Karwagte pers student af vir karsleutels

police,saps
Illustration photo

‘n Student wat haar kar se sleutel op die Bult verloor het, moes ‘n duur prys betaal om dit terug te kry.
Volgens Ena van Eeden wat die student bygestaan het, het die damestudent Saterdag omstreeks 11:30 haar sleutel verloor, waarna een van die karwagte haar dadelik genader het. Hy het die sleutel opgetel.
Volgens haar het die karwag geweier om dit terug te gee, tensy die student hom R500 betaal.

“Voor ek kon keer het die arme student die geld maar gegee,” het van Eeden op Facebook gesê. Sy het Mooirivier Beskerming geskakel wat kom help het.

Volgens Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder van Mooirivier Beskerming, het hulle met die karwagte onderhandel, waarna hulle R380 van die student se geld kon terugkry.
Die Herald het vantevore berig dat niemand die karwagte op die Bult beheer nie, aangesien hulle in openbare areas is. Ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, het by ‘n vorige geleentheid gesê dat die polisie van tyd tot tyd karwagte se vingerafdrukke kom neem om hulle dalk met moontlike misdade te verbind.
Santi Britz, wyksraadslid vir die Bult, het ook in samewerking met besigheidseienaars op die Bult die Team up, Clean up-projek geloods. Werkers is deur die onderskeie sakeondernemings op die Bult in diens geneem om die gebied skoon te hou. Terselfdertyd pas hulle mense se karre op. Volgens Britz is dié groep se primêre doel om skoon te maak.
Sy het met die begin van die projek in 2016 gesê dat vir die projek om suksesvol voort te gaan, word daar ’n beroep op lede van die gemeenskap gedoen om die skoonmakers te ondersteun. In plaas daarvan om geld aan die sogenaamde karwagte op die Bult te gee, is inwoners versoek om dié fooitjies vir die skoonmakers te gee. “Hulle is baie sigbaar, hulle dra geel oorpakke en elkeen het ’n naamplaatjie met een van die besighede se naam op,” het Britz gesê.
In ‘n vorige berig oor die probleme op die Bult het twee wagte ontken dat die gereelde wagte die probleem is.
“Hier is mense wat in die park kom slaap, hulle rook tik agter die verhoog. Dan is dit net moeilikheid,” het een wag gesê.
Baie inwoners is egter nie oortuig dat karwagte nie die probleem is nie, veral as gekyk word na van die kommentaar op Van Eeden se Facebook-inskrywing nie.

Jaco Botes skryf: “Daai karwagte is useless en skelm. Hulle is ‘n groter kopseer as die skelms.”

Roné Jansen van Vuuren skryf: “Dis nie karwagte nie – ek wens die mense wil ophou om hul dit te noem. Dit is mense wat jou intimideer om geld te kry deur as karwag te staan, maar hulle slaan mekaar met stokke ens. Ek het glad nie meer die moed om iewers op die Bult te stop nie! Kan iemand nie iets daaraan doen nie asb?”

  AUTHOR
Dustin Wetdewich
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top