Gospel sangers en groepe benodig vir It’s Time byeenkoms

Die bestuur van It’s Time Potch, ’n gebedsgeleentheid oor alle kerkdenominasies heen, wil vanjaar plaaslike gospelsangers betrek.
Dit vind vanjaar op 9 September by Olënpark Stadion plaas.
Die organiseerders is op soek na nuwe en ou talent. Gospelsangers uit Ikageng en Promosa word aangemoedig om vir oudisies te kom. Vyf plaaslike gospelsangers sal die geleentheid kry om op die dag elkeen een lied te sing.
Belangstellendes kan elke Donderdag gedurende Augustus by Musiekland in Potchefstroom (Dr. James Morokastraat 40) tussen 09:00 en 15:00 aanmeld vir ‘n gratis oudisie. Dit is noodsaaklik dat sangers die klankbaan van die lied waarmee hul wil optree, saambring. Die gemeenskap word gevra om hierdie uitnodiging onder die aandag van hul gunsteling gospelsangers te bring.
It’s Time Potch het ten doel om alle Potchefstromers oor alle kultuur- en kerkgrense heen luidens 2 Kron.7:14 in verootmoediging voor God en vir gebedsintrede vir ons stad en streek byeen te bring.
It’s Time is ‘n spontane samewerking tussen die Potchefstroomse kerkleiers (PCL), die besigheidsektor en verskeie gemeenskapsleiers wat op God se roepstem gereageer het, met die begeerte om saam te bid en werk vir die transformasie van ons stad en land. Die eerste byeenkoms is in 2017 gehou.
Die organiseerders sê anders as verlede jaar sal daar vanjaar net een spreker wees, naamlik die bekende Angus Buchan.
Meer tyd sal ook aan gebed en lofprysing gegee word. Drie plaaslike kerkleiers sal verskillende gebedsonderwerpe voorhou, waarvoor almal in die stadion gevra sal word om gelyktydig voor te bid.
Die lofprysing sal vanjaar deur die gospelsanger, Ernie Amos en sy orkes gelei word.
It’s Time Potch word deur die hele gemeenskap van Potchefstroom aangebied. Elke gelowige word opgeroep om in hierdie tyd ernstig te bid vir die spreker en vir die organiseerders wat in die geloof die saak aanpak.
• Sluit aan by die dinamiese gebedsnetwerk vir die stad deur 071 569 2086 op u foon te stoor en u naam na dieselfde nommer per WhatsApp te stuur.
• Persone wat op ander wyses betrokke wil raak, kan meer inligting kry by www.itstimepotch.co.za

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top