n mes teen haar keel gedruk. Sy het steeds probeer terugbaklei toe hy haar begin verkrag het.
“Hy het my begin wurg waarna ek besef het ek sal moet ophou om te baklei, anders gaan hy my doodmaak,” het sy gesê.

Die jong vrou wat in 2015 onsedelik aangerand is deur ‘n man wat presies dieselfde modus operandi gevolg het. Foto: Dustin Wetdewich

Al drie slagoffers stem saam dat hulle nie gaan toelaat dat hierdie voorvalle hulle lewens verwoes nie. Die laaste slagoffer noem haarself nie eers ’n slagoffer nie.
“Ek is ’n “survivor”. Hoewel daar ’n deel van my dood is daardie aand, is ek weer gebore en het sterker aan die anderkant uitgekom,” het sy gesê. Hulle moedig vroue aan om die sake aan te meld. Die tweede slagoffer het by vroue gepleit om nie bang te wees om te praat nie.
“Hoe meer sake aangemeld word, hoe meer bewyse kan opgebou word teen verkragters,” het sy gesê.
Die vrou wat verlede jaar verkrag is, glo vroue meld nie sake aan of praat nie daaroor nie, omdat hulle dalk voel asof dit hulle skuld is.
“Ek het self daarmee geworstel. Ek het gedink as ek dalk iets anders gedoen het, het dit nie met my gebeur nie. Ek het later besef dat dit nie my skuld is nie, dit is sy skuld.”
Die tweede slagoffer het met dieselfde geworstel. Volgens haar het sy gedink sy moes van beter geweet het.
“Ek het net nooit gedink dat so iets met my sou gebeur nie,” het sy gesê.
Volgens hulle bestaan daar ’n stigma rondom verkragting dat vroue op ’n manier daarvoor “soek” deur gewaagd aan te trek of te veel te drink.
“In my geval het ek nie eers so aangetrek nie, maar dit het steeds gebeur,” het die laaste slagoffer gesê.


Volgens haar doen die polisie alles in hulle vermoë om die misdadigers vas te trek.
“Hulle gee regtig om vir die slagoffers. As so iets met jou gebeur, gaan polisie toe. Hulle neem jou na die Thutuzela-sentrum waar verpleegsters baie mooi na jou kyk en met groot deernis met jou werk,” vertel sy. Polisiewoordvoerder, ao. Mpho Manyoba, het destyds aan die Herald gesê mense moenie op enige plek stilhou nie.
“As jy onveilig voel, ry na die naaste polisiestasie of bel die polisiestasie vir ondersteuning. Maak net seker die beamptes verstaan dat jy wil hê hulle moet jou na die polisiestasie toe volg,” het Manyoba gesê. Die polisie het in April verlede jaar ’n versoek gerig dat enige iemand met inligting oor die sake, die eenheidbevelvoerder by 082 8561748 moet skakel. ’n Penskets van die verdagte is ook in April verlede jaar aan die publiek uitgereik.

CSS, Crime ad

 

  AUTHOR
Dustin Wetdewich
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top