Dominee en seun tydens skietvoorval dood

ds. Francois van Heerden en sy vrou Herzola. FOTO: Verskaf

‘n Dominee van Stilfontein en sy seun is Sondag 10 Junie tydens ‘n skietvoorval dood.

Ds Francois van Heerden (63) en sy seun, Rupert (31) is albei tydens ‘n skietongeluk in die pastorie oorlede.

Volgens ‘n verklaring van die familie se woordvoerder, Nicolize van der Walt, was mev Herzola van Heerden, die predikantsvrou, ten tyde van die voorval elders in die huis besig waarna sy omstreeks 14.30 skote gehoor het.   Sy het onmiddelik opgetree en die nooddienste en polisie ontbied met die hulp van bure.

Rupert en sy seun Rijn FOTO: Verskaf

Beide pa en seun is op die toneel dood verklaar. Die polisie se forensiese-eenheid het toetse op die toneel gedoen en die ballistiese uitslae sal verdere lig op die voorval werp. Die familie versoek  dat die publiek hulle weerhou van afleidings en bespiegelinge te midde hierdie hartseer-tyd en om te konsentreer op die mooi nalatenskap van Ds. Van Heerden.

Ds. Van Heerden en sy vrou, Herzola het in 1981 na Stilfontein gekom. Die egpaar het mekaar op ‘n SR-kamp ontmoet in 1977. Dit was liefde met die eerste oopslag en hulle is vanjaar 41 jaar getroud.

Ds. Francios was siek die afgelope tyd, maar die prognose was positief en daar is geen rede om tans te glo dat dit enigsins ‘n bydrae tot die voorval gehad het nie.

Die familie probeer tot hul sinne kom, maar getuig van Ds. Francois se verhouding met die Here en dat hy ‘n selflose mens was wat God en ander altyd eerste geplaas het.

Ds. Van Heerden saam met sy kleinseun FOTO: Verskaf

 

Rupert is die egpaar se oudste seun en het in Johannesburg gewerk en naweke by sy ouerhuis deurgebring. Hy word oorleef deur sy seun, Rijn (20 maande) en vriendin van die afgelope sesjaar. Hy was gek na die natuur, tuinmaak, aksiesport, was joviaal, gek na mense en ‘n het ‘n baie klein hart gehad.

Die familie beskryf Rijn as sy oupa se oogappel. Naas Rijn was Ds. Francois se grootste vreugde om muurbal te speel en tyd met sy gesin deur te bring.

Dr Andries Kritizinger is reeds 44 jaar bevriend met Ds Francois en beskryf hom as “‘n man uit een stuk, ‘n man met ‘n integriteit. ‘n Reus…”

Herzola hou vas aan die wete dat “die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag”.

 

Die familie betuig hul dank met elkeen wat vir hulle bid en vir die huldeblyke wat van regoor die wêreld instroom.

Ds. Francois word oorleef deur sy vrou Herzola en seun Carl (Rupert se jonger broer) wat werksaam is in Kaapstad asook sy kleinseun Rijn

Die begrafnisdiens vir Ds. Francois en Rupert vind plaas om 11.00 op Saterdag, 16 Junie 2018, vanuit die NG Kerk-Sentraal in Gonubiestraat, Stilfontein. Die ter aarde bestelling sal daarna plaasvind.

 

 

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top