Pasop vir jou heerlike polonie-broodjie

Een van Rainbow Chicken se fabrieke is ook positief getoets vir listeriose. Foto: Marianke Saayman
Een van Rainbow Chicken se fabrieke is ook positief getoets vir listeriose. Foto: Marianke Saayman

Hoewel daar nog geen gevalle van die siekte listeriose in Potchefstroom bevestig is nie, het verskeie winkels reeds geprosesseerde vleisprodukte van hul winkelrakke verwyder.

Dit kom na die departement van gesondheid tydens ’n perskonferensie Sondag bevestig het dat die Enterprise Foods fabriek in Polokwane die bron is van die grootste listeriose-uitbreek ter wêreld.

Meer as 16 monsters wat by die fabriek geneem is, het positief getoets vir die ST6-tipe listeriose – dieselfde tipe wat reeds vanaf Januarie verlede jaar byna 180 mense se dood veroorsaak het.

Hierdie siekte is ’n aggressiewe tipe voedselvergiftiging wat mense baie siek kan maak en selfs sterftes tot gevolg kan hê.
’n Fabriek van Rainbow Chicken se produkte is ook positief getoets vir listeriose, maar nie vir die spesifieke tipe wat sowat 1 000 mense in die afgelope jaar siek gemaak het nie.

Die meeste winkels in Suid-Afrika het die afgelope paar dae al die geprosesseerde vleisprodukte van hul rakke afgehaal.
Dit sluit in polonie, Weense worsies, frankfurters en ander koue geprosesseerde vleis wat moontlik besmet kan wees.

Die produkte is ook herroep en kliënte wat dit onlangs aangekoop het, kan hul produkte terugneem na die winkel waar dit gekoop is vir ’n kontant terugbetaling.

Minister van gesondheid Aaron Motsoaledi het tydens sy verklaring gesê dat mense, veral swanger vroue, enige geprosesseerde vleisprodukte soos dié moet vermy, aangesien swanger vroue die ergste hierdeur geraak word.

Ander persone wat ook ’n groot risiko is met die siekte, sluit in kinders, bejaarde persone en persone met swakker immuunstelsels.
Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) kan listeriose miskrame veroorsaak en lei tot stilgebore babas, daarom moet swanger vroue veral versigtig wees.

Listeriose word veroorsaak deur gekontamineerde kosprodukte wat besmet is met L. monocytogenes. Hierdie bakterie besmet grond en water en word dan op dié wyse oorgedra na voedsel soos groente.

Diere kan ook die bakterie dra en so word vleisprodukte en suiwelprodukte weer besmet.

Geprosesseerde voedsel soos sagte kaas en koue vleis kan gekontamineer word nadat dit geprosesseer is.

Ongepasteuriseerde melk en kos wat met ongepasteuriseerde melk gemaak is, kan ook besmet wees.

Simptome van listeriose

Die simptome van listeriose is soortgelyk aan die van voedselvergiftiging of ’n maagvirus. Dit sluit in koors, spierpyn, naarheid en diarree. Wanneer die infeksie versprei na die senuweestelsel kom simptome soos hoofpyn, ’n stywe nek, verwarring, ’n gebrek aan balans en stuiptrekkings na vore.

Swanger vroue voel soms nooit die ergste simptome nie, maar slegs ligte griepsimptome, daarom moet swanger vroue veral versigtig wees en dadelik mediese hulp kry indien hulle grieperig begin voel.

Hoe om listeriose te voorkom

Die departement van gesondheid gee ’n paar algemene riglyne wat gevolg kan word om te verhoed dat mense besmet word met die listeriose bakterie:

•Hou rou kos en vleis apart van ander kossoorte.
•Was jou hande voor en na jy met kos gewerk het.
•Was vrugte en groente deeglik met skoon water voor dit geëet of voorberei word.
•Moet nie dieselfde snybord gebruik vir beide varsprodukte sowel as rou vleis en seekos nie.
•Ontsmet messe en werkarea waarop kos gemaak word voor en na gebruik.
•Vleis, eiers, vis en gereed-om-te-eet produkte moet gevries word of in ’n yskas gestoor word as dit nie dadelik gaargemaak word nie.
•Listeriose kan groei in die yskas so ontsmet jou yskas behoorlik voor enige voedsel daarin gestoor word.

  AUTHOR
Marianke Saayman
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top