Van Coke en vriende span saam vir kort en kragtige EP

Nadat Francois van Coke in Mei vanjaar sy grootskaalse rock-produksie “Francois Van Coke & Vriende” aan sy massas aanhangers bekendgestel het, was die vreugdevure groot.

Dié produksie wat op 15 September 2018 by Sun Arena, Time Square in Pretoria gaan plaasvind, behoort een van die musiekbelewenisse van die jaar te wees met van die land se beste musikante wat saam met Van Coke gaan optree.

Om ʼn klein voorsmakie van hierdie rock-konsert te gee, het Van Coke besluit om nuwe musiek in die vorm van ʼn kortspeler “En Vriende” bekend te stel. Van Coke het En Vriende op 13 Julie vrygestel en dit het vinnig na die nommer 1 posisie op iTunes en Google Play beweeg.

Hierdie kortspeler bevat vier vuurwarm nuwe liedjies wat hy saam met ander plaaslike bekende kunstenaars soos Die Heuwels Fantasties, Laudo Liebenberg (aKING), Jack Parow en Early B opgeneem het.

Die beste aspek van En Vriende is die verskeidenheid wat ʼn mens uit hierdie liedjies kry waar genres soos hip-hop, rock en punk met gemak oorvleuel. Die klem word hier op samewerking en vriendskap geplaas en ʼn mens kan dit juis aanvoel in die musiek: hierdie musikante ken mekaar en vul mekaar mooi aan op elke snit. Dit is werklikwaar ʼn fees vir die oor en gee aanhangers iets om na te luister voordat Van Coke sy verwagte derde solo-album in 2019 vrystel.

  1. Ek lewe, ek belowe ft. Die Heuwels Fantasties

Die eerste nommer het die tradisionele klank wat met Van Coke geassosieer word en dit skop die album op ʼn goeie noot af. “Ek lewe, ek belowe” het ʼn punk-rock agtergrond en die kitaarmelodie skep ʼn lekker luistergevoel van die staanspoor af – dié een gaan definitief Van Coke se aanhangers laat rondspring. Die tema van die liedjie fokus op suburbia en daar word in ʼn satiriese manier na die alledaagse lewe in die samelewing gekyk. Pierre Greeff, Hunter Kennedy en Van Coke se stemme werk goed op hierdie nommer en bring die aggressie in hierdie een uit. Die lirieke “Ek lewe ek belowe, net een uur op pad werk toe in die verkeer, net een uur op pad huis toe in die verkeer,” som die tema van dié liedjie die beste op.

  1. Altyd lief vir jou ft. Early B

Die hip-hop kunstenaar Early B wys sy vaardighede in hierdie snit met ʼn hartroerende monoloog in die eerste vers waar hartseer en verlore liefde sterk op die voorgrond tree. Dit is poëties, liries en iets werklik tasbaar soos die woorde van sy tong af rol: “Dis waar wat mense sê, jou eie hond byt jou die seerste. Ek haat dat ek jou lief en jy liefde by iemand anders soek.”

Gebroke verhoudings en smart vorm die fondasies van hierdie liedjie waar teenstellende emosies ʼn groot rol speel. Een van die beste aspekte van hierdie liedjie is hoe Van Coke se rustige stem in die koor goeie afwisseling bied na die vinnige en venynige vers wat Early B met mening lewer. “Dis jou skuld, ons was te jonk, Ek was te dom en te alleen om oor jou te kom. Ek weet nou dis jou skuld, ek haat jou al bly ek altyd lief vir jou,” sing Van Coke.

Die akoestiese kitaar-elemente in die tweede vers help ook om die polsende ritme van Early B se aangrypende lirieke ekstra lewe te gee voordat Van Coke met behulp van elektriese kitaar en tromme ʼn harder geur aan hierdie nommer gee. Dit is werklik ʼn hoendervleis-oomblik as sy bekende skree-stem op die voorgrond tree. As jy ooit Afrikaans, hip-hop en rock in ʼn voedselverwerker sou druk sou hierdie die smaakvolste resultaat wees.

  1. Spaar my asseblief ft. Laudo Liebenberg

Laudo Liebenberg van aKING leen sy diep growwe stem vir hierdie duet saam met Van Coke waar temas van nostalgie, verbroude keuses en identiteit sterk op die voorgrond tree. “Spaar My Asseblief” is een van die rustiger snitte op hierdie kortspeler en dit is juis hierdie stadiger tempo wat luisteraars dieper in hierdie realiteitsbesef trek. Die lirieke “ek weet nie waar ek inpas in hierdie prentjie nie. Die weer verander, ek gaan nêrens nie. Net om ons foute weer te maak. Tot die wêreld eindig, spaar my asseblief,” is ʼn eerlike voorstelling van die identiteitskrisisse wat in vandag se samelewing ervaar word.

  1. Moenie bang wees nie ft. Jack Parow

Van Coke se salige woorde “moenie bang wees nie, jy kan in jou lewe vrede vind. Moenie bang wees nie,” begin hierdie laaste snit, voordat daar behoorlik gerock-en-roll word met ʼn klipharde kitaarmelodie wat die koppe sal laat skud. Van Coke trek dan los in die eerste vers waar hy maan om die lewe voluit te leef, voordat Jack Parow met sy donker lirieke die spanning in die wêreld uitbeeld: “In die donker word my gedagtes ongelooflik ongesond,” rap Parow.

Die teenstelling met die sagte koor en die spoedige verse van Parow is ook een van die beste aspekte van “Moenie bang wees nie.” Op die einde van die snit vind daar dan ook ʼn kopskuif plaas waar Parow dan besef dat verse oorkom kan word en dat die verlede gelos kan word: “In ʼn land waar probleme so ons emosies beheer kan jy saam met ons die verlede verwerp en verskeur.”

Hierdie kortspeler En Vriende verskaf beslis genoeg verskeidenheid en beeld die hedendaagse samelewing sowel as persoonlike vreugdes en smarte goed uit. Dit is die musiek van ons tyd en vir ons tyd en soos gewoonlik stel Van Coke (en sy vriende) nie teleur nie.

Stroom of kry En Vriende hier: https://song.link/envriende

 

  AUTHOR
Wouter Pienaar
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top