Verbruikerswetenskap-studente maak ’n verskil by Made by Mosaic

Petroné de Bruyn

Die Noordwes-Universiteit se Verbruikerswetenskap honneursstudente het hulle puik van hulle taak gekwyt tydens hulle praktiese projek vanjaar by Made by Mosaic.

Die projek dien as praktiese toepassing van ’n deel van die kursus, genaamd Volwasse Opvoeding en Opleiding. Die doel van die module is om die studente in staat te stel om opleidingsprogramme vir volwassenes te ontwikkel en aan te bied.

Tydens die praktiese projek moet die studente hulle kennis toepas deur werkende volwassenes se persoonlike of werkverwante behoeftes en/of leemtes te identifiseer. Daarna is hulle verantwoordelik om opleiding- of opvoedingsprogramme te ontwikkel wat aan dié behoeftes sal voldoen.

Made by Mosaic is ’n winsgewende organisasie wat ontwikkel is om Mosaic Community Developments (’n niewinsgewende organisasie) te ondersteun. Die organisasie ontwikkel werksgeleenthede vir pleegouers en minderbevoorregte individue in Ikageng.

Verder poog hulle om behuising, verdere opvoeding en algemene welstand in Potchefstroom se informele nedersettings te verbeter.

Die studente het ’n keuse om hulle honneurs in mode of voedsel te spesialiseer en daarom is Made by Mosaic as geskikte onderneming geïdentifiseer, aangesien hulle leer- en gebakte produkte aan die publiek verskaf. Die produkte word in ’n leerfabriek en bakkery in Potchefstroom se industriële gebied vervaardig, waar die mode- en voedselstudente onderskeidelik ingeskakel het. Nadat die studente ’n paar dae by die verskeie afdelings van Made by Mosaic deurgebring het, het hulle die volwassenes se behoeftes geïdentifiseer.

Daarna is die opvoedingsprogramme beplan, goedgekeur, ontwikkel en geïmplementeer. Die volgende programme is aangebied, hetsy dit tot die bevordering van persoonlike- of werkverwante welstand bygedra het: herwinning van afvalleer en uitbreiding van produktereeks (maak van leeroorbelle en chokers), beroepsgesondheid en veiligheid en ergonomika, ontwikkeling van volhoubare groentetuine, algemene persoonlike higiëne en higiëniese beginsels in die bakkery, opstel van begrotings, streshantering, asook basiese kook- en bakvaardighede.

Volgens die bestuurder van Made by Mosaic, Terry Niemack, is die opleidingsprogramme suksesvol geïmplementeer en het dit onskatbare waarde toegevoeg tot die vaardigheidsontwikkeling van die werknemers, asook die onderneming. Die projek het ook vir die studente waardevolle praktiese en lewenservaring gebied.

 

  AUTHOR
Marianke Saayman
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top