Maties breek trofeedroogte en NWU se harte met sege in Stellenbosch

Varsity Cup Rugby match between FNB Maties and FNB NWU Pukke at Stellenbosch Sports Stadium in Cape Town on April 16, 2018

Dit was ‘n see van maroen feesvieringe vanaand (Maandag, 16 April) op die Danie Craven Stadion toe die eindfluitjie blaas om Maties se eerste Varsitybekeroorwinning in 8 jaar met 40-7 teen die NWU te beklemtoon.

Maties het sodoende vir die eerste keer in drie jaar uiteindelik daarin geslaag om die Varsitybeker te lig nadat hulle die vorige twee jaar met tweede plek tevrede moes wees.

Dit is ook die vierde keer wat Maties die trofee lig met elke bekeroorwinning wat nou op tuisveld plaasgevind het.

Opgesom was Maties se sterk skrums, briljante losvoorspelertrio van Chris Massyn, Johann van Niekerk en Marno Redelinghuys,  hulle gevaarlike en meer doeltreffende agterlyn sowel as die tuisatmosfeer die deurslaggewende faktore op die aand gewees.

Met die telling 10-7 teen halftyd het die NWU nog ‘n daadwerklike kans gehad, maar Edwill van der Merwe se onderskepdrie vroeg in die tweede helfte was soos ‘n dolk in die NWU se rug.

Maties was die beter span op die aand en het meer soos ‘n kampioenspan in hierdie wedstryd gespeel.  Die tuispan het van die begin af verbete aangebal en die NWU moes op hulle hoede wees. Maties het die eerste punte deur middel van ‘n strafdrie aangeteken na herhaaldelike druk op NWU se doellyn. Na menigte strafskoppe het die skeidsregter, AJ Jacobs, genoeg gehad en Maties kon glimlag met die eerste skoot in die eindstryd net voor die strategiebreek.

Chris Smith het toe kort daarna ‘n strafskop dergesit om die telling na 10-0 te vergroot.

Mokuena se manne het net voor halftyd skouer aan die wiel gesit en hulle eerste drie gedruk toe kaptein, Tiaan Bezuidenhout na ‘n verwoestende rolmaalbeweging oorgeduik het om die puntetelling na 10-7 te verklein.

Met so bietjie momentum agter die rug het die besoekers definitief gelukkiger die halftyd-pouse betree.

Maties het wel direk na halftyd weer die voortou geneem na die flink onderskepdrie van linkervleuel, Edwill van der Merwe, wat die telling na 19-7 vergroot het.

Die rooikop slot Johan Momsen het hulle derde drie van die aand gedruk na hulle die NWU se skrum omgedraai het met puik skrumwerk van ‘n briljante voorry (Chippie Oelofse, Wilmar Arnoldi en Neethling Fouche)  om die telling na 26-7 in  die 53ste minuut te strek.

Die laaste rol van die dobbelsteen vir die NWU was die Powerplay waar Maties met twee minder spelers moes speel, maar Mokuena se manne kon nie iets in daardie tydsperiode kry nie.

Vir ‘n periode van ses minute het die NWU verbete probeer om ‘n gaping te vind maar kon nie op die aanval genoeg trefkrag teen ‘n begeesterde Maties-span kry nie. Wanneer die perstruie die bal gehad het, kon hulle nie juis die nodige impak maak om gebiedsvoordeel te kry nie.

Maties se plaasvervangers Munier Hartzenberg en Ricky Nwagbara het die laaste sê van die wedstryd gehad toe hulle  oorduik om die vierdie en vyfde drieë te druk en die telbord na 40-7 te skuif en die beker na Stellenbosch te bring.

Punte:

NWU: 7 (7)

Drieë: Tiaan Bezuidenhout

Doelskoppe: Schalk Hugo

Maties:  40 (7)

Drieë: Strafdrie, Edwill van der Merwe, Johan Momsen, Munier Hartzenberg,  Ricky Nwagbara

Doelskoppe: Chris Smith (4)

Strafskoppe: Smith

Skepskop: Chris Smith.

  AUTHOR
Wouter Pienaar
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top