Volkies verbrou Virsekerbekerdroom teen Die Anker

‘n Tweedehelfte ineenstorting het Volkies se eerste rugbyspan duur gekos toe hulle die afgelope Saterdag (4 Augustus) teen Hoërskool Die Anker met 36-34 die knie gebuig het.

Volkies het teen halftyd met 24-5 ver voorgeloop, maar nes die sterk Augustuswind sy bries gedraai het, het Die Anker met die wind in hulle seile die tweede helfte beheer om Volkies se eerstes te skok en uit die Virsekerbeker se tweede divisie te boender. ‘n Briljante onderskepdrie van Die Anker se flank, Bennie Snyman en ‘n strafskop van hulle losskakel, Alwyn Barnard het op die ou einde Volkies se doppie geklink.

Foto’s: Wouter Pienaar

Volkies het die wedstryd goed begin met drieë van Wikus Marais, Stephan van Niekerk en Le Roux White in die eerste 35 minute. Die losskakel, Van Niekerk, het homself ook goed van sy taak gekwyt in moeilike omstandighede waar die sterk wind, skoptoestande meerendeels ongenaakbaar gemaak het.

Die Anker het alreeds in die eerste helfte hulle slag in die agterlyn met ‘n paar goeie breekslae gewys. Johan Spies was gevaarlik vir die besoekers op skrumskakel en dit was juis sy flinkvoetigheid wat die regtervleuel, Ettienne Pretorius, sy eerste drie besorg het.

Van Niekerk het in die tweede helfte ook nog ‘n drie aangeteken en ‘n strafdoel oorgeklits maar dit was nie genoeg nie en Die Anker kon ‘n opspraakwekkende oorwinning vier.

Christo van Heerden, deel van Volkies se afrigtingspan, was prontuit na die nederlaag en voel dat sy span die wedstryd self weggegooi het.

“Dit is een ding om die wedstryd te verloor as die ander span beter was, maar ons het die wedstryd was drie sagter drieë in die tweede helfte weggegooi. Die Anker het ons in die 2de helfte vasgepen en ons het toe ‘n paar lelike foute gemaak wat ons gekos het. Die tafel was vir ons gedek, maar ‘n mens moet eet wat op jou bord is,” het Van Heerden in nabetragting genoem.

http://www.nbcarsales.co.za/

http://www.nbcarsales.co.za/

  AUTHOR
Wouter Pienaar
Sport Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top