So naby maar tog so vêr vir NWU se Varsity Krieketspan

Tuks vire hulle oorwinning teen die NWU. Foto: Mario van de Wall.
Tuks vier hulle oorwinning teen die NWU. Foto: Mario van de Wall.

Net soos glorie en geluk so ‘n tasbare gesig vir die NWU se Varsity Krieketspan die afgelope jaar was, het hulle die afgelope Saterdag teen Tuks vir die eerste keer in ‘n jaar die pynvolle skop-in-die-maag ervaring van ‘n nederlaag ervaar.

Na ‘n uitstekende onoorwonne week van Varsity Krieketaksie in Potchefstroom, kon die verdedigende kampioene, die NWU, net nie hulle eindbestemming in die Varsity Krieketfinaal op Saterdag 3 Februarie op Senwes Park bereik nie.

Dit was weens ‘n begeesterde Tukkies-span wat danksy die speler van die toernooi, Niel Brand en Corbin Bosch se kolfwerk hulle op die laaste draai van hulle kampioensreis van koers af gewaai het. NWU het eerste gekolf en 154/4 aangeteken met Ruan Haasbroek se 48* (36) en die kolwer van die toernooi, Janneman Malan se bestendige 53 (51). Goeie boulwerk en veldwerk van die NWU het gesorg dat Tukkies veral in die eerste paar boulbeurte gesukkel het en die groot getal toeskouers kon amper nog ‘n oorwinning ruik. Dit was werklik soos die stilte voor die storm nadat die NWU op ‘n stadium vir Tukkies teen die toue gehad het op 90/5, met nog 65 om te wen van die laaste paar boulbeurte af.

Die stuurwiel was in die tuisspan se hande maar Tukkies se veggees en verbetenheid om weer die NWU se angel te wees, was hierdie keer sterker. Met slegs twee balle oor beklink hulle ‘n beroemde oorwinning en is daar ‘n doodse stilte vanuit die skare. Al wat gehoor word is jubelende Tukkies wat vol adrenalien nog ‘n riller teen hulle beste kompetisie vier.

NWU se hoofafrigter, Conrad de Swardt was met reg teleurgesteld, maar glo ook dat sy span tot op die einde alles gegee het en dat daar net een wenner kon wees.  “Dit maak seer, maar ek dink nie ons het slegte krieket in die finaal gespeel nie, hulle was net beter as ons op die aand. Ek dink ervaring het vir hulle ‘n groot rol gespeel met ‘n Franchise-speler soos Corbin Bosch wat sake kon kalm hou. Ek is nie teleurgesteld in hoe ons gespeel het nie. Ons het net hierdie jaar in ‘n goeie wedstryd tweede gekom en in T20-krieket kan ‘n wedstryd vinnig swaai.

“Soms moet jy jou ego in jou sak steek en weet dat ‘n beter span jou op die dag geklop het.” Wedstrydfiksheid kan ook nie as ‘n verskoning gebruik word vir die verloor in die finaal nie, aangesien al die spanne in dieselfde bootjie was met sewwe wedstryde minimum wat elke span deur die loop van die week moes speel. “In my opinie is universiteitspelers in daardie afdeling waar hulle elke dag moet kan krieket speel. So ek glo daar was niks fout met ons voorbereiding nie. Al die spelers het geweet wat vereis word van so ‘n toernooi. Ons het onoorwonne deur sewe wedstryde gegaan en ‘n goeie toernooi gehad,” noem hy.

Die NWU se draaibalboulers het die oë laat rek met hulle goeie vertonings en volgens De Swardt het ouens soos Katle Leokaoke en Sean du Plooy ook bewys dat hulle gevaarlike wapens in hierdie krieketformaat is. Ons het baie voorberei op draaiers en ek was tevrede hoe almal gespeel het. Ek glo draaibalboulers sal altyd ‘n groot rol in T20 krieket speel, veral as die blaaie oud raak na sewe dae se spel.” Volgens De Swardt was hy die gelukkigste met hoe Ruan Haasbroek en Lesego Senokwane hulle durf en talent in ‘n groot toernooi gewys het.

“Janneman Malan was die kolwer van die toernooi en Dyllan Matthews was die bouler van die toernooi en ‘n mens verwag dat hulle dit sal regkry. Dit is net hoe talentvol hulle is. Ruan en Lesego het in taai en druksituasies baie goeie krieket gespeel en wedstryde vir ons deurgetrek. Hulle het bewys dat hulle as ernstige krieketspelers opgeneem kan word.

Mall

PNP

  AUTHOR
Wouter Pienaar
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top