Moedige Luiperds steeds sonder ‘n wen na Sharks nederlaag

Die Luiperds het hulle vierde wedstryd in vanjaar se Supersport Uitdaagreeks teen die Sharks XV met 57-28 in Rustenburg vandag (Sondag, 13 Mei) verloor.

Dit was beslis die beste vertoning vanjaar van Jonathan Mokuena se span, maar op die ou einde was die Sharks net een stappie bo die Noordwesters gewees.

Die Sharks het van vroeg af hulle stempel afgedruk met drie drieë in die eerste tien minute, danksy die flink werk van Garth April. April se skoppie in die spasie het die driekrane oopgemaak met die skrumskakel Garth Williams wat kort daarna die telling met sy drie na 14-0 vergroot het.

April het met sy flink werk konstante probleme vir die Luiperds veroorsaak en ‘n mens kon duidelik sien dat hy baie meer tyd met die bal in sy hande gehad het om die toue in die Sharks se agterlyn te trek.

Sy direkte teenstander, Schalk Hugo het self ook ‘n goeie wedstryd beleef en het met sy aanvallende styl ook vele goeie geleenthede vir die Luiperds prakseer.

Die Haaie se ervare agtsteman, Tera Mthembu was ook ‘n kolos voor wat met sy werk in die losgemaal wat talle probleme vir die Luiperds veroorsaak het. Mthembu was ook kragtig met die bal in sy hand en het vele kere sy span gebiedsvoordeel gegee.

Gideon van der Merwe het die Luiperds se eerste drie gedruk danksy ‘n puik beweging van die skrum af met Lungelo Gosa, Justin Newman en Van der Merwe wat betrokke was.

Die vleuel, Gene Willemse, se drie skuins voor halftyd was die inspuiting wat die Luiperds benodig het met Schalk Hugo se monster aangee wat die bal perfek in Willemse se hande geplaas het. Met halftyd was die Haaie gemaklik 29-14 voor.

Die Luiperds het die tweede helfte beter begin met Bradley Moolman wat oorduik om die gaping na net 8 punte te bring met die telling op 29-21.

Die Sharks het wel vinnig weer naam gemaak toe April en die vlugvoetige regtervleuel, Aphelele Fassi wat met sy systappe die Luiperds dronk gehad het. Die gelukkige wenner van hierdie spel was die Sharks se kaptein, Johan Deysel wat sy span se sesde drie gaan druk het.

Die Luiperds het algeheel ‘n beter tweede helfte beleef, maar die Haaie se geduld en struktuur op die aanval was beter met die plaasvervanger, James Blewett, wat die spyker in die kis van die Luiperds geslaan het.

‘n Drie van Newman voor die eindfluitjie het die Luiperds hul vierde drie gebring, maar die Sharks het die laaste sê gehad toe Tera Mthembu vir ‘n welverdiende drie oorgaan om die telling op 57-28 te eindig.

Punte:

Luiperds 28 (14)

Drieë: Gideon van der Merwe, Gene Willemse, Bradley Moolman, Justin Newman

Doelskoppe : Schalk Hugo (3), DP de Lange

Strafskoppe: Schalk

Sharks XV 57 (29)

Drieë: Garth April, Grant Williams, Leonlin Zass, Courtney Winnaar, Johan Deysel, Hyron Andrews, James Blewett, Aphelele Fassi, Tera Mthembu

Doelskoppe: Garth April (5)

AJR

AJR

  AUTHOR
Wouter Pienaar
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top