’n Familiebesigheid met groot vooruitsigte

In 2010 het Jors Dannhauser ’n geleentheid gesien om ’n lewenslange droom te verwesenlik. Die besigheid wat tans as Quattro Fuels bekend staan, is in 2010 deur Jors op ’n veiling gekoop.
Met die veiling was die besigheid wat eers ‘n depot was, vir ten minste drie jaar nie meer in gebruik nie.
Jors het die geleentheid gesien en kon nie anders as om dit met albei hande aan te gryp nie.
Die naam van die besigheid, Quattro Fuels, is ’n samestelling van die vier mense in sy lewe vir wie hy alles sal doen en sal gee – sy vier kinders.

Jors Dannhauser, eienaar van Quattro Fuels (middel) saam met sy twee seuns Ruan (links) en Gert. Foto: Maryke van Heerden

Sy twee seuns, Ruan en Gert, is tans saam met hom in die besigheid, terwyl sy twee dogters albei nog studeer.
Tydens ons onderhoud kan jy sien hierdie is ’n hegte familie met sterk bande van liefde, geduld en respek. Ruan antwoord heel trots dat hy al vyf jaar by die besigheid betrokke is, terwyl Gert sedert 2014 hand bygesit het.
Quattro Fuels het tans takke in Parys, Klerksdorp, Coligny, Ventersdorp en die Vaaldriehoek. Maar die Potch-tak bly hul vlagskip, wat nou opgegradeer is na ‘n pragtige voldiens vulstasie met ’n winkeltjie wat 24 uur oop sal wees, skoon en netjiese badkamers asook ’n karwas. Hulle verkoop ook steeds diesel, petrol, paraffien en gas by die tak.
Die personeel het ook aansienlik gegroei en elke kliënt kan verseker wees van vriendelike, ingeligte en opgeleide personeel en goeie diens.
Met die vraag op wat Quattro se missie en visie is, antwoord Jors dit is om die mees doeltreffendste vulstasie moontlik te wees en om ’n verskil in die stad en omgewing te maak met kompeterende pryse.
Ruan las by dat met goeie leierskap, Quattro net groter hoogtes kan bereik.
Quattro spog ook met toekomstige truck stops in Vredefort en Derby, asook ‘n groothandel verspreidingsnetwerk in Potch wat die mynbou, boere en groothandel van diesel, petrol en paraffien voorsien.
Die opgewonde Simoné Smith (finansiële bestuurder) antwoord op die vraag wat Quattro Fuels vir die gemeenskap beteken: “Quattro Fuels is ’n goeie finansiële inspuiting vir die stad en omliggende gebiede en ons as Quattro streef daarna om die gemeenskap in te sluit by ons groei en sukses.”

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top