Uit my dagboek: Pappa se seuns; Mens vergeet vinnig

’n Mens besluit om twee en in sekere gevalle drie kinders te hê om verskeie redes.
My ouers het drie kinders omdat hulle baie graag ’n dogter wou hê. My skoonouers het drie dogters, hoewel hulle ook probeer het vir ’n seuntjie. Ons het besluit dat Aiden nie sonder ’n boetie of sussie kan grootword nie.
Hierdie is alles goeie redes, maar ek dink die groot rede is dat ’n mens vergeet hoeveel harde werk dit eintlik is om babas groot te maak.
Aiden is nou drie jaar oud, nie dat ek sê dit is al groot nie, maar hy kan vir ons sê as hy honger is, as hy seer het presies waar hy pyn het. Hy gaan self badkamer toe en hy eet meestal op sy eie.
Callum aan die ander kant, is drie weke oud en al die dinge wat ons al vanselfsprekend aanvaar het wat Aiden doen, kan hy glad nie doen nie.
Uit frustrasie het ek oor die laaste drie weke vir Callum gekyk en gevra, ‘wat is fout boeta?’ net om na die tyd te dink, die kind kan jou nie antwoord nie, jou simpel mens.
Almal het vir ons gesê dit gaan net makliker wees omdat jy al daar deur is. Ek sukkel om met hierdie mense saam te stem.
Dit is soos om te sê net omdat jy een keer deur ’n oorlog is, beteken dit dat die volgende keer makliker gaan wees.
Inteendeel, dit is eintlik nou moeiliker omdat daar een oorlog is waaraan jy moet deelneem, m.a.w probeer uitvind hoekom die klein baba huil en dan is daar nog ’n kleiner skermutseling waar jy ook betrek is. Soos om seker te maak Aiden eet sy kos en voer dit nie vir die honde nie, of om seker te maak hy borsel sy tande ordentlik. Dan praat ek nie eers van die gewone tyd wat ’n mens saam moet spandeer nie. Die gewone balskop, blokkies bou en speel-stoei.
Ek voel soos Duitsland in die tweede wêreldoorlog wat op drie fronte gelyk moes oorlogvoer.
Gelukkig het ons kinders twee ouers, wat albei moet inspan om die oorlog te wen.

  AUTHOR
Dustin Wetdewich
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top