Finale uitstel in slagpale moordsaak

Oom Koos, wat deur rowers dood geskiet is.

Een van die mans wat daarvan aangekla word dat hy betrokke was by die moord en roof van mnr. Koos van der Leeuw, is gewaarsku dat die saak nie weer uitgestel sal word nie.
Samuel Motsi is Maandag in die hooggeregshof gewaarsku dat as hy teen 30 Januarie volgende jaar steeds nie sy regsverteenwoordiging uitgeklaar het nie, die saak sal voortgaan en hy homself dan sal moet verteenwoordig.
Die saak is sedert verlede jaar ten minste twee keer uitgestel oor beskuldigdes wat probleme met regsverteenwoordiging het.
In November verlede jaar is dit uitgestel sodat twee van die beskuldigdes, Tefu Mohua en Samuel Motsi, probleme met hul regsverteenwoordiging kon regstel. In September is die saak weer uitgestel omdat Motsi se prokureur nie betyds toegelaat is om haar kliënt in die hooggeregshof te verteenwoordig nie, waarna ’n ander regsverteenwoordiger moes oorneem. Dié regsverteenwoordiger moes kans gegee word om vir die verhoor voor te berei.
Die verhoor moes Maandag begin, maar omdat Motsi glo nie sy regsverteenwoordiger kon betaal nie, het hy gesê hy gaan aansoek doen om regshulp. Die saak is tot 30 Januarie uitgestel vir verhoor.

Bibi Nycamphalala en Tefo Mohua wtydens ‘n vorige hofverskyning

Mohua, Motsi, Aida Lebaka en Bibi Nycamphalala word aangekla van onder meer moord en roof met verswarende omstandighede.
Die aanval vroegoggend op 18 Augustus 2015 by die Potchefstroomse slagpale op mnr. Van der Leeuw, het skokgolwe deur die plaaslike gemeenskap gestuur.
Gewapende rowers het hom en sy vrou Marietjie omstreeks 06:00 by die slagpale oorval toe hulle daarheen gery het om ‘n transaksie te beklink.
Die rowers het sowat R77 000 kontant tydens die rooftog gebuit en mnr. Van der Leeuw in die kop geskiet, nadat hy een van die rowers geskiet het.
Marietjie het tydens die skietery in hul bakkie platgeval en gemaak asof sy dood is. Sy was ongedeerd, maar die swaar gewonde mnr. Van der Leeuw het enkele ure later in die hospitaal gesterf. Die rower wat hy geskiet het, is vermoedelik later in sy makkers se wegkomkar dood.
Hulle het hom toe glo uit die voertuig gegooi, waarna die rower se familie ‘n lykbesorger betaal het om sy liggaam te begrawe.
Mohua en Motsi is in 2015 op borgtog van R10 000 elk vrygelaat. Nycamphalala het nie om borgtog aansoek gedoen nie.
Lebaka, wat geboorte geskenk het terwyl sy in aanhouding was, het verlede jaar vir die eerste keer om borgtog aansoek gedoen, maar dit is geweier.
Beide Mohua en Motsi se borgtog is verleng, Nycamphalala en Lebaka bly in aanhouding.

  AUTHOR
Dustin Wetdewich
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top