Tweede sege wink vir NWU in Eikestad hierdie Maandag

Na nege weke van klipharde Varsitybekeraksie gaan die gehegte span van die NWU of Maties se maroen krygers hierdie Maandag (16 April) in Stellenbosch hulle droom verwesenlik en na 80 minute die Varsitybeker omhoog hou.

Op die Danie Craven-stadion het dié twee spanne mekaar al twee keer vantevore in ‘n eindstryd ontmoet met Maties wat in 2009 die beker met ‘n 11-6 oorwinning gelig het en die NWU wat op skouspelagtige wyse in 2016 met 7-6 hul enigste titel behaal het.
In hierdie derde eindstryd-kragmeting gaan sake heel waarskynlik weer rateltaai op die veld wees, veral as die 33-33 uitslag vroeër die jaar tussen die twee spanne in Potch, enige aanwysing is.

Maties se Michal Haznar gaan een van die gevaarmanne wees. Foto: Thys Lombard/Asem Engage

Maties se Michal Haznar gaan een van die gevaarmanne wees. Foto: Thys Lombard/Asem Engage

Die NWU het nog net een titel verower en dit was teen Maties in Stellenbosch op die Danie Craven Stadion – dieselfde plek waar hulle komende Maandag weer na sukses op soek is. Maties het laas in 2010 die Varsitybeker op sy tuisveld verower en sal graag nie vir ‘n derde jaar in ‘n ry die strooijonker wil wees nie.
Geskiedenis sal definitief gemaak word: Indien Maties wen sal hulle die eerste universiteit word wat die Varsitybeker vier keer wen, maar as die NWU wen sal Maties ook die eerste span wees wat drie keer in ‘n ry die ongelukkige tweede plek in ‘n eindstryd behaal.

NWU se Chriswill September het sover 'n briljante seisoen op skrumskakel en sy vennootskap met Schalk Hugo sal deurslaggewend wees. Foto: Barco Greeff/Asem Engage

NWU se Chriswill September het sover ‘n briljante seisoen op skrumskakel en sy vennootskap met Schalk Hugo sal deurslaggewend wees. Foto: Barco Greeff/Asem Engage

Die NWU-afrigter, Jonathan Mokuena, was in ‘n goeie luim die afgelope week en glo dat die spaneenheid wat sy spelers toon ’n deurslaggewende faktor hierdie Maandag sal wees.

“Ek was lanklaas betrokke by ‘n span wat so vir mekaar omgee. Almal is bereid om daardie ekstra tree vir die span te gee en dit is fantasties om te sien hoe die span as ‘n eenheid gegroei het,” vertel Mokuena.
Mokuena se mening is ook dat die span wat die beste begin maak en die druk goed hanteer, die oorwinning sal behaal.

“Dit gaan belangrik wees dat ons op ons spelpatroon fokus en dit net as nog ‘n wedstryd te hanteer. Ons gaan ons geleenthede moet gebruik. Dit is vir my spesiaal om terug te keer na die plek waar ons in 2016 gewen het, maar ons fokus nou op 2018 en om die beker Maandag weer te lig.”
Aan die ander kant is Maties natuurlik ook optimisties dat hulle ‘n trofeedroogte van agt jaar sal kan breek.

“Sonder die ondersteuning sou ons nie so ver gekom het vanjaar nie.
Ons hoop om die beker weer na Stellenbosch te bring.
Daar gaan baie oë op hierdie eindstryd wees en dit is ‘n platform om te wys waaroor Maties-rugby gaan,” het Maties se buitesenter, Michal Haznar, aan Varsity Cup gesê.

Die eindstryd skop om 19:00 af en is regstreeks op Supersport 201.
Hou ook www.potchefstroomherald.co.za dop vir regstreekse dekking van die eindstryd.

NWU: 15 Tapiwa Mafura, 14 Jimmy Mpailane, 13 Evardi Boshoff, 12 AK Nela, 11 Dean Stokes, 10 Schalk Hugo, 9 Chriswill September, 8 Tiaan Bezuidenhout, 7 Estehan Visagie, 6 Gideon van der Merwe, 5 Walt Steenkamp, 4 Johan Retief, 3 Robert Hunt, 2 Louis van der Westhuizen, 1 Matimu Manganyi

Plaasvervangers: 16 Percy Mngadi, 17 Nelius Theron, 18 Theodore Ferreira, 19 Jaco Swanepoel, 20 Wandile Mazibuko, 21 Nkosana Mbatha, 22 Henko Marais, 23 Justin Newman

Maties: 15 Reinardt Fortuin, 14 Duncan Saal, 13 Michal Haznar, 12 Chris Smit, 11 Edwill van der Merwe, 10 Christopher Smith, 9 Remu Malan, 8 Marno Redelinghuys, 7 Janco Venter, 6 Johan van Niekerk, 5 Johan Momsen, 4 Ernst van Rhyn, 3 Neethling Fouche, 2 Wilmar Arnoldi, 1 Chippie Oelofse (C)

Plaasvervangers: 16 Craig Corbett, 17 Ricky Nwagbara, 18 Piet-Louw Strauss, 19 Brandon Valentyn, 20 Stefan Streicher, 21 Brandon Nel, 22 Munier Hartzenberg, 23 Carlisle Nel

Mall

  AUTHOR
Wouter Pienaar
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top