Diefstal uit voertuie grootste kopseer in Potchefstroom

Mooirivier Beskerming het Maandagaand twee verdagtes vasgetrek wat besittings vanuit 'n motor gesteel het. Foto: Mooirivier Beskerming/Facebook

Daar is verlede week binne drie dae reeds twaalf voorvalle van diefstal vanuit ’n voertuig by die polisie aangemeld.
Mooirivier Beskerming het Maandagaand (6 Augustus) omstreeks 17:50 iemand by ’n parkeerarea in Govan Mbeki-rylaan vasgetrek nadat hy besittings uit ’n voertuig gesteel het.
Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, was daar Donderdag 2 Augustus twee voorvalle in Steve Biko-straat, een om 09:30 en een tussen 15:30 en 19:30.
Vrydag 3 Augustus is daar vyf voorvalle van diefstal vanuit ’n voertuig aangemeld.
Om 07:15 was daar ’n voorval in Walter Sisulustraat, om 09:00 in Borriusstraat, om 11:00 in Ross-straat, om 15:00 in Forsmanstraat en om 16:45 in Hennie Swanepoelstraat. Saterdag 4 Augustus is daar nog vyf voorvalle aangemeld. Een voorval het Saterdagoggend tussen 01:30 en 06:00 in Sitastraat plaasgevind, nog een was om 02:30 in Piet Bosmanstraat, om 08:00 in Byers Naudelaan, om 21:00 in Nelson Mandelastraat en tussen 22:10 en 22:50 was daar nog ’n voorval in Steve Bikostraat.
Mooirivier Beskerming het op hul Facebookblad gesê daar het opmerklik baie voorvalle die afgelope paar weke plaasgevind waar rowers voertuie se seine ontwrig het sodat die voertuig nie sluit wanneer motoriste die sluit-knoppie op hul afstandbeheerders druk nie.

Mooirivier Beskerming het inligting verkry wat daarop dui dat dieselfde groep mense verantwoordelik kan wees vir die meeste van die misdade en dat hulle verskillende voertuie gebruik om die misdade te pleeg.

Hulle het ’n profiel van die verdagtes saamgestel en ure-lange soektogte na die misdadigers is van stapel gestuur.
Maandagaand het hulle van die verdagtes in ’n parkeerarea voor ’n winkel in Govan Mbeki-rylaan opgemerk, waarna hulle twee van die verdagtes vasgetrek het.
Daar is blykbaar ’n toestel in hul besit gevind wat gebruik word om seine te ontwrig.
Manyoba sê diefstal vanuit voertuie is nou ’n baie groot probleem in Potchefstroom en motoriste moet dubbel seker maak dat hul voertuie wel gesluit is voordat hulle dit verlaat.
Sy sê nadat die sluit-knoppie gedruk is moet motoriste eers aan die motordeure voel om seker te maak die deure is wel gesluit.
Sy sê ook voertuie moenie vir te lank alleen gelos word nie. Gaan kyk gereeld of alles by die voertuig nog reg is.
Waardevolle items moet ook liefs nie binne voertuie gelos word nie.
Sluit dit eerder in die kattebak toe of neem dit eerder saam.

  AUTHOR
Marianke Saayman
Journalist

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazetteSedibeng SterVaal Weekblad
Top