Motorfietsryers ry NW plat teen plaasmoorde

Honderde motorfietsryers het die afgelope paar weke die provinsie deurkruis om hul ongelukkigheid oor die groot getal plaasmoorde te kenne te gee.

TJ Mare oorhandig 'n brief van waardering en 'n Bybel aan kapt. Maleshwane Mathopeng van Potchefstroom SAPD. Foto's: Marianke Saayman

TJ Mare oorhandig ‘n brief van waardering en ‘n Bybel aan kapt. Maleshwane Mathopeng van Potchefstroom SAPD. Foto’s: Marianke Saayman

Die groep, Bikers Ride Against Farm Murders, het op Sondag 3 Desember die Potchefstroom-polisiestasie besoek as deel van hul 911RIDE-NW projek, nadat hulle reeds meer as 1 800 km afgelê het en sowat 15 polisiekantore in die provinsie besoek het.

Hulle het ’n brief van waardering aan elke polisiestasie oorhandig en saam gebid vir die veiligheid van die boere in die land.

“Dankie vir die wonderlike werk wat julle doen. Ons vra dat julle sal aanhou om die plaasveiligheidstrukture mooi te bou sodat ons die element wat verkeerd is in Suid-Afrika kan uitsorteer,” het die organiseerder, TJ Mare Sondag aan die Potchefstroom-polisie gesê.

“Ons weet dat dit nie net die polisie is wat ’n verskil kan maak nie, maar die gemeenskap ook,” was sy woorde voordat hy ’n brief van waardering en ’n Bybel aan die polisie oorhandig het. Die groep motorfietsryers het daarna saam gebid.

“Hierdie projek is nie net om bewusmaking teen plaasmoorde te skep nie, maar ook om die polisie te bedank vir dit wat hulle reeds doen en ook om die samewerking van die polisie en die gemeenskap te bevorder,” sê Mare.
Die groep gaan in April 2018 voortgaan om die Kaap te deurkruis en polisiestasies daar ook te besoek.

* Volg hulle projek op Facebook by Bikers Ride Against Farm Murders.

  AUTHOR
Marianke Saayman
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top