Ou kampuskat kry liefdevolle huis

Robin-Lee Jones en Frank (Mario) die kampuskat. Foto: Marianke Saayman

’n Geliefde gemmer kampuskat wat al vir jare by die F20 gebou op die NWU se Potchefstroomkampus woon, gaan nou sy oudag in die warmte van ’n liefdevolle huis deurbring.

Mario, soos hy voorheen aan personeel en studente van die Puk geken bekend was, is sowat twee weke gelede deur ’n barmhartige Samaritaan huis toe geneem. Die kommunikasiestudent, Robin-Lee Jones, sê dat sy al van verlede jaar af vir Mario ken.

“Hy het altyd op my skoot kom lê as ek laataande in die rekenaarlokaal by die kommunikasiegebou gewerk het.”

Verlede Saterdag (24 Februarie) het sy dié ou gemmerkat onder ’n motor buite die gebou gesien wegkruip. “Daar was ’n groepie studente daar en hy het baie verskrik gelyk. Ek het hom opgetel en in die lokaal geneem.”

Sy het gesien Mario het baie maer geword en dat sy oë traan. Sy het hom toe huis toe geneem, aanvanklik met die bedoeling om hom gesond te kry en dan na PAWS te neem, maar later het sy so lief geword vir die kat dat sy nie kon afskeid neem van hom nie.

Intussen het sy vir hom ’n kombers op haar bed gesit waarop hy nou gemaklik slaap. Hy is nou na Frank herdoop.

’n Week later het Robin-Lee se ma, Inge, op Facebook gesien dat personeel van die Puk op soek is na Mario, die kampuskat. “Ek roep toe dadelik vir Robyn-Lee, want toe weet ek Mario is by ons.”

Inge het toe die persoon geskakel. Hulle het toe met Robin-Lee gepraat en sy het die situasie aan hulle verduidelik. Die personeel by F20, wat Mario gereeld gevoer het, was baie bekommerd, maar het toe ingestem dat hy by Robin-Lee kan bly. “Hulle was baie dankbaar toe hulle uitvind ek het hom huis toe geneem en dat hy veilig is,” sê sy.

Robin-Lee het Frank veearts toe geneem omdat sy tande vrot was, hy ’n abses in sy bek gehad het en omdat hy so maer was.
Sy en Frank is huis toe gestuur met die slegte nuus dat sy niere besig is om in te gee en dat hy dalk nie meer lank oor het om te leef nie.
“Volgens die veearts is Frank enigiets tussen 8 en 16 jaar oud.

Dit is moeilik om te bepaal aangesien hy so ’n moeilike lewe gehad het.”
Robin-Lee en Inge bedank die personeel wat al die jare vir Mario kos en ’n veilige skuiling op kampus gegee het. “Hulle het selfs die veearts rekening vir hom betaal,” sê sy dankbaar.

Frank is nou gemaklik in sy nuwe huis. “Ons hou hom in die huis. Ons wil weens sy gesondheid nie hê hy moet buite rondloop nie,” sê Inge. Robyn sê dat sy net dankbaar is dat Frank nou ten minste die winter in ’n warm huis gaan deurbring.

“Hy kan nou sy laaste dae veilig in ’n liefdevolle huis deurbring waar hy baie aandag kry,” sê sy.

  AUTHOR
Marianke Saayman
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top