Laat die Kersfeesvlam in jou hart konstant brand

Vandat ek kan onthou was Kersfees nog altyd kleurvol en helder gewees. Die dominante kleure van groen en rooi met Kersbome en versierings in die winkelvensters en inkopiesentrums het altyd my aandag getrek en my in vervoering gehad.
Ook op die televisie was daar altyd programme en flieks wat hierdie kleurvolheid en feestelikheid met allerlei liggies uitgebeeld het. Daar was ook altyd die flieks wat die klassieke “my Kersboom is groter as joune-tema” uitgebeeld het. Tipies Amerikaans as ek so tong in die kies kan sê. Natuurlik het daar ook ‘n wit winterwêreld op die TV verskyn met sneeumanne en sleë sowel as Kersvader wat sy mollige lyf in skoorstene indruk en vir die soet kinders geskenke gee.
Ek dink een rede hoekom hierdie kleurvolle ervaring miskien meer my aandag in beslag geneem het, was dat ek in my ouerhuis nooit Kersfees op dié materialistiese manier gevier het nie.
Daar was nie Kersbome en vreeslike geskenke nie, maar liefde en samekoms waar daar lekker gekuier en saam geëet word – sonder die tierlantyntjies van westerse massamedia. Ek is nogal bly daaroor omdat ek van jongs af die ware betekenis van Kersfees verstaan het en nie vir selfsugtige redes net vir Kersfees wag om geskenke te kry nie. Dankie ma en pa.
Kersfees handel oor die viering van Jesus Christus se geboorte en die onselfsugtige taak wat Hy op aarde uitgevoer het om te sterf om ons van ons sondes te red.
‘n Viering van vryheid en geloof in ons redder wat alles verander het. Hier in die wêreld word ons geplunder met hoe ons onsself tydens Kersfees kan verryk, wat juis so in teenstelling met Jesus se groot en wonderlike opoffering is.
Ek sê nie dat mense nie geskenke vir mekaar mag gee en uitdeel nie, die belangrike aspek is die hart waaroor dit gaan.
Kersfees is ‘n spesiale tyd en ons moet nooit die kern van Kersfees vergeet nie. Is die massahisterie na Kerswinskopies en geskenke regtig die moeite werd? Is die hart van Kersfees nie om net te doen wat Jesus sou nie en juis Sy liefde met ander te deel nie?
Ek daag die lesers uit om hierdie Kersseisoen ‘n verskil te maak in ander se lewens en die grootste geskenk van alle tye vir mense te gee wat dit die meeste nodig het.
Deel liefde uit en maak dit deel van jou hart die jaar vorentoe.
Ek voel Kersfees is ook daar om ons aan te moedig vir die jaar wat voorlê, sowel as terug te kyk na die jaar wat verby is. ‘n Tydperk van dankbaarheid en deernis.
Laat die gees van Kersfees altyd by jou bly en dit nie net ‘n eenmalige geskeduleerde viering wees nie.
Anders is ons net vrygewig en goedhartig omdat die seisoen of datum dit bepaal.
Ek waarborg dat jy die waarde van Kersfees in ‘n ander helder en kleurvolle lig sal sien.

  AUTHOR
Wouter Pienaar
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top