Promosa Atletiekklub wil skryfbehoeftes insamel by pretdraf hierdie Saterdag

Na ‘n suksesvolle eerste 5 kilometer wedloop wat Promosa Atletiekklub op 16 Desember verlede jaar aangebied het, is dit nou tyd vir rondte twee, dié keer met nog meer fokus op die plaaslike gemeenskap se behoeftes.
Eerskomende Saterdag, 13 Januarie bied dié atletiekklub ‘n pretdraf aan met die doel om skryfbehoeftes vir plaaslike skoolkinders in Promosa in te samel.
“Daar is geen inskrywingsgeld nie en deelnemers hoef net skryfbehoeftes as ‘n donasie te bring, wat dan as toegangsfooi sal dien,” noem Nico Deerling, klubkaptein van dié atletiekklub.
Hierdie 5 kilometer pretdraf gaan by die Promosa-stadion begin en eindig met twee rondtes van 2.5 kilometer elk wat in ‘n dubbele draai gehardloop sal word. Volgens Deerling was hulle eerste 5 kilometer wedloop juis suksesvol omdat daar ‘n groot opkoms was, wat veral klomp jong atlete ingesluit het.
“Ek het toe die idee gehad dat ‘n mens teruggee aan die jongspan en hulle motiveer om ook goed op skool te presteer. Met die skryfbehoeftes wat ons aan die kinders skenk, sal hulle dan kry wat hulle nodig het vir die nuwe skooljaar.
“Deelnemers kan Saterdag onder meer penne, potlode en boeke saambring,” noem Deerling. Donasies kan reeds vanaf 15:00 na die Promosa-stadion gebring word, met die wedloop wat om 17:00 begin.
“Elke bietjie help en jy kan ‘n verskil maak. Ons hoofborg is Lano’s Towings en ons vra graag dat besighede en mense in die gemeenskap sal help waar hulle kan,” voer Deerling aan.
* Vir nadere besonderhede kan Nico Deerling by 076 612 5242 gekontak word.

PNP

  AUTHOR
Wouter Pienaar
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top